Geskryf deur: Radio Tygerberg 104FM Artikelbron: Artikel verskaf 

Met Radio Tygerberg 104FM se viering van hul 30ste bestaansjaar is daar belê in die opleiding van 30 huidige en voornemende radio-omroepers tydens die bekroonde* #nuweradiostem-veldtog. Die 20 finaliste is vanuit ’n groot hoeveelheid deelnemers gekies wat vooraf aansoek gedoen het vir die gesogte werkswinkel.

Veterane in die mediabedryf, insluitende Martelize Brink en Mariëtta Kruger van RSG, Lizma van Zyl, gesoute joernalis en een van die stigterslede van Smile FM asook Debbie Smith-Oosthuizen, ervare kenner wat reeds jare lank betrokke is by die kommersiële kant van die radiowese, is betrek om deelnemers touwys te maak.

“Inhoud is een van die belangrikste elemente van goeie radiowerk,” het Brink aan deelnemers gesê. Brink het haar wenke en kennis oor die keuse en verwerking van inhoud met die deelnemers gedeel.

Gesoute RSG-nuusleser, Mariëtta Kruger, het klem geplaas op die nuusbulletin en die lees daarvan. “Die rol van ʼn nuusleser verg baie meer as slegs iemand wat ’n paar sinne oor die daaglikse gebeure lees. Daar moet gefokus word op tempo, uitspraak en toon,” verduidelik Kruger. Lizma van Zyl het deelnemers meer vertel oor hoe belangrik navorsing vir die voer van goeie onderhoude is. 

“Die standaard van deelnemers maak ons opgewonde oor die toekoms van radio,” sê Rikus van Rooy, die programbestuurder by Radio Tygerberg 104FM. “Dit is duidelik dat radio as medium steeds ’n aantrekkingskrag het vir mense van alle ouderdomme.”

Die Top 5-kandidate wat ná afloop van die werkswinkel aangewys is, sluit in Brett Goslett, Christina van der Vyver, Christanth Isaacs, Jackie Kruger en Clyde Schroeder.

*Radio Tygerberg het in 2022 ’n prys by die jaarlikse Radiotoekennings ontvang vir die veldtog in die beste promosie/stunt-kategorie

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 23/08/2023
Foto: Personeel van Radio Tygerberg 104FM saam met Nuwe Radiostem-deelnemers. (Foto: Gerald Petersen)

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here