Artikelbron: jpost.com/christianworld
Die International Fellowship of Christians and Jews (IFCJ) het volgens ’n berig van The Jerusalem Post $3.2 miljoen bewillig om plaaslike noodreaksie-eenhede in Israel by te staan. Vrygewige Christen-ondersteuners wêreldwyd het finansieel bygedra sodat die fondse gebruik kan word om die noodreaksie-eenhede toe te rus met lewensnoodsaaklike lewensreddende toerusting en gepantserde voertuie.
“Tot op hede is die fondse wat deur IFCJ ingesamel is, gebruik om 4 820 koeëlvaste baadjies (flak jackets), 2 900 helmette en 500 noodhulpstelle vir noodhulpspanne bekom. Hierdie noodsaaklike voorrade is vinnig versprei na honderde noodreaksie-eenhede wat plaaslike gemeenskappe beskerm,” lui die berig van The Jerusalem Post.
Volgens die berig was een noemenswaardige aflewering ’n pantservoertuig vir Askelon. Sulke voertuie stel reaksiespanne in staat om voort te gaan met hulle diens aan die gemeenskap, selfs te midde van die gevaar.
Die IFCJ het reeds oor die afgelope paar jaar vier soortgelyke gepantserde voertuie aan plaaslike veiligheidspanne in die Gasa-grensgebied geskenk. Hierdie voertuie het glo ook ’n deurslaggewende rol gespeel om lewens te help red na die terreuraanvaal op 7 Oktober.
“Die toewyding van miljoene Christene en Jode wêreldwyd wat skouer aan skouer staan met Israel en alles in hulle vermoë doen om die mense van Israel te help beveilig, is ’n inspirasie vir ons almal,” het Yael Eckstein, die president van die IFCJ gesê, berig The Jerusalem Post.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 16/11/2023
Foto ter illustrasie: pixabay.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.