Artikelbron: Artikel verskaf 

Mosselbaai, Tuinroete (Augustus 2023) – Vanjaar se Mighty Men Konferensie in Mosselbaai (MMCMB23) word van 15 tot 17 Desember by die pragtige Bartelsfontein-plaas gehou. Hierdie spesiale saamtrek met die tema ‘Arise Mossel Bay’ is die breinkind van ‘n plaaslike gebedsgroep genaamd Coffee for Men.

Die voorsitter, Lukas Swart, sê hulle sien daarna uit om 300 000 besoekers te verwelkom tussen Vrydagaand se aanvangs en Sondag, wanneer die konferensie afsluit. Hy word bygestaan met voorbereidings vir hierdie belangrike byeenkoms deur ’n toegewyde komitee, asook veteraan-organiseerder Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations-faam, om te verseker dat alles vlot verloop wanneer ’n rekordgetal Mighty Men in die dorp aanland.

“Ons sprekers beloof om die manne se harte te roer en besoekers kan daarna uitsien om hul geestelike lewe te laat opvlam en ware transformasie tydens ons konferensie te ervaar,” aldus Swart. Maar waar sal hierdie besoekers vandaan kom?

“Ons vertrou dat God die manne sal stuur wat Sy boodskap moet aanhoor – ons skep slegs die platform, Hy sal sorg vir die res. MMCMB23 word op ’n massiewe skaal beplan en sal verskil van enige Mighty Men geleentheid wat vantevore in die provinsie aangebied is. Ons glo dat ons Vader elke man en sy gesin deur die loop van die naweek sal ontmoet. Middel-Desember is die begin van die vakansieseisoen, die hoogtepunt van die jaar, en ons verwag dat besoekers uit elke uithoek van Suid-Afrika na Ikoniese Mosselbaai sal stroom.

“Vakansiegangers van oral in die wêreld bring  tyd in ons land deur en 16 Desember is ’n dag van versoening en ’n openbare vakansiedag. Ons vertrou dat die krag van die Heilige Gees versoening sal bring in gesinne en gemeenskappe in Mosselbaai en elders in ons streek en land,” sê Swart.

Organiseerders is besig om die program te finaliseer.  Die program bestaan uit 48 uur van lofprysing wat om Vrydag 6 nm. afskop, met agt uiteenlopende sessies gedurende die naweek.

“Ons hoop dat besoekers voor of na afloop van die konferensie se aktiwiteite by Bartelsfontein die kans sal gebruik om Ikoniese Mosselbaai te geniet. Die geleentheid is ’n yslike hupstoot vir plaaslike besighede en die breër gemeenskap. Nie net Mosselbaai nie, maar die hele Suid-Kaap sal transformasie deur die Mighty Men-geleentheid ervaar,” sê Swart.

Reëlings
Bywoning van MMCMB23 is gratis, maar registrasie is ’n verseiste vir voornemende besoekers.

Die 15de en 16de Desember is slegs vir mans, maar gesinne word hartlik uitgenooi op Sondag die 17de. Kampplek is beskikbaar teen ’n minimale koste en kampeerders moet hul besprekings op die webwerf voltooi. Baie dagbesoekers word verwag vanuit die geledere van diegene wat reeds in die omgewing vakansie hou.

Mans word aangemoedig om te kamp, maar neem kennis dat slegs gasbraaie toegelaat word. ’n Kampstoel is ’n moet en besoekers kan hul eie verversings saambring (let wel: geen alkohol nie), maar daar sal ook kosstalletjies en braaigeriewe beskikbaar wees vir beide dagbesoekers en kampeerders.

“Ons nooi die vrouens en kinders om Sondag ná die oggenddiens saam met ons te kom kuier. Bring ’n piekniekmandjie, kom loof die Here saam as gesin, en geniet die bederf van ’n bonusoptrede deur Jo Black. Gesinne sal die geleentheid hê om saam gedoop te word, en daar is ook ’n spesiale seremonie vir seuns om deur hul families as mans verklaar te word,” verduidelik Swart.

“Arise Mossel Bay Mighty Men sal die eerste konferensie van sy soort in ons ikoniese dorp wees, en ook die grootste. Die kostes om hierdie geleentheid aan te bied is astronomies, maar ons glo die Here sal die harte van ons gemeenskap bewerk om by te dra deur middel van tyd, donasies en skenkings,” sluit hy af.

Epos gerus vir lukas@degoedeuniverse.co.za  as jy as vrywilliger betrokke wil raak of andersins ondersteuning kan verleen, of vir besonderhede oor besprekings en registrasie. Maar moenie hierdie kans misloop om nuwe hoogtes in jou geloofsreis te bereik nie, en deel te wees van ‘n byeenkoms wat beloof om jou lewe op te hef en te transformeer met energie van ‘n Goddelike aard.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 15/08/2023
Foto verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here