Geskryf deur: Alex Pollock
Artikelbron: incontextinternational.org

Ná twee mislukte pogings vroeër vanjaar het Noord-Korea op Dinsdag, 21 November, sy eerste suksesvolle spioenasie-satelliet in ’n wentelbaan om die aarde gelanseer. Die sukses van die lansering het die Oos-Asiese streek in onrus gedompel, met Suid-Korea, Japan en China wat tesame met Amerika worstel oor hoe om op dié nuutste eskalasie van spanning in die Koreaanse skiereiland te reageer. Noord-Korea se opperleier, Kim Jong-un het die lansering persoonlik bygewoon en dit geprys as ’n beoefening van die reg tot selfbeskikking. Sy buurman, Suid-Korea, se president, Yoon Suk Yeol, het dit veroordeel as ’n oortreding van ’n VN-resolusie wat die gebruik van tegnologie met betrekking tot ballistiese missielprogramme verbied. Tydens ’n telefoniese gesprek tussen diplomate van die VSA, Suid-Korea en Japan op 24 November het die Japannese Minister van Buitelandse Sake, Kamikawa Yoko, “die lansering sterk veroordeel weens die destabiliserende effek daarvan op die streek”.

Volgens Noord-Korea se National Aerospace Technology Administration is die Malligyong-1 satelliet om 22:42 (GMT) op 21 November van ’n Chollima-1-missiel by die Sohae-lanseerfasiliteit gelanseer. Noord-Korea het in Mei en Augustus vanjaar soortgelyke satelliete probeer lanseer, maar beide pogings was onsuksesvol. Suid-Koreaanse amptenare spekuleer dat die sukses van die lansering dalk aan hulp van Rusland toegeskryf kan word, aangesien die derde lansering kort op Kim se reis na Rusland gevolg het, waartydens die Russiese president, Vladimir Poetin te kenne gegee het dat hy Noord-Korea wil help om sy missielprogram te ontwikkel. Dit is egter onwaarskynlik dat Rusland Noord-Korea so spoedig van die nodige tegnologie sou kon voorsien.

In reaksie op die lansering het Suid-Korea aangekondig dat hy beplan om Artikel 1, paragraaf 3 van die 2018 ooreenkoms tussen die twee Koreas, wat daarop gemik is om militêre spanning tussen die twee lande te verminder, op te skort. Artikel 1, paragraaf 3 verwys na die toepassing van lugverkenning langs die afgebakende lyn tussen die twee lande. Yoon het gesê dat Suid-Korea dit nou nodig vind om lugverkenning te hervat ten einde die land teen potensiële aanvalle uit die Noorde te beskerm. Ná die aankondiging van Suid-Korea het Kim die ooreenkoms in sy geheel beëindig en waarnemers is bekommerd dat dit groter konflik tot gevolg kan hê. Noord-Koreaanse amptenare het rapporteer dat die satelliet die Noord-Koreaanse weermag in staat sal stel “om die hele wêreld aan te val” en het te kenne gegee dat hulle beplan om in die nabye toekoms verskeie satelliete te lanseer as deel van ’n vyfjaarplan wat Kim in Januarie 2021 afgeskop het.

In die gesprek tussen die Asiese rolspelers en die Verenigde State het die diplomate wat teenwoordig was ’n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om “saam te staan om Noord-Korea te verhoed om materiaal in die hande te kry en om die invloei van inkomste waarmee die onwettige wapens van massavernietiging (WMD) en ballistiese missielprogramme aan die gang gehou word, te voorkom”. China, Japan en Suid-Korea het ook op Sondag, 26 November, ooreengekom om saam te werk en ’n beraad te organiseer waar bespreek kan word hoe om spanning in die streek te ontlont. Geen datum is bepaal nie, maar daar word verwag dat dit vroeg volgende jaar sal plaasvind. Hoewel die omstandighede waaronder hierdie nasies gaan vergader, spanningsvol is, is dit tog ’n positiewe stap in die rigting van dialoog en samewerking tussen nasies waar spanning onlangs toegeneem het, aangesien China volhou om sy teenwoordigheid in die betwiste Suid-Chinese See uit te brei. Die insluiting van Amerika by die gesprek is ’n uitbreiding van onlangse besprekings tussen Chinese president Xi Jinping en die VSA se president, Joe Biden, aangesien hierdie twee wêreldmagte beoog om verhoudinge te verbeter. Meer en verbeterde geopolitieke verhoudinge kan altyd nuwe geleenthede vir die uitdra van die evangelie bied. Die Kerk kan bid dat dit ook ’n realiteit in hierdie situasie sal wees.

Die prominensie van hierdie gebeure in die nuus beklemtoon ook die realiteite van die lewe in Noord-Korea. Die burgers van hierdie land leef in uiterste armoede en is grootliks geïsoleer van die buitewêreld, wat dit baie moeilik maak om die volle omvang van wat presies in die land gebeur, te verstaan. Noord-Korea is reeds vir jare bo-aan Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys – ’n lys van 50 lande waar dit die moeilikste is om ’n Christen te wees. Christene in Noord-Korea staar wrede vervolging in die gesig en ly swaar onder die streng onderdrukking van die regering. Ons wat na aardse regerings kyk vir ’n oplossing vir hierdie potensiële krisis, moenie vergeet om na ons Hemelse Vader te kyk vir ’n ewige oplossing, die redding van siele vir Sy Koninkryk nie. Die wêreldwye Kerk kan volhou om vir die inwoners van die Koreas en omliggende lande te bid dat hulle hul vrede en toevlug sal vind in Jesus, die Vredevors, en die enigste ware oplossing vir die konflik waarmee hierdie lande te kampe het.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat spanning in die Koreaanse skiereiland en omringende areas sal afneem;
  • dat dialoog oor hierdie konflik sal lei tot verdere samewerking tussen al die globale rolspelers wat betrokke is; en

dat elke persoon in die streek vrede, troos en redding in Christus sal vind.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.
 

Datum gepubliseer: 04/12/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here