Artikelbron: Evangelical Focus
In Italië het ’n dispuut oor ’n kerkgebou verskerp tot in so ’n mate dat die Protestantse gemeente van Breccia di Roma na die hooggeregshof geneem is. Die gemeente sê hulle ervaar vervolging en intimidasie.
Die onenigheid het begin toe die gemeente van Breccia di Roma die gebou gekoop en ’n wysiging aan die soneringsplan ingedien het, want die winkel moes in ’n kerkgebou omskep word. Dit is normaalweg ’n eenvoudige proses, berig Evangelical Focus, maar die kerk se pastoor het spoedig uitgevind dat die normale proses nie gevolg word nie. Ná al die nodige stappe het die Italiaanse belastingowerhede ’n besoek aan die kerk gebring, waar hulle foto’s geneem, vrae gevra en rondgekyk het.
Die verandering is nie daarna goedgekeur nie: mense was bekommerd dat geen strukturele veranderings aan die kerk aangebring is nie. Dit het nie by die beeld van ’n kerkgebou gepas nie en het nie die kenmerkende dinge daarvoor gehad nie – soos ikone, standbeelde, altare en kandelare. Pastoor Leonardo: “Protestantse aanbidding gebruik nie standbeelde of ’n altaar nie en omdat ons ’n Protestantse kerk is, is ons oortuig dat ons dit nie nodig het nie en nie wil hê nie.”
In ’n eerste hofsaak het die kerk sy saak bepleit en die regters se beslissing was in hulle guns. Ses maande later het dit geblyk dat die belastingowerhede nie tou opgegooi het nie en die saak voor ’n streekhof gebring het. Dieselfde redes is aangevoer: die gebou is nie genoegsaam verander om soos ’n kerk te lyk nie. Boonop het die aanklaer foto’s gedeel van hoe hy gedink het so ’n gebou moet lyk: groot, indrukwekkend en met ornamente.
In reaksie hierop het die Breccia di Roma-gemeente tientalle foto’s van geboue in Rome gewys wat baie soortgelyk aan hul eie gebou lyk. Pastoor Leonardo: “Dit word ook as godsdienstige geboue geklassifiseer.” Weereens het die regters met die kerk saamgestem.
Dit blyk dat dit nie die laaste dispuut oor die soneringplan van die kerk sal wees nie. Die kerk is nou voor die hooggeregshof gedaag, berig die gemeente.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 14/08/2023
Foto: Breccia di Roma
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








