Geskryf deur: Chris Eden, Bridges for Peace
Artikelbron: Artikel verskaf
Tydens die pro-Hamas-saamtrek wat op 11 November in Kaapstad gehou is, het Mandla Mandela van die podium af ’n beroep op teenwoordiges gedoen om die byeenkoms van Christene op die Seepunt-promenade op Sondag 12 November te ontwrig.
Ondanks die goedkeuring deur die Stad Kaapstad en die polisie vir die vreedsame gebedsbyeenkoms en die weiering van goedkeuring vir ’n protesoptog teen die gebedsbyeenkoms, is gehoor gegee aan die oproep van Mandela. Dit het tot ’n walglike vertoning van boewery gelei wat sterk polisie-ingryping vereis het en dat die Christelike gebedsbyeenkoms deur die polisie gekanselleer moes word in belang van openbare veiligheid.
Die geweld wat op kamera vasgevang is, sluit in die teistering van Christen-deelnemers in, asook vlae wat uit mense se hande geruk is en toe verbrand is. Die geweld het uitgeloop op die arrestasie van verskeie Hamas-ondersteuners en die konfiskering van twee vuurwapens.
As mede-organiseerders van hierdie gebedsgeleentheid, veroordeel ons die onwettige byeenkoms deur Hamas-ondersteuners en die voorbedagte rade om die vergadering gewelddadig te ontwrig en Christene sodoende te verhoed om ons grondwetlike reg uit te oefen om byeen te kom en vir Israel en Suid-Afrika te bid. Ons doen ook ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering, die ANC en ander partye om op te hou om woede teen Israel, die Joodse gemeenskap en Christelike ondersteuners van Israel aan te hits.
Ons prys die geskatte 3 000 Christene en Joodse mense wat die geleentheid wou bywoon en verklaar dat ons stemme ter ondersteuning van Israel nie stilgemaak sal word deur boewe en wettelose gedrag nie. Ons doen ’n beroep op die polisie om diegene wat skuldig is aan hierdie gedrag te vervolg en doen ook ’n beroep op die owerhede om alle aansoeke vir optogte en saamtrekke deur diegene wat die kerk-geïnisieerde gebedsbyeenkomste wil ontwrig, nie toe te staan nie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 15/11/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.