Artikelbron: Christian Post
Die verwoestende wegholbrande op die Hawaiiaanse eiland Maui het nou minstens 93 mense se lewens geëis. Christelike hulporganisasies en plaaslike kerke het ingespring om te help, berig die Christian Post.
Verlede Dinsdagaand het minstens drie groot brande op die eiland uitgebreek, aangevuur deur orkaansterkte winde. Die historiese dorp Lahaina is grootliks tot op die grond afgebrand. Die gebied is afgesper en mense word gewaarsku om weg te bly. Vrywilligers deel kos, water en ander voorrade uit.
Die Rooms-Katolieke Kerk in Lahaina het die brand merkwaardig oorleef. “Lahaina is heeltemal deur vuur verteer, maar die kerk staan steeds, asook die pastorie,” het Terrence Watanabe, die pastoor van die nabygeleë St. Theresa-kerk, gesê.
Pastoor James Morocco van die King Cathedral in Maui en sy gemeente het ’n noodfonds vir ontheemdes gestig. Kalifornië pastoor Greg Laurie van Harvest Christian Fellowship het ook ‘n noodlenigingsfonds gestig om Maui-gebaseerde gemeentes en ander wat geraak is, by te staan. “Dit is hoe ons hoop en vertroosting in die naam van Jesus wil bied,” het Laurie in ’n videoboodskap gesê.
Die Christelike humanitêre hulporganisasie, World Help, werk saam met plaaslike vennote van Lahaina in geaffekteerde gebiede om te bepaal wat en hoe groot die behoefte is. Noel Brewer Yeatts, die direkteur van World Help, praat van “’n oorlogsone”. Omdat die heropbou jare lank sal duur, het World Help ’n skenkingsblad vir die slagoffers van die Maui-veldbrande geskep.
Die prokureur-generaal van Hawaii het ’n ondersoek aangekondig. Volgens die Hawaii Emergency Management Agency (HIEMA) het sirenes op die eiland nie afgegaan toe die veldbrand uitgebreek het nie. Die dodetal oortref dié van ’n tsoenami in 1960 toe 61 mense hulle lewens verloor het. Die brande is die dodelikste natuurramp op die argipel sedert Hawaii in 1959 deel van die Verenigde State geword het.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 15/08/2023
Foto: wikipedia.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.