Geskryf deur: Retief Burger
Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

“Worship is our response to what we value most,” skryf Louie Giglio in sy boek, The Air I Breathe. Dit is die fondament van enige aanbidding. Ons het seker al almal gehoor dat aanbidding meer as net musiek is, maar dink ons werklik diep na oor wat ons eintlik bedoel?

Jou prioriteite openbaar wat jy aanbid
Aanbidding vind die hele tyd plaas en ja, almal aanbid. Jy aanbid dit wat jy as die waardevolste “ding” in jou lewe beskou. Dit wat bo aan jou lysie is. Indirek aanbid jy dit waaraan jy die meeste tyd, energie en geld spandeer. Daardie “ding” wat jy ten alle koste wil beskerm. Paulus het ook so ’n lysie gehad: status, ’n goeie naam, goeie opvoeding, die regte agtergrond… waardevolle dinge waarop hy homself kon beroem. Maar alles het verander die dag toe hy in Iemand vasloop op ’n stofpad na Damaskus. Iemand wie se waarde enige moontlike kompetisie na niks laat lyk: Jesus Christus. Die een waaroor daar in Kolossense 1:15 geskryf word: “Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.” Die Een wat bo aan enige “waardelysie” staan!

Die waardevolste Skat
Jy sien, alles wat ons as waardevol beskou en bo aan ons lysies sit, verdof in die lig van die waardevolste Skat. En dit is hier waar ons aanbidding dan skuif. My hele lewe se fokus begin draai om hierdie Een wat alles oortref en waarvan Paulus in Filippense 3:8 getuig: “Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde.” In wat ek sê, hoe ek my finansies hanteer, hoe ek mense behandel, hoe ek ander dien, hoe ek reageer as daar ’n motor voor my inry… in alles moet daar gesien word wie op die troon van hierdie hart sit, wie heel bo aan my lysie is en voor wie ek werklik buig. Dan begin aanbidding in my hart, in die sentrum van alles wat ek doen. Dan eers begin my lippe en my hart in harmonie sing.

’n Nuwe loflied in jou moedertaal
Nuwe Lof wil woorde gee aan hierdie harmonie en in ons moedertaal nuwe woorde, klanke en melodieë die wêreld instuur. Die medewerkers wat saam nuwelof.co.za die lig laat sien, glo dat elke generasie ’n nuwe lied het wat in sy eie taal na God se troon moet opstyg. Dis ons roeping om die Afrikaanse Kerk te bemagtig om aan te hou nuwe liedere sing en speel tot sy eer alleen.

Nuwe gemeentesang-liedere vir die Afrikaanse kerk
Ons missie is om Skrifgetroue, Gees-geïnspireerde liedere te skryf wat maklik deur gemeentes gesing kan word, en om hulpmiddele te skep wat die sing en speel daarvan vergemaklik sodat gemeentes dit maklik kan begelei. Groepe liedjieskrywers wat geroep voel kom bymekaar en skryf saam aan nuwe musiek vir die webwerf. Ons vul mekaar aan, voltooi mekaar se sinne en maak saam seker dat die liedjies vir gemeentegebruik geskik is. Mag ons saam met die engelekore ook in Afrikaans die waarde van ons waardevolste Here laat weerklink!

Besoek nuwelof.co.za vir meer besonderhede!

RETIEF BURGER – sanger-liedjieskrywer, aanbiddingsleier, musiekvervaardiger en leraar by Every Nation Tshwane

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 27/01/2025

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here