Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Onderwys is die grondslag van ’n nasie se ekonomiese vooruitgang en sosiale ontwikkeling. Ongelukkig kon die onderwysstelsel in Suid-Afrika nie byhou en die nodige resultate lewer om die land voort te dryf na ’n oorgang uit sy derdewêreldstatus nie. Die redes is uitgebreid, maar as ’n nasie moet ons vorentoe kyk en tot betekenisvolle aksie oorgaan as ons die potensiaal van ons ryk kulturele erfenis, natuurlike hulpbronne, kollektiewe vermoëns en vaardighede wil ontsluit.

Mandla Mthembu, die bedryfshoof van Accelerated Education Enterprises, is vol vertroue dat Suid-Afrika die onderwysuitdagings suksesvol die hoof sal kan bied. Hy voeg egter by dat dit kollektiewe toewyding sal verg en hy glo dat die Christen-gemeenskap ’n proaktiewe rol moet speel.

Wat moet gedoen word om onderwys in SA te verbeter?
Dit is ’n baie wye vraag. Kom ons begin deur net ’n paar van die huidige struikelblokke uit te lig wat ons terughou.

  • Wetgewende raamwerk: Die eerste stap om toestande te skep vir verskeie maniere om toegang tot kwaliteitonderwys te skep, is die behoefte aan ’n wetgewende raamwerk wat voorsiening maak vir die bestaan van onafhanklike skole wat hulle eie filosofie, geloof, etos en godsdiens volg. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal dat almal, insluitend ouers, “die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en opinie het”. Die Grondwet beskerm die regte van lede van “kulturele, godsdiens- en linguistiese gemeenskappe om hulle kultuur en godsdiens te beoefen”. Ouers het die reg om skole te kies wat toepaslik uitdrukking gee aan hulle kulturele en godsdiensoortuigings. Huidige wetgewing en regeringsbeleid is nie in ooreenstemming met hierdie basiese vryhede en regte – soos verskans in ons Grondwet – nie.
  • Toegang tot onderwys: Een van die dringendste kwessies in Suid-Afrikaanse onderwys is om vir alle studente gelyke toegang te verseker, ongeag hulle sosio-ekonomiese agtergrond. In 2021 was die skoolbywoning van vroeëkinderontwikkelingsfasliteite slegs 18,1% in die armste inkomstegroep en byna driedubbel soveel, tot 60,3%, vir die hoogste inkomstegroep. Daar is baie bydraende faktore, maar die harde werklikheid is dat te veel kinders van ’n baie jong ouderdom af net nie toegang tot kwaliteitonderwys kry nie.
  • Gehalteonderwys: Die lewering van onderwys moet beskou word as ’n ekosisteem wat bestaan uit kurrikulums, onderwysersopleiding en -ontwikkeling, ’n voldoende leerproses, onderwyshulpbronne en -materiaal, fasiliteite, assesseringsmiddele en ouerbetrokkenheid, om maar ’n paar te noem. Ons benodig ’n samewerkende (private en openbare) strategie om oplossings vir hierdie kwessies te vind. As Christene moet ons ons rol as ouers erken en baie ernstig opneem. Die Kerk behoort eweneens sy verantwoordelikheid in die onderwys ernstig op te neem. God het ons beveel om ons kinders te leer om die regte pad te kies sodat hulle nie daarvan afwyk nie, selfs wanneer hulle oud is (Spr 22:6).

Wat is die kurrikulumsituasie en wat kan gedoen word om dit te verbeter?
In Suid-Afrika volg ons die Nasionale Kurrikulumverklaring (die nasionale kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring – KABV, ook bekend as CAPS). Hiermee word die nasionale senior sertifikaat/matriek verwerf. Dit is ’n omvattende beleid wat daarop gemik is om te verseker dat kinders kennis en vaardighede op ’n sinvolle wyse verwerf. Dit bevorder opvoedkunde binne ’n plaaslike konteks terwyl dit sensitief is vir globale verpligtinge. Hoewel KABV ’n omvattende kurrikulum is, bly die implementering daarvan met betrekking tot minimum standaarde vir ’n leerder om te slaag, die laagste in die wêreld. Wat Christelike onderwys betref, maak die Grondwet slegs voorsiening vir die eerbiediging van godsdienstige vierings. Niemand leer ons kinders oor die waarheid van God se Woord deur vakke soos Bybelkunde nie. Hulle ontvang geen leiding met betrekking tot hulle verlossing en geestelike lewe nie. Ek sê nie dat daar geen Christene in ons skole is wat goeie werk doen om kinders te onderrig nie, maar die kurrikulum maak nie voorsiening vir ware Christelike onderwys nie.

Wat is ware Christelike opvoeding?
Christelike onderwys integreer geloof en waardes in die akademiese kurrikulum en die algehele opvoedkundige ervaring. Dit verseker dat buiten die oordrag van kennis ook die geestelike, morele en etiese ontwikkeling van studente in ooreenstemming met Bybelse beginsels aangemoedig word. Geloof en om te leer word in elke vak geïntegreer en karakterontwikkeling word by elke geleentheid beklemtoon. Die omgewing skep ook geleentheid vir gebed, aanbidding, oordenking en leiding in die ontwikkeling van ’n verhouding met God.

Party mense sal dalk vra of Christelike onderwys kinders vasgevang hou in ’n outydse stelsel wat hulle nie vir die uitdagings van die werklike wêreld voorberei nie?
Soos enige suksesvolle onderwys- of kurrikulumstelsel is akademiese uitnemendheid noodsaaklik. Christelike onderwys kan hoogstaande akademiese resultate lewer – en doen dit inderdaad. Die klem moet op relevante inhoud en die ontwikkeling van vaardighede soos probleemoplossing en kritiese denke val. Innoverende, uitstekende onderwys kan beslis bereik word terwyl kinders steeds die eeueoue Bybelse beginsels van ’n lewe wat in Christus geleef word en al die potensiaal wat dit inhou, leer.

Bestaan ware Christen-skole? Word daar ’n ware Christelike kurrikulum gebruik?
Ja, hulle bestaan wel en gebruik ’n verskeidenheid alternatiewe kurrikulumprogramme. Die Accelerated Christian Education- (A.C.E.-)kurrikulum is een van die vernaamste Christelike kurrikulumprogramme wat in Suid-Afrika aangebied word. Daar is ook organisasies van Christen-skole wat onderwys aanbied gerugsteun deur Christelike waardes.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 03/10/2023
Foto: Mandla Mthembu

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here