Geskryf deur: Katelin van Zyl Artikelbron: incontextinternational.org 

Op Woensdag, 6 September, was dit sewe maande sedert die verwoestende reeks aardbewings die lewens van meer as 55 000 mense in Turkye en Sirië geëis het en ’n verdere 10 000 beseer is. Die aantal mense wat geraak is, word op ongeveer 17 miljoen geraam en bykans 5 000 geboue is of volkome vernietig of te beskadig om steeds bewoon te word.

Johan Mooij, World Vision in Sirië se reaksiedirekteur, het verlede maand gerapporteer: “Ses maande het verloop sedert die vernietigende aardbewing die noordwestelike deel van Sirië en suide van Turkye getref het. Siriërs het te kampe met die nagevolge van die aardbewings, sowel as voortdurende nood wat deur konflik, ’n ekonomiese afswaai, ’n uitbraak van cholera en gure weerstoestande veroorsaak word.”

Baie mense in die noordweste van Sirië voel vergete terwyl hul lewens in onsekerheid gedompel is terwyl hulle wag op hulp met die herstel- en herbouproses.

Ontheemdes uit verskeie stede wat geraak is, word in tentkampe gehuisves. Selfs waar woonstelblokke nie totaal vernietig is nie, is mense bang dat die risiko te groot is om die geboue weer te betrek. Die dodetal en omvang van vernietiging was groter in Turkye, maar die herstelpoging in oorloggeteisterde Sirië is meer ingewikkeld, veral in gebiede wat nie deur die regering beheer word nie. Gelukkig het die Siriese president, Bashar-al-Assad, toestemming aan die Verenigde Nasies (VN) verleen om tot 13 November hulp aan areas wat deur die opposisie beheer word, deur twee grensoorgange met Turkye te laat voortgaan, al het die ooreenkoms reeds verstryk. Terwyl hulp die land wel kan binnekom, sal dit waarskynlik baie lank duur om te herbou en in etlike dele het die verwydering van rommel nog nie begin nie.

Hoewel beskadigde geboue in Turkye afgebreek en die rommel verwyder word, is daar ernstige kommer oor hoe dit gedoen word. In die Hatay-provinsie vrees oorlewendes wat naby beskadigde geboue of afvalterreine vir bourommel woon, die gevolge van toksiese stof (wat hoë vlakke van asbes insluit) wat ingeasem word of deur middel van besmette water of kos ingeneem word. Talle slagoffers van die aardbewing is nou siek. Baie dra maskers om te verhoed dat hulle die stof inasem. Beskuldigings word teen sommige terreine geopper omdat daar geglo word dat hulle veiligheidsregulasies ignoreer deurdat hulle spoed eerder as veiligheid prioritiseer. Ander moontlike oorsake vir die besmetting van water sluit ontbindende liggame in, wat steeds onder die rommel begrawe is.

Aangesien Turkye geneig is tot aardbewings, word groter pogings aangewend om beter op aardbewings voorbereid te wees. Daar is voorspellings dat Istanboel (en ander kusgebiede) in die volgende paar jaar geraak sal word; dus is talle inwoners gewillig om gratis inspeksies te laat doen wat sal aandui of hul geboue ’n hoë risiko loop om ineen te stort, veral na die aardbewings in Februarie. Daar word beraam dat ongeveer 70% van die geboue in Istanboel gebou is voordat veiligheidskodes in 2000 opgeskerp is. In die stede wat vanjaar deur aardbewings geraak is, is daar oproepe vir kriminele klagtes teen en bedankings van diegene wat verantwoordelik was vir die onlangs voltooide geboue wat ineengestort het. Daar is planne om die bouprosedures te verander wanneer hierdie stede herbou word, sodat dit toekomstige aardbewings en skuddings met groter veiligheid sal kan weerstaan.

Terwyl stede herbou kan word, kan niks geliefdes wat in die ramp gesterf het, terugbring nie. Slagoffers van die aardbewings het God se goddelike vertroosting nodig om die pyn, verlies en trauma waarmee hulle steeds worstel, te hanteer. In Sirië, sowel as Turkye, is daar ’n groot behoefte aan psigososiale ondersteuningsdienste, asook voorsiening in die voortdurende fisieke behoeftes soos kos en sanitasie.

Pogings om te herbou sluit nie slegs infrastruktuur in nie, maar ook individuele lewens en breër gemeenskappe. Talle kerke en Christelike bedieninge is by noodlenigingswerk betrokke, maar die wêreldwye Kerk kan bid vir onderskeiding om te weet hoe om betrokkenes op die lange duur te help, maar ook vir die voorsiening van dit wat benodig word om die bediening waartoe God hulle roep, te volvoer. Mag mense se harte ontvanklik wees vir die genade, hoop en vertroosting van ons deernisvolle en liefdevolle Jesus wat Sy lewe met liefde gegee het sodat ons gered kan word (Joh 3:16; Rom 5:8; Mat 9:36; 2 Kor 1:3-4. Jesaja 53:4-6; Joh 3:17). Mag diegene wat die dood vrygespring het, nie die kans om op God se geskenk van ware redding en die ewige lewe te reageer, misloop nie (Rom 10:9-10; Ef 2:8; Joh 10:10; Hand 4:12).

In beide lande is dit uiters moeilik om ’n Christen te wees, maar God gaan voort om siele te red en Sy Kerk te bou. Mag ons voortgaan om ons broers en susters in Turkye en Sirië, wat reeds so baie verduur het, in gebed op te hef. Mag hulle, soos Paulus en Timoteus, in staat wees om te getuig: “Dit is Hy wat ons uit so ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie ’n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank” (2 Kor 1:10-11).

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:

  • Bid dat die herbou- en herstelproses veilig en volhoubaar sal wees, en vir beskerming van en voorsiening vir mense terwyl hulle op nuwe woonplekke wag;
  • dat die Kerk in Sirië en Turkye God se vertroosting, hoop en genesende krag aan diegene wat fisiek, emosioneel en geestelik sukkel, sal verleen; en
  • dat gelowiges in Turkye en Sirië versterk en bemoedig sal word om God steeds in hierdie lande waar hulle met baie uitdagings te kampe het, te dien

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 08/09/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here