Geskryf deur: Lourieke Haller Artikelbron: JUIG! Nuus
Die bekende, voormalige Springbok-rugbyspeler en -kaptein, Theuns Stofberg is vroeg vanoggend (Woensdag 23 Augustus) oorlede nadat hy Maandagaand in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.
Volgens ’n verklaring wat deur die familie uitgereik is, was “sy besering te erg vir sy liggaam om te herstel.”
Stofberg was onlangs een van die gassprekers by die bekendstelling van die boek, Luister. God se stem in my lewe, waarin hy ook self getuig het van die uitdagings in sy lewe en hoe God waarlik alles ten goede laat meewerk het vir hom. Hy het tussen 1976 en 1984 in 20 toetse vir die Springbokke uitgedraf en was talle kere die kaptein van die Springbokspan.
Tydens die geleentheid het Stofberg hulde gebring aan voormalige Springbok-rugbykaptein, Dawie de Villiers, wat so ’n invloed gehad het op daardie geslag se rugbyspelers. Jimmy Powell, voormalige Cheetah-rugbyspeler en broer van die Neil Powell, die Haaie se direkteur van rugby, het opgestaan en op sy beurt hulde gebring aan Stofberg. Hy het daarop gewys dat Stofberg vir hulle as geslag rubyspelers wat gevolg het, ’n voorbeeld en mentor was.
Karien Basson, die skrywer van die boek waarin Stofberg sy getuienis lewer, het vanoggend die volgende oor die geliefde rugbyspeler gesê:
“Vanoggend is ons woorde min … ons harte seer … Ons vee strome trane af terwyl ons as vriende en kennisse aan sy vrou, kinders en kleinkinders dink. Ons harte is by hulle. Dit was die grootste voorreg om sy hart in ’n hoofstuk vas te vang. Dit was voorwaar ’n eer om hom te ken. Rus sag Theuns Stofberg. Jy was ’n kolos in statuur, hart en gees. Ons sal jou altyd onthou. “
Stofberg (68) was op pad huis toe nadat hy by sy jongste dogter, Anzél Rabie en haar gesin gekuier het. Hy moes ná die trompopbotsing met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word.
Hy word oorleef deur sy vrou, Martie, en hul vier kinders, Elni, Theunis, Johan en Anzél, en sewe kleinkinders.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 23/08/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








