Geskryf deur: Alex Pollock
Artikelbron: incontextinternational.org

Daniel Ortega, die president van Nicaragua, en sy Sandinista-party het die permit van Nicaragua se tak van die Rooi Kruis op Woensdag, 10 Mei, herroep in die mees onlangse vlaag sluitings en verbannings van organisasies wat deur Ortega as ’n bedreiging vir sy presidentskap beskou word.

Die regering het die Rooi Kruis beskuldig van “aanvalle op vrede en bestendigheid” omdat hulle beseerde betogers gedurende die antiregeringbetogings van 2018 behandel het. Sedert daardie betogings het Ortega die sosiale struktuur van die land aansienlik verander deur die sluiting van meer as 3 000 liefdadigheids- en nie-regeringsorganisasies asook sosiale welsynsgroepe.

Pres. Ortega is sedert 2018 gekritiseer omdat hy politieke teenstanders teiken, in die tronk stop en uit die land verban. Gedurende die afgelope maande is 222 politieke gevangenes van hul burgerskap van Nicaragua gestroop en na Amerika gestuur. Een Rooms-Katolieke biskop wat geweier het om aan boord ’n vlug vir bannelinge te gaan, is uiteindelik tot 26 jaar gevangenisstraf gevonnis. Talle Rooms-Katolieke welsynsorganisasies en universiteite is in die mees onlangse ronde van sluitings deur die regering toegemaak.

In antwoord op die sluiting van die Rooi Kruis het die Internasionale Federasie van die Rooi Kruis (IFRK) ’n verklaring uitgereik wat lui: “Die IFRK is diep besorg oor die ontbinding van ons lid, die Rooi Kruis van Nicaragua. Hierdie situasie kan die uiters noodsaaklike humanitêre aktiwiteite in die land, sowel as die werk van personeel en vrywilligers, in gevaar stel.” Wetgewing in Nicaragua het voorgestel dat die Rooi Kruis vervang moet word met ’n “nuwe Nicaraguaanse Rooi Kruis” wat onder die land se ministerie van gesondheid sal val. Daar bestaan egter vrese dat hierdie ministerie nie oor die begroting beskik om so ’n bedryf in stand te hou nie. Aktiwiteite van die Rooi Kruis in Nicaragua sluit programme in om geweld te voorkom, toegang tot gesondheidsorgdienste te vergemaklik en te reageer op die toenemende aantal natuurrampe wat die land in die afgelope aantal jare moes trotseer.

Die sluiting van gemeenskapsorganisasies het ’n groot leemte in die gemeenskap gelaat wat gevul moet word ten einde die agteruitgang van mense se lewensomstandighede te verhoed. Volgens die Verenigde Nasies se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge (VNHKV) het meer as 100 000 mense Nicaragua in die laaste twee jaar verlaat weens die gevaar en onrus in die land. Die vakuum wat in die maatskaplike dienste en hulpsektore gelaat is, skep geleenthede vir die Kerk om in te tree en die liefde van Christus op ’n praktiese wyse aan mense te demonstreer.

In 2020 het net meer as 30% van mense in Nicaragua (ongeveer twee miljoen) onder die broodlyn gelewe. Alhoewel Christene dieselfde belewing van liggaamlike lyding as ongelowiges die hoof moet bied, beskik hulle wel oor die vrede wat alle verstand te bowe gaan (Filippense 4). In Johannes 16:33 sê Jesus vir sy dissipels dat hulle dit moeilik in die wêreld sal hê, maar dat hulle moedig moet bly omdat Hy die wêreld klaar oorwin het. Dit is die boodskap wat hoop in sukkelende gemeenskappe kan bring en wat mense kan bemoedig om standvastig te bly ondanks toenemend moeilike omstandighede.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat Nicaragua se regering die welsyn van die bevolking in ag sal neem terwyl hulle politieke besluite neem,
  • dat die Here die Kerk in Nicaragua sal toerus en bemagtig terwyl hulle poog om in te staan waar die sluiting van welsynsorganisasies, NRO’s en gemeenskapsgroepe ’n gaping gelaat het, en
  • dat die wêreldwye Kerk sal aanhou om vir Nicaragua te bid – spesifiek vir die verbetering van lewensomstandighede in die land.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 18/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here