Geskryf deur: Almarie du Preez
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Haar vriende noem haar TC, haar volle naam is Thuthula Liyandanelisa Mngenela-Malgas. Die naam “Liyandanelisa” beteken “sy sal vir ons bevrediging bring” en is op hul huweliksdag vir haar gegee as deel van manlief, Thabo Malgas, se Xhosa-kultuur, waar dit tradisie is vir ’n nuwe bruid om ’n spesiale naam vanaf haar skoonfamilie te ontvang.

Kleurryke tradisie
“Voordat ons getroud is moes my man lobola betaal. Lobola gaan nie oor die koop van ’n vrou nie, maar eerder oor die skep van ’n nuwe verhouding, twee gesinne wat een word, iets wat ek beskou as heilig. Ek is aan Thabo se familie voorgestel in die makoti-regalia, wat ’n simbool is van ’n nuwe bruid. As ’n Christen-makoti het ek besluit om die kleredrag ’n simbool te maak van die volle wapenrusting van God, soos beskryf in Efesiërs 6.”

Van Matatiele na Seepunt
Hoewel TC se wortels in Matatiele in die Oos-Kaap lê, het sy grootgeword in die kosmopolitiese Seepunt, waar haar ma Portia as huishulp gewerk het. Sy onthou haar laerskooldae by Seepunt Primêr as ’n veilige hawe met hegte, diverse vriendskappe. “Ek was een van die eerste nieblanke kinders in ’n model C-skool. My ma se werkgewer, Moira, het hard geveg dat ek by haar kon woon, in ’n tyd wat dit nie toegelaat is nie. Dit was my eerste ervaring waar iemand alle mense as ewe waardig beskou het en opgestaan het daarvoor.”

Jesus as fondasie
Elke Sondag het TC per trein saam met haar ma vanaf Seepunt na ’n kerk in Khayelitsha gependel waar sy as agtjarige dogtertjie ’n kragtige ontmoeting met Christus gehad het. “My ma het gegroei tot ’n gebedsvegter – sy sou dinge in gebed verkondig en ek sou wonderwerke voor my sien ontvou.” By Hoërskool Kampsbaai is TC se liefde vir die kunste gekweek en vandag spog sy met ’n BA-graad in Openbare Betrekkingsbestuur en Media. As vryskutaanbieder en inhoudsvervaardiger by Kaapse Kansel 729AM, stemkunstenaar, A plus-grootte-model en entrepreneur leef sy met oorgawe en dankbaarheid vir ’n goeie opvoeding met Jesus as fondament.

’n Wens vervul
As klein dogtertjie het sy reeds gehoop trou is deel van God se wil vir haar lewe. Hy het hierdie wens in 2024 vervul. “Thabo is die teenoorgestelde van my. Hy is tradisioneel, ek modern; hy stil, ek ’n prater. Maar ons geloof in Christus oorbrug alles. My man is geroep om te evangeliseer. Hy het selfs by ons troue ’n spontane altaaroproep gedoen.”

Deernis en genade sonder grense
TC se kleurvolle lewensreis kontrasteer tradi-sionele en moderne elemente, met ’n aanpasbaarheid wat haar deernis en genade vir ander versterk – ongeag klas, ras, kultuur of tradisie. Sy moedig lesers aan om hul Christenskap voluit te leef deur ander met ’n gesindheid van groei en diensbaarheid te dien.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 29/01/2025
Foto’s verskaf: Van links na regs: Felix Mngenela (broer), Thabo Malgas (bruidegom), Thuthula TC Liyandanelisa Mngenela-Malgas (bruid), Portia Mngenela (ma van die bruid).

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here