Artikelbron: Verskaf
Kyle Jantjies is ’n 27-jarige wedergebore gelowige en die seun van ’n pastoor. Hy is ook ’n onderwyser en molekulêre bioloog wat vinnig besig is om ’n bekende naam in talle huise te word as ’n skrywer van fantasiefiksie en avontuurromans. In ’n wêreld waar towery, heksery en geestelike wesens die hoofstroom-fantasiefiksie oorheers, word hierdie jong skrywer altyd gekonfronteer met die vraag – kan Christene fantasiefiksie lees?
“Ek is een van dié wat van die fantasiewêreld hou – ’n wêreld wat ons aanmoedig om ’n bietjie ons verbeelding te gebruik,” sê Kyle.
As ’n skrywer skep Kyle met ’n baie aktiewe verbeelding die wêrelde waarin hy graag wil lewe en beskryf hy avonture wat hy graag self sou wou beleef. Sy boek, The GLOAT – the Greatest Loser of All Time, handel oor ’n avontuur om ’n dinosourus in die Kongo te vind. Dit is blykbaar ’n avontuur wat Kyle self wou aanpak, maar het nie die fondse gehad om te doen nie, dus het hy ’n storie daaroor geskryf.
Hy glo dat lees, en veral die lees van fiksie, ’n mens aanmoedig om te droom, om te vra “wat as”, om te innoveer en om norme uit te daag. As ’n uitstaller en spreker by die onlangse Comic Con-fees het hy eerstehands die behoefte aan Christelike skrywers besef om meer invloed uit te oefen in ’n genre wat deur die vyand gebruik word om mense te manipuleer en te mislei.
“As Christelike skrywers het ons ’n geleentheid om anders te wees as die kultuur om ons,” sê Kyle. “Ons kan vermaaklike inhoud skryf wat die grense van ons verbeelding verskuif, terwyl ons ons steeds oordeelkundig onderskei wat goed is,” voeg hy by.
“Ek glo vas dat God ’n kreatiewe God is en as sy handewerk wat na sy beeld geskep is, het ons die voorreg om uitdrukking aan sy kreatiwiteit op aarde te gee,” gaan Kyle voort. Literatuur is ’n vorm van kuns, ’n vorm van kreatiewe uitdrukking en ons kan nie die wêreld toelaat om elke vorm van skeppende kunste te verdraai nie. Veral nie tot in so ’n mate dat dit vir Christene onveilig en onsmaaklik is om aan deel te neem nie,” voeg hy by.
Sy onlangse aanbieding by Comic Con het gehandel oor die stand van fantasie en avontuur in Suid-Afrika. Terwyl daar baie wonderlike skrywers in Suid-Afrika is en geen tekort aan inhoud en kreatiwiteit is nie, is die lesersmark meer geïnteresseerd in niefiksieboeke met 80% niefiksie wat in Suid-Afrika verkoop word en slegs 20% fiksie. In sy aanbieding het hy verduidelik hoe die teenoorgestelde in Amerika waar is. Die hoër persentasie boeke wat verkoop word, is fiksie 60% en 40% niefiksie.
“Ons geslag het meer vermaak om van te kies as enige geslag voor ons,” sê Kyle. “Ons moet ’n kultuur van lees aanmoedig,” voeg hy by. “Lees is beter vir die verstand, dit oefen die brein, verbeter konsentrasie en help selfs om stres te verminder,” is sy mening.
Kyle voeg die daad by die woord. Hy het ’n boekklub begin by die skool waar hy onderrig sowel as by die Universiteit. Hy is ’n gereelde spreker by boekklubs, biblioteke en jeuggeleenthede en lees gereeld hardop vir sy leerders om hul belangstelling in lees te prikkel.
Hy het in 2021 self sewe boeke geskryf en gepubliseer; hy het ’n versameling van 13 titels onder sy naam. Hy het vroeër vanjaar ’n solo-avontuur (saam met sy hond) onderneem om van Mitchell’s Plain na Ceres te stap. Avonture van hierdie aard sowel as sy gevegskunsopleiding en sy opleiding as wetenskaplike help hom om in diep insigte te delf as inhoud vir sy verhale.
Kyle wil graag Christelike skrywers met ’n belangstelling in fantasiefiksie en avontuur aanmoedig om daardie kant van hul kreatiwiteit te verken en inhoud te produseer wat veilig is vir hierdie geslag om te geniet.
“Fantasiefiksie wat deur Christelike waardes geïnspireer is, kan gebruik word as ’n allegorie vir die beginsels van die Bybel, van die goeie wat die bose oorwin, van die geestelike ryk wat ons daaglikse lewens beïnvloed. Dit kan gebruik word as ’n kunsvorm om God te verheerlik en mense aan Hom voor te stel,” sluit Kyle af.
Besoek https://www.kylejantjiesauthor.com om ons meer oor Kyle uit te vind of hom te kontak om as spreker op te tree.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/05/2023
Foto: facebook.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.