Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand Artikelbron: Artikel verskaf
Die Vroue in Beweging-inisiatief, wat pas gestig is, laat nie gras onder sy voete groei nie.
Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel, want hul leuse is “Alles loop nie altyd reg nie”) het die Vroue in Beweging Woensdag in Pretoria bekendgestel.
Renette Bateman en Lizelle Joubert, Helpende Hand-personeel, René Roux, voorsitter van die Vroue in Beweging, Francois Theron, uitvoerende hoof en eienaar van Sox Footwear, en Jacques Pretorius bedryfshoof en stigter van Sox Footwear.
Die Vroue in Beweging gaan met behulp van 17 instellings binne die Solidariteit Beweging poog om vroue te bemagtig. Die doel is om na elke vrou se welstand, opleiding en werk om te sien sodat sy “voluit vrou” kan wees. Die Vroue in Beweging gaan ook kragte met verskeie ander vennote, soos USN en Sox Footwear, saamsnoer om vroue te bemagtig om sterker na vore te tree.
Sowat 200 mense het aan die “Girls Rule Run” deelgeneem as bewusmaking van Borskankermaand in Oktober.
“Sox Footwear het vandag hul “Girls Rule Run”-wedloop by Loftuspark ten bate van die Vroue in Beweging aangebied. Die wedloop was ten bate van ons Boesemvriendinne-projek. Die Boesemvriendinne-projek verskaf gemaklike gebreide borsprosteses aan vroue wat hul borste weens borskanker verloor het en nie duur borsrekonstruksie of silikonprostese kan bekostig nie,” sê René Roux, woordvoerder van Helpende Hand en voorsitter van die Vroue in Beweging.
’n Stel borsprosteses wat met ’n spesiale sagte wol gebrei en gevul word.
“Vir my was dit lekker om te sien dat oud en jonk, man en vrou hierdie inisiatief ondersteun het. Meer as 200 mense het saamgekom om 5km of 10km in en om Loftus Versfeld kaf te draf. Elke deelnemer het ‘’Girls Rule’’-sokkies van Sox ontvang en verfrissings van USN gehad.”
Roux sê hierdie was die heel eerste inisiatief onder die vaandel van die Vroue in Beweging waar deelnemers gehardloop het vir bewusmaking van Borskankermaand in Oktober en om geld in te samel sodat Helpende Hand se ondersteuners meer borsprosteses kan brei. Helpende Hand ontvang R60 van elke inskrywing om breipakkies aan te koop. Elke breipakkie het genoeg inhoud om twee wolprosteses te brei en te stop.
“Ons stuur hierdie breipakkies na plekke soos ons ouetehuise waar ons kranige ouer ondersteuners weer hulle handewerk aanbied om die prostese te brei, vanwaar ons dan in Borskankermaand die prostese aan Kansa gaan oorhandig. So dit is alles vir die gemeenskap van die gemeenskap,” sê Roux.
Besoek www.boesemvriendinne.co.za vir meer inligting of hou www.vroueinbeweging.co.za dop vir meer inisiatiewe.
Vroue in Beweging se agenda vir die volgende twee jaar is om veral te fokus op vroue se geloof, werk en werkplek, geskiedenis, kultuur, opleiding, holistiese welstand, mentorskap, en netwerke en vennootskappe.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 15/08/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.