Geskryf deur: FEBA Radio SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Stel jou voor ’n jongman sê vir jou: “Ek gaan oormôre na die voorste linies. Daar is nie veel kans om te oorleef nie, maar ek sal veg tot die einde toe. Ek het al so baie gesien en deurgemaak in hierdie oorlog. Ek weet nie wat van my sal oorbly as ek lewendig terugkom nie.” Of ’n vrou wat sê: “Ek het my geliefde man verloor. Ons het drie weke gelede sy ‘begrafnis’ gehou, maar ons het net ontvang wat van sy liggaam oorgebly het. Hy is aan die voorste linies dood. Waar kry ek die krag om aan te gaan?” Of ’n 11-jarige meisie wat SMS: “Ek is bang my ma gaan doodgemaak word, net soos my pa.” Wat sou jy vir hulle sê?

Van alle kante verdruk
Dit is die oproepe en boodskappe waarmee FEBA Oekraïne se beradingspan daagliks werk. Aan die begin van die oorlog was daar vyf beraders; nou is daar meer as 30. Honderde mense kontak die hulplyn elke dag op soek na vertroosting of antwoorde. Die beraders, soos die res van FEBA Oekraïne se personeel, is uitgeput. Een spanlid se ma is onlangs oorlede, terwyl ’n ander een ’n operasie moes ondergaan het. Die alledaagse uitdagings van die lewe hou nie op wanneer oorlog uitbreek nie. Verskeie manlike per-soneellede is opgeroep na die weermag, en sommige dien nou as kapelane aan die voorste linies.

Igor, FEBA Oekraïne se programdirekteur, sê: “Tye is tans baie moeilik. Almal het verliese ervaar. Die voortdurende bombardering het almal uitgeput gelaat. Persoonlik weet ek dat ek enige tyd opgeroep kan word. Die versoeking om in vrees te verval is groot. Ons bekommer ons ook oor ons kinders wanneer ons die lugaanval-sirene hoor, veral wanneer hulle by die skool is.” Om sake te vererger, het die span in September hul derde radiostasie, wat na die besette streek Donetsk uitgesaai het, aan Russiese magte verloor. Die aanvalle op Kijif neem toe – in Maart 2024 het ’n missiel ’n gebou minder as ’n kilometer van FEBA Oekraïne se ateljee af vernietig. Ten spyte van alles hou FEBA Oekraïne aan om uit te saai, te bid, en elke dag hul vrees vir geloof in God te verruil. Hoe doen hulle dit?

“Ons het hierdie skat in kleipotte…”
“God het Homself getrou bewys,” sê Igor. FEBA Oekraïne se bediening het inderdaad soos ’n blom tussen die verwoesting van oorlog gegroei. Vir jare het die span gebid vir ’n lisensie om in Kijif uit te saai, en as gevolg van die oorlog het hulle ’n tydelike een ontvang. Hulle het begin bid vir ’n permanente lisensie, en die Oekraïense regering het die span genooi om hul saak te stel. “Baie van die owerhede was in trane toe hulle die luisteraars se terugvoer oor ons programme hoor,” deel Eduard, FEBA Oekraïne se direkteur. “Ons het gehoop om ’n sewejaar-lisensie te ontvang, in plaas daarvan het ons ’n tienjaar-lisensie gekry! Dit was baie meer as wat ons selfs gedroom het. Ons het nou die geleentheid om die vyf miljoen mense in die groter Kijif-gebied met die Goeie Nuus te bereik vir die afsienbare toekoms.”

Die deel van God se liefde en vrede strek egter verder as net radio. Die behoefte in Oekraïne is nie net oorweldigend groot nie, maar ook kompleks. Soldate en hul gesinne benodig hulp met PTSV, die egskeidingsyfer styg, kinders is bang en tieners sukkel met depressie en selfmoordgedagtes. Dit verg kreatiwiteit om elke groep te bedien, en God hou aan om deure na hulle almal oop te maak. Terwyl die hulplyn vertroosting bring in oom-blikke van wanhoop, reik FEBA Oekraïne se opvolgwerkers uit na luisteraars wat die stasie gekontak het om die gesprek voort te sit. Hulle verbind hierdie luisteraars dikwels met nabygeleë kerke, sodat hulle ander Christene kan ontmoet en verdere antwoorde op vrae oor Christus kan vind.

“Hy het sy arms om die kindertjies gesit”
Die oorlog eis ’n swaar tol op Oekraïne se jongmense. Selfmoord onder tieners neem toe, en FEBA Oekraïne se beraders ontvang dikwels oproepe of boodskappe van jongmense wat na redes soek om nie hul lewens te beëindig nie. FEBA Oekraïne bied byeenkomste aan vir tieners waar hulle hul probleme kan deel, raad kan vra en leer om probleme vanuit ’n Bybelse perspektief te beskou. “Hulle wil regtig met iemand praat, en dit is wonderlik, want ons is daar om hulle te help en om hulle aan Jesus voor te stel,” sê Iryna, FEBA Oekraïne se hoof van die beradingsbediening.

“Hierdie jaar alleen het ons honderde kinders bevriend, wat op hul beurt vriende van Jesus geword het.” In Oktober 2024 het die span ook sagte speelgoedlammetjies uitgedeel in die Pokrovsk-streek, waar die gevegte hewig is. Wanneer jy sy neus druk, skakel die speelding aan en speel enige van die meer as 100 kinderprogramme en aanbiddingsliedjies, asook die Nuwe Testament vir kinders, wat FEBA Oekraïne daarop gelaai het. Een van die spanlede sê: “In plaas daarvan om [sirenes en ontploffings] te hoor voor hulle gaan slaap, kan ons kinders hierdie klein lammetjie vashou as ’n herinnering dat Jesus Christus naby hulle is.”

Nie verpletter nie, nie verlate nie, nie vernietig nie
Terwyl FEBA Oekraïne aanhou om die lig van God se Woord in die duisternis te laat skyn, bly hulle voorbereid vir enige gebeurlikheid. Hulle het onlangs mediese opleiding ontvang sodat hulle weet wat om te doen as iemand in ’n ontploffing beseer word. Hulle hou aan dien as uitgegote wyn, wat liefde en vertroosting bring aan almal wat dit nodig het. “Ons staan hier as brose kleipotte,” sê Eduard, “toevertrou met die mees diepgaande boodskap: God het ons gemaak en het ons lief. Hy het ons sondes vergewe en vir ons Jesus gegee. Kom na Hom toe, almal wat vermoeid en oorlaai is. Draai na Jesus toe.”

VAT HANDE MET FEBA
Indien jy ’n skenking vir hierdie lewensveranderende projek wil maak, besoek asseblief ons webtuiste febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 02/04/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here