Geskryf deur: Radio Tygerberg 104FM 
Artikelbron: Artikel verskaf 

Daar was trane van vreugde toe Radio Tygerberg 104FM en die Atterbury Trust onlangs by Natasha* se kantore opgedaag het om haar te verras.

Radio Tygerberg 104fm het luisteraars gevra om persone te nomineer wat tydens hierdie moeilike omstandighede sukkel om hulle kinders se skoolfooie te betaal en daar is hope nominasies ontvang. “Ons is oorval met nominasies wat dui op die uitdagende ekonomiese omstandighede waarin ons tans leef,” sê Rikus van Rooy, stasie-en programbestuurder by Radio Tygerberg.

Mishandel
“Natasha se storie het egter ons harte aangegryp,” vertel Benescke Janse van Rensburg, bedieningshoof by Radio Tygerberg 104FM. “Natasha het ’n negejarige seun, Lennie*, wat in bitter slegte omstandighede groot geword het en ook gereeld mishandel is, ingeneem.”

“Lennie is in my sorg geplaas en hy het ons harte vanaf dag een gesteel. Hy is ’n vrolike, saggeaarde en seun met goeie maniere wat van soveel vreugde ontneem is,” vertel Natasha. “Hy waardeer die kleinste dingetjies en sê soms drie keer dankie vir iets so eenvoudig soos ’n sjokoladetjie in sy kosblik.”

Atterbury Trust
Hierdie verhaal het die harte van Surisa Schwalb en Zahn Hulme van die Atterbury Trust so aangeraak dat hulle besluit het om R20 000 vir Lennie se skooluitgawes te skenk. “Nie almal kan vir hulle kinders se skoolfonds betaal nie en ons voel dat opvoeding iets is wat ons land kan verander, hetsy die rede hoekom ons by die Radio Tygerberg 104FM se skoolfondsprojek betrokke geraak het” vertel Hulme.

Afgesien van die fondse vir Lennie se skooluitgawes, het Anton Brink en Rouchelle Liedemann, aanbieders van Ontbyt, Natasha verdere goeie nuus meegedeel dat SPAR Wes-Kaap R10 000 se kruideniersware aan haar skenk.

Janse van Rensburg het afgesluit en gesê: “Radio Tygerberg vier vanjaar 30 jaar van uitsendings en ons gaan vanjaar verskeie sulke impakprojekte aanpak.”

*Skuilname

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/03/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here