Geskryf deur: Schizandra le Roux Artikelbron: FEBA Radio South Africa 

“Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” (Romeine 10:15) 

“Ek het Christenskap gehaat,” sê Sam Kalonjele, wat tot bekering gekom het nadat hy ’n Chiyao oudio-Bybel ontvang het. Hierdie gevoel is nie buitengewoon onder die Yao-mense wat langs die Malawi-meer in Mosambiek, Malawi en Tanzanië woon nie. Hulle is oorweldigend Moslem, met ’n versigtigheid vir Christenskap wat in hul geskiedenis gewortel is. Toe Christene die streek binnegekom en die afskaffing van slawerny voorgestaan het, het die Yao baie van die heerskappy verloor wat hulle saam met Arabiese handelaars opgebou het – ʼn vennootskap wat daartoe gelei het dat die Yao-bevolking Islam as godsdiens aangeneem het. Intussen het Sam al 30 luisteraarklubs in en om verskeie Machinga dorpies gestig.

“Ek wil húlle graag bedank wat bid vir die verlossing van die Yao …”
Só skryf FEBA Malawi se direkteur, eerw. Amos Siyabu. FEBA Malawi, plaaslik bekend as Litala FM, is passievol oor hulle bediening onder die Yao. Buiten vir hul FM-uitsendings, wat by ’n gehuurde ateljee in Blantyre vervaardig word en ook op ander netwerke uitgesaai word, versprei die span opwenradio’s, Bybels, Yao-boekies en oudio-Bybels in die Yao-taal, Chiyao.  

Hulle stig luisteraarklubs, waar tot 50 mense bymekaar kom om saam na Litala FM se programme te luister, en saai ook via kortgolfradio uit na die Yao wat in Tanzanië woon. Litala FM se bediening sluit baie fisieke werk in. Hulle lewer radio’s af in dorpies, deel Bybels en bykomende leesstof uit en doen individuele opvolgwerk met hul luisteraars. Die span het onlangs met dissipelskapsprogramme begin – ’n onderneming wat seën en vrug dra.

Oorwinnings
Teen einde Julie het Litala FM tienduisende luisteraars oor alle platforms. Hulle het die afgelope paar maande daarin geslaag om 112 luisteraarklubs in Malawi te besoek en te stig. Hulle het ook verskeie jongmense in media en vervaardiging opgelei, waarvan sommige die opleiding in Julie voltooi het. 

’n Span uit Blantyre het onlangs die Ngauma-distrik in Mosambiek besoek en dissipelskap-programme vir alle ouderdomme aangebied. Twintig groepe het hulself aan die taak van dissipelskap toegewy en getuig nou van God se werk in hul geledere. Een van die mans wat Christus deur so ’n groep ontmoet het, sê: “Ek dank God dat ek nou by ’n Bybelstudiegroep kan aansluit en terselfdertyd na Litala FM radio luister. Ek was ’n Moslem en geniet dit nou om ’n dissipel van Jesus Christus te wees.” Hierdie man en sy hele gesin het Christus aanvaar deur na Litala FM se programme te luister.

Beproewings
Die brandstofprys neem toe, terwyl brandstof skaarser raak. Al hierdie dinge raak die FEBA Malawi-span. 

Sommige van die personeel is al op pad werk toe of terug huis toe deur boewe aangerand, buskaartjies raak duurder en hulle sukkel om die pot aan die kook te hou. Brandstof uitgawes maak dit moeilik om opvolgwerk in afgeleë gebiede te doen. Boonop sukkel die span met ’n tekort aan hulpbronne: hulle kort meer Bybels, radio’s, oudio-Bybels en materiaal vir dissipelskapsopleiding. Hulle bid ernstig vir hul eie ateljee en meer opname-toerusting, sodat hulle beter inhoud vir hul luisteraars kan vervaardig. 

Bogenoemde is die probleme van ’n dinamiese, vrugdraende bediening. Daar is geen traagheid nie. FEBA Malawi werk konstant om die oes in te bring, en hulle doen dit met dankbaarheid. Die span, soos hul luisteraars, stap elke dag ’n pad wat vol uitdagings is. Tog, skryf eerw. Siyabu, “doen ons span hier hul bes om luisteraars se moraal hoog te hou deur hulle die Woord van God te bied, wat hulle help om God se vertroosting deur ons uitsendings te ervaar.” 

As jy hierdie wonderlike God-aangestelde werk wil ondersteun, klik hier. 

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 22/08/2023
Foto: FEBA

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here