Geskryf deur: Solidariteit Helpende Hand Artikelbron: Artikel verskaf
“Gesonde vroue skep gesonde gesinne wat weer gesonde gemeenskappe skep.”
Só sê René Roux, die woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand, wat namens die Solidariteit Beweging die Vroue in Beweging-inisiatief van stapel gestuur het. Die inisiatief is bekendgestel tydens ’n glansgeleentheid by die AfriForum Teater in Pretoria wat deur meer as 300 vroue bygewoon is.
Roux, wat ook as voorsitter van die Vroue in Beweging dien, sê dié inisiatief het ontstaan uit Helpende Hand se FroueVonds (met opset verkeerd gespel, want hul leuse is “Alles loop nie altyd reg nie”), maar gaan met die hulp van die groter Solidariteit Beweging poog om vroue te bemagtig. Die doel is om na elke vrou se welstand, opleiding en werk om te sien sodat sy “voluit vrou” kan wees.
“Vroue is die hartklop van ons samelewing. Daar is egter dikwels fisiese, emosionele en geestelike struikelblokke wat hulle daarvan weerhou om voluit vrou te wees. Die Vroue in Beweging wil dié struikelblokke oorkom en vroue bemagtig om gesond in die samelewing te kan funksioneer,” sê Roux.
Volgens Roux gaan die Vroue in Beweging sy doel nastreef deur 17 van die Solidariteit Beweging se instellings te mobiliseer. Hulle gaan ook kragte saamsnoer met verskeie ander vennote om vroue te bemagtig om sterker na vore te tree.
“Die strategie wat ons gebruik om die Vroue in Beweging as inisiatief van stapel te stuur, is om ’n bietjie kapasiteit, talente, hulpbronne en vaardighede van elkeen van ons vennote en die ander instellings te ontgin. So vat ons hande en maak mekaar sterker,” sê sy.
Vroue in Beweging gaan die volgende twee jaar veral fokus op vroue se geloof, werk en werkplek, geskiedenis, kultuur, opleiding, holistiese welstand, mentorskap, en netwerke en vennootskappe.
“Helpende Hand se bestaansrede is om volhoubare voorspoed te verseker, nie net vir lede van die Solidariteit Beweging nie, maar vir die Afrikaner in die algemeen. Ons kry dít reg deur gemeenskappe op maatskaplike gebied te ontwikkel. Dit is teen hierdie agtergrond wat die Vroue in Beweging in die lewe geroep is om om te sien na vroue se welstand deur te verseker dat hulle opgehef word en ook in hul werkplekke ontwikkel,” voeg Roux by.
Vir meer inligting oor die inisiatief of om dit te ondersteun, besoek www.vroueinbeweging.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 11/08/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.