Geskryf deur: Alex Pollock
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Vrydag 10 Maart het Iran en Saoedi-Arabië ’n ooreenkoms onderteken om diplomatieke verhoudinge te herstel nadat daar vir sewe jaar onenigheid was. Saoedi-Arabië, met ’n Soenni-meerderheid en Iran met ’n Sjia-meerderheid, wat aan byna elke front haaks was, het in 2016 alle bande verbreek nadat Saoedi-Arabië vir Nmir al-Nmir, ’n prominente Sjia Moslem geestelike, om die lewe gebring het en grootskaalse protesaksie by die Saoedi-ambassade in Tehran meegebring het.
Die bilaterale ooreenkoms is deur China bemiddel nadat dialoog voorheen in Irak doodgeloop het. Die ooreenkoms bepaal dat albei lande binne twee maande hul ambassades en ambassadeurs sal hervestig en dat hulle handels-, beleggings-, en kulturele programme sal hervat.
Ondanks verskeie rondtes samesprekinge wat die afgelope twee jaar plaasgevind het, het die ondertekening van ’n ooreenkoms weens die diepgesetelde verdeeldheid tussen die twee nasies vir talle waarnemers en analiste as ’n skok gekom. Baie ander lande in die streek het egter die ooreenkoms verwelkom as ’n potensiële deurbraak ten opsigte van sekureiteit in die streek, maar ook die mening uitgespreek dat die verdeeldheid tussen Saoedi-Arabië en Iran nie reggestel kan word bloot deur die ondertekening van ’n dokument nie. Die wyse waarop ’n ooreenkoms tussen twee hoogs invloedryke nasies in die streek bereik is, kan verskeie uitkomste tot gevolg hê wat die bevordering van die Koninkryk in die streek positief of negatief kan beïnvloed, maar sommige hiervan sal dalk eers mettertyd duidelik word. Die belangrikste en mees opvallende gevolge kan egter in verskeie streekskonflikte wees – waar die twee nasies opponerende kante ondersteun – insluitend in Libanon, Sirië, Irak, en waarskynlik die mees prominente konflik, in Jemen.
Die oorlog in Jemen wat nou reeds agt jaar lank duur, is juis tussen die Houthi-rebelle wat deur Iran gerugsteun word en regeringsmagte wat deur Saoedi-Arabië ondersteun word. Die situasie het konstant agteruitgegaan en die oorlog wat bemagtig word deur Saoedi-Arabië aan die een kant en Iran aan die ander kant, het Jemen gedryf tot wat al as die wêreld se ergste humanitêre krisis beskryf is. ’n Bron wat bekend is met die omstandighede rapporteer dat daar hoop binne Jemen bestaan dat hierdie ooreenkoms vrede sal bring, maar dit sal baie meer as een ooreenkoms verg om die nasie van Jemen en sy mense te herstel.
Die Christelike bevolking in Jemen is uiters gering (0,2% volgens The Joshua Project) en funksioneer as ’n “ondergrondse” kerk. Afgesien van die humanitêre krisis wat die hele Jemen affekteer, kom Christene ook voor erge vervolging te staan. Die potensiële uitvloeisel van hierdie ooreenkoms en hoe dit in werklikheid die Christen-gemeenskap sal affekteer, is steeds onbekend en die broosheid en kompleksiteit van die situasie maak dit moeilik om die uitkoms te voorspel. Analiste van die Soufansentrum rapporteer dat daar in Jemen ’n groter waarskynlikheid van vrede in 2023 bestaan as in die konflik in Sirië en Libië. Die analise verwys na hierdie nuwe ooreenkoms, asook die wapenstilstand van agt maande wat nie-amptelik gegeld het sedert die verstryking daarvan in Oktober 2022.
Voordat die ooreenkoms onderteken is, het Saoedi-Arabië ook ’n bykomende $1 miljard se hulp vir Jemen in die land se sentrale bank geplaas om die ekonomie ’n hupstoot te gee. In oorleg met die Verenigde Nasies (VN), het Saoedi-Arabië ooreengekom om die beperkings op aflewerings aan die hawe van Hodeidah, wat deur die Houthi’s beheer word, te verlig in ’n poging om die lyding te versag. Daar word vereis dat goedere wat aan dié hawe gelewer word, gefynkam en deur die VN ondersoek moet word om te voorkom dat wapens verskeep word, maar ’n regeringsamptenaar van Jemen het die media meegedeel dat groter toegang tot die hawe ’n “stap is om vertroue te skep en daarop gemik is om samesprekings tussen Saoedi en die Houthi’s te ondersteun met die oog op die herinstelling van die wapenstilstand.”
Jemen benodig desperaat hulp en die voorsiening van noodleniging is een manier waarop die wêreldwye Kerk ’n verskil kan maak in die lewens van die mense van Jemen. Matteus 25:35-36 en 40 praat oor die noodsaaklikheid dat die liggaam van Christus moet hulp verleen aan behoeftiges, “want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek. Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.” Die Kerk moenie moeg word om goed te doen nie (Galasiërs 6:9), maar moet voortdurend diegene in Iran, Saoedi-Arabië, Jemen, en deur die hele streek in gebed voor die Here bring.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die verlange na vrede in hierdie onbestendige streek – wat nooit ten volle bloot deur wêreldse ooreenkomste bereik kan word nie – ’n honger en begeerte om die Vredevors te leer ken, sal teweegbring,
- dat die vredesooreenkoms werklik voetsoolvlak in Jemen sal bereik en dat al die rolspelers sal saamwerk deur toe te laat dat die broodnodige hulp al die mense bereik, en veral dat hulle nie sal diskrimineer en minderheidsgroepe soos Christene sal uitsluit wanneer hulp toegewys word nie, en
vir die mense van Jemen namate hulle die oorgang maak van oorlog en wydverspreide wantroue, tot normalisering van verhoudinge en lewe, en dat die Christengemeenskap die geleentheid sal hê om die beeld van Christus te toon deur die gebrokenes van hart en die wat hoop verloor het, te bedien.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 17/03/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.