Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

In hierdie gebroke wêreld ken swaarkry geen perke, tyd of plek nie. Onlangs het ’n verwoestende brand ’n huis in die Elsiesrivier-gemeenskap verswelg en drie gesinne en hulle kinders met niks anders as die klere aan hulle lyf gelaat nie. Gelukkig het Charlene Skippers, ’n lid van die gemeenskap, ingetree om hoop te bring toe alle hoop in die as gelê het. Sy het skuiling en kos vir al drie gesinne voorsien en was ’n lewende voorbeeld van wat dit beteken om mekaar se laste te dra.

Voorbeeld van die vroeë Kerk
Die Sondag daarna het Radio Kaapse Kansel ’n telefoonoproep ontvang oor die tragiese situasie. Handelinge 4:32 herinner ons aan die hand van die vroeë Kerk om ons besittings met mekaar te deel en eensgesind te wees. “Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel.”

Die Here het voorsien
Kaapse Kansel het onmiddellik as gemeenskapsradiostasie gereageer en kon deur God se genade die benodigdhede koop: alles van babadoeke en babamelk, selfone, komberse, ’n maand se voorraad kos, tekkies, sweetpakke, skoolskoene en klere tot toiletware. Bydraes van wonderlike luisteraars is ook ingesamel. Daar is na elkeen se behoef-tes omgesien: babas, tieners en bejaardes. Die Here het aan Kaapse Kansel voorsien om aan die gemeenskap te kon voorsien.

Spanwerk maak droomwerk!
Dr. ds. Mary-Ann Prinsloo van HGTS Vervoerdienste is spesifiek bedank vir die bus wat verskaf is aan die Kaapse Kansel-span om al die goedere vir die gemeenskap in Elsiesrivier af te lewer. Pastoor Brian Sives van Golgota Baptiste Sendingkerk het die span hartlik verwelkom en in Elsiesrivier ontvang. Daar het hulle tyd saam met die mense deurgebring wat deur die brand geraak is en geluister na hulle belewenis van die traumatiese gebeure. Dit herinner ’n mens net weer hoe belangrik dit is om mekaar in nood te bemoedig en by te staan.

Deernis met slagoffers
Die Kaapse Kansel-span het na die uitgebrande gebou gaan kyk terwyl die vroue vertel het hoe mure en hekke afgebreek moes word om te ontsnap terwyl die verswelgende vlamme al hulle besittings vernietig het. Om tyd saam met hierdie gesinne deur te bring en die pyn in hulle oë te sien, het geen hart onaangeraak gelaat nie.


Wanda Bam, waarnemende stasiebestuurder van Kaapse Kansel, en dr. ds. Mary-Ann Prinsloo

Geloof in aksie
Radio Kaapse Kansel is dankbaar dat sy span kon bydra om vir elkeen wat deur hierdie verwoestende brand geraak is hoop op ’n nuwe begin te bring. Geloof in aksie behels dikwels om te gee, maar ook om baie meer te ontvang as wat jy kan gee. Ons dank God vir sy voorsiening. Hy het aan Kaapse Kansel voorsien sodat Hy aan ander kon voorsien. Mag ons almal voortgaan om mekaar te dien deur die genade en deernis van Jesus Christus.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 1/07/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here