Geskryf deur: Liezl Barnard
Artikelbron: febaradio.co.za
“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.” (Galasiërs 6:9, 1983-vertaling)
“Ek hou daarvan om na julle radioprogramme oor verskillende onderwerpe soos gesondheid en die Tibettaanse wêreld te luister,” skryf Tenzin*, ’n Tibettaanse luisteraar wat deelneem aan Far East Broadcasting Association (FEBA) se Gawelyon-projek.
Hierdie uitreikprojek verkondig al 33 jaar lank die Evangelie van Christus aan Tibettane binne Tibet, sowel as reg oor die wêreld aan die diaspora. “Ek geniet dit ook om na julle liedjies te luister, wat baie goed is. Hou vol met die werk wat julle doen.”
Tibet staan bekend as “die dak van die wêreld”. Sy pragtige landskap spog met reusagtige berge en plato’s wat so hoog is dat slegs Tibettane daar kan floreer, te danke aan ’n genetiese mutasie wat hulle in staat stel om gemaklik asem te haal by 4 500 meter bo seespieël. In die skadu van hierdie skoonheid is daar egter baie pyn. Honderdduisende Tibettane het al uit hul tuisland gevlug weens politieke of ekonomiese redes en vandag is daar sowat 6,5 miljoen Tibettane in die wêreld versprei.
Die Gawelyon-projek gebruik kortgolfuitsendings om uit te reik na Tibettane en inwoners van die Himalaja-streek. Onderwerpe soos kos en voeding, voorkoming van siektes, omgewingsake, sanitasie en gesondheid word bespreek, asook die Christelike geloof. Die span saai weekliks drie 30-minuut-programme in die taal van Sentraal-Tibet uit en deel fisiese kopieë van Christelike en gesondheidsverwante lektuur aan mense uit. Hulle doen ook moeite om met luisteraars, van wie sommige in kampe woon, in verbinding te tree en hulle deur moeilike tye te ondersteun.
Dwelmmisbruik onder die Tibettaanse jeug is toenemend ’n bron van kommer. Die Gawelyon-projek werk nóú saam met jongmense om vir hulle selfstandigheid aan te leer en met vaardighede toe te rus.
Dit is om verskeie redes ’n moeilike veld om te ploeg. Eerstens is Tibettaanse Boeddhisme diep in Tibettaanse kultuur verweef; tweedens bring China se teenwoordigheid baie van dieselfde inperkings waarmee Christene in China te doen kry en derdens het Tibet se dekadelange stryd vir onafhanklikheid baie van sy mense met diepgesetelde trauma gelaat. Dit kan dikwels moeilik wees vir FEBA se mense, wat saad moet saai sonder enige teken van groei vir lang tye. Daarom is dit vir hulle altyd bemoedigend om van luisteraars te hoor en hoewel dit stadig mag voel, is daar groei: die span het in die afgelope jaar 75 nuwe kontakte by hul databasis gevoeg!
“Ons hou dit altyd in gedagte dat ons die Goeie Nuus met soveel as moontlik mense moet deel,” sê een van FEBA se spanlede, “sodat baie mense ons Redder, Jesus, mag leer ken en vertrou. Om die saad te plant is nie maklik nie, die grond is hard, maar ons word bemoedig deur die belofte dat die saad in God se tyd sal groei en vrug dra.”
Vir meer inligting oor FEBA, besoek gerus www.febaradio.co.za of kontak ons kantoor by 012 335 5708.
*Skuilnaam
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 16/11/2023
Foto: febaradio.co.za
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.