Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: incontextinternational.org
Op Woensdag, 14 Junie, het ’n vissersboot met tussen 400 en 750 mense aan boord aan die kus van
Griekeland omgeslaan en gesink. Aanvanklik het die treiler Egipte verlaat sonder enige passasiers en
onderweg na Italië migrante van Sirië, Pakistan, Afghanistan, en Egipte in die Libanese hawestad
Tobruk opgetel.
Slegs 104 bevestigde oorlewendes is gered, terwyl ten minste 81 liggame gevind is. Honderde ander
word vermis en is vermoedelik dood, insluitende die onbekende aantal mense wat onder die dek
vasgekeer was toe die skip gesink het. Die Griekse kuswag, vloot en handelskepe en vliegtuie het ’n
wye soek- en reddingsoperasie van stapel gestuur, maar die veronderstelling is dat baie liggame nou
verlore is, aangesien die boot in een van die diepste gedeeltes van die Middellandse See gesink het.
Die Griekse owerhede is gekritiseer omdat hulle nie vinniger opgetree het nie. Die Griekse kuswag
beweer dat die boot se passasiers gesê het dat hulle nie hulp nodig het nie, maar dat hulle met hulle
reis wou voortgaan, toe hulp laat Dinsdag aangebied is ná die EU-grensagentskap, Frontex, hulle
daardie oggend bedag gemaak het op die boot se teenwoordigheid. Inligting wat egter deur ander
bronne verskaf is, asook aangemelde teenstrydighede in die inligting wat deur die owerhede vrygestel
is, het twyfel oor hulle weergawe van die gebeure gesaai. Opsporingsdata dui daarop dat die boot vir
ten minste sewe ure skaars beweeg het voordat dit gesink het, eerder as dat dit ’n “konstante koers
en spoed” gehou het soos deur die kuswag beweer is. Die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap
(VNHKV) en die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) het gesê die boot was sedert vroeg
Dinsdag in die nood en “die verpligting om mense in nood op see onverwyld te red, is ’n fundamentele
reël van internasionale seereg”. Ondersoeke gaan voort te midde van inhegtenisnemings wat alreeds
in Griekeland en Pakistan gemaak is.
Op Sondag, 18 Junie, het Franse en Duitse ministers na Tunisië gereis om die regulering van migrasie
en beter maniere om sterftes in die Middellandse See te voorkom, te bespreek. Wettige
migrasieroetes word gesien as ’n maatreël om smokkelhandel te beveg. Wettige roetes het egter
toenemend meer inperkend geraak as gevolg van beperkende Europese beleidsbepalings t.o.v.
migrasie. Op 9 Junie is berig dat ministers van die Europese Unie (EU) ná amper ’n dekade van
meningsverskil ’n ooreenkoms bereik het oor die hantering van onreëlmatige aankomste van
asielsoekers en migrante. Sedert 2015, toe meer as een miljoen mense – meestal asielsoekers wat
voor die oorlog in Sirië gevlug het – die Middellandse See suksesvol oorgesteek het, stry die EU-state
oor voorsiening vir die nuwe aankomelinge.
Ooreenkomste met lande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste om meer mense te verhoed om roetes
na Europa aan te durf, het bygedra tot die vermindering van aankomelinge. Die nuwe gesamentlike
migrasiestelsel van die EU ken ’n gedeelte van die mense toe aan die sorg van elke land of verwag van
die staat om ’n berekende bedrag te betaal om die gasheerlande by te staan. Die ooreenkoms stel ook
’n nuwe versnelde grensprosedure in gebruik vir mense aan wie asiel onwaarskynlik toegestaan sal
word, om te verhoed dat hulle te lank in Europa vertoef. Hierdie beleid kan toegepas word op diegene
wat op see opgetel word, of wat probeer om in te kom via ander onwettige kanale of eers by die grens
om asiel aansoek doen.
Die VNHKV meen dat Woensdag se skeepstragedie moontlik die tweede meeste migrante- en
vlugtelingsterftes op rekord gehad het, naas die verdrinking van 1 100 mense in April 2015, toe ’n
vaartuig tussen Libië en Italië omgeslaan het. Die IOM het die behoefte beklemtoon vir internasionale
samewerking om “’n oplossing te vind vir die gapings in pro-aktiewe soek- en reddingspogings,
vinniger aflaai van passasiers en veilige vaste roetes. Verskeie individue en groepe, asook die
mensehandelaars dra skuld vir die gevaar waaraan hulle die migrante en asielsoekers blootstel.
Skuldiges sluit ook die regerings van die lande van oorsprong in wat verantwoordelik is daarvoor dat
mense uit hulle lande vlug. Die Griekse kuswag is ook beskuldig vir sy ontoereikende reaksie en die EU
vir sy migrasiebeleid wat poog om desperate mense uit Europa te hou.
Die wêreldwye Kerk kan bid dat hierdie gapings, mislukkings, onverskillige houdings, selfsugtige
beleide en opsetlik kwaadwillige aksies hanteer sal word. Hierdie insident weerspieël iets van
wêreldwye kwessies. Hoewel dit ’n tyd is van diepe rou, is dit ook ’n tyd vir besinning.
Nie net moet die wêreld nadink oor hierdie gebeurtenis wat dui op ’n behoefte vir dringende aksie
nie, maar ons behoort ook almal na te dink oor ons eie harte en dade en bely waar ons nie gehoorsaam
was aan God nie en waar ons onverskillig gestaan het teenoor lyding. Ons moet bid dat God sy Kerk
gebruik om sy hande en voete te wees in die gebiede waar sy lig nodig is. Daar is so baie geleenthede
vir die Kerk in Europa om uit te reik na migrante, asielsoekers en vlugtelinge – waar kerke, bedienings,
en NRO’s baie vryliker kan werk as in baie lande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste (insluitende Libië
en Tunisië waarvandaan mense van verskillende lande hulle reis na Europa onderneem).
Mag die Here almal van ons se harte versag en sy Kerk gebruik om sy liefde te betoon aan die
kwesbares en behoeftiges. Elkeen wat verdrink het, was na die beeld van God geskape, gemaak om
Hom te ken en lief te hê (Gen. 1:27, Op. 7:9-10, Mark. 12:29-30). Net so is daar hulle wat nie in staat
is om eens te probeer vlug uit die afskuwelike situasies wat ander gedryf het om hierdie gevaarlike
reise oor die Middellandse See aan te durf nie. Ook hulle is ons gebede, versorging en diens waardig.
Mag ons onthou dat alles wat ons vir diegene in nood doen, ’n uiting is van ons liefde vir God (Matt
25:34-40), wat ons so lief het dat Hy aan ons sy enigste Seun gegee het om vir ons redding te sterf.
(Joh. 3: 16).
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
• Bid dat getraumatiseerde oorlewendes die liefde en vrede van Christus sal ervaar en dat die
families van die oorledenes vertroos sal word,
• Bid dat die EU se migrasiebeleid die hart van God teenoor die vreemdeling sal weerspieël, nie
net aan ander ontheemde Europeërs nie, maar aan alle mense wat na veiligheid soek, en
• dat die wêreldwye Kerk hulle naaste sal liefhê en dat die Europese Kerk pro-aktief sal wees in
die verwelkoming en versorging van migrante, asielsoekers en vlugtelinge.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/06/2023
Foto: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








