Artikel verskaf deur Helpende Hand

‘n Netwerkontbyt wat onlangs in Bloemfontein aangebied is, het nuwe momentum geskep vir die vestiging van ‘n Helpende Hand Toekomsbrug vir werksoekers in die stad. Hierdie gemeenskapsgerigte inisiatief is daarop gemik om werkloosheid prakties aan te pak.

Die ontbyt, aangebied deur Solidariteit Helpende Hand Vrystaat-streek, het op 9 April plaasgevind by Urth in Bloemfontein en het rolspelers uit die gemeenskap byeengebring om netwerke te verken vir een van Suid-Afrika se grootste uitdagings.

Volgens die mees onlangse data bly werkloosheid in Suid-Afrika op kritieke vlakke. Die uitgebreide werkloosheidskoers draai steeds naby 32%, terwyl werkloosheid onder die jeug selfs hoër is. Hierdie werklikheid plaas nie net druk op huishoudings se finansies nie, maar raak ook mense se eiewaarde, geestesgesondheid en die stabiliteit van die gesin in die gemeenskap.

Die Toekomsbrug-inisiatief is deur Solidariteit Helpende Hand ontwikkel in samewerking met die niewinsgewende organisasie Jakob se Put. In ander gemeenskappe is reeds bewys dat dit ‘n betekenisvolle verskil kan maak. Hierdie inisiatief bied nie net praktiese ondersteuning vir werksgeleenthede nie, maar skep ook ‘n ondersteuningsnetwerk waar deelnemers hoop, rigting en selfvertroue kan herwin totdat hulle weer die werksmag betree.

“Die Toekomsbrug vir mense tussen werke gaan nie net daaroor om ‘n werk kry nie, maar om mense te help om weer hul waarde raak te sien en met hoop vorentoe te beweeg,” sê Hannie Viljoen, bestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Gemeenskapsjaar. “Ons sien daagliks hoe werkloosheid mense emosioneel, geestelik en fisies raak. Hierdie inisiatief skep ‘n ruimte waar mense nie alleen staan nie, maar deel word van ‘n netwerk wat hulle ondersteun en toerus met hoop vir die toekoms.”

Gaste by die onlangse netwerkontbyt in Bloemfontein waar dieHelpende Hand Toekomsbrug vir werksoekers bespreek is.

Die Solidariteit Helpende Hand Toekomsbrug fokus op die ondersteuning van werksoekers om hulle netwerke vir werksgeleenthede uit te brei. Dit sluit ook samewerking met en die fasilitering van verskeie netwerke in die gemeenskap in om werksoekers holisties te ondersteun met die bou van professionele netwerke. Deelnemers word aangemoedig om hul gawes en vaardighede opnuut te verken en doelgerig te ontwikkel vir nuwe werksgeleenthede.

Na aanleiding van die netwerkontbyt word beplan om die Solidariteit Helpende Hand Toekomsbrug binnekort amptelik van stapel te stuur in Bloemfontein.

As deel van hierdie proses het Solidariteit Helpende Hand ook ‘n gratis omvattende fasiliteerdersgids ontwikkel. Dit dien as ‘n praktiese hulpmiddel vir ander dorpe en gemeenskappe wat soortgelyke inisiatiewe wil begin en bied duidelike riglyne vir die vestiging en bestuur van die inisiatief.

Helpende Hand glo dat volhoubare verandering begin waar gemeenskappe self verantwoordelikheid neem en saamwerk om oplossings te vind.

Vir meer inligting oor die inisiatief of om die gids te verkry, stuur ‘n e-pos aan hannie@helpendehand.co.za.


Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Fotos verskaf
Datum gepubliseer: 19/04/2026

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here