Geskryf deur: Geopende Deure SA Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Hartseer en vrees het Merry (26), ’n jong Siriese vrou van Aleppo met ’n graad in siviele ingenieurswese, aangevuur om ’n lig in die donker en ’n verlengstuk van God se liefdevolle hand te wees ná die verwoestende aardbewing wat Sirië in Februarie getref het.

Ondanks haar bekommernis oor haar gesin se veiligheid en vrees vir haar eie lewe, het Merry toegepas wat sy by Geopende Deure se sportopleiding geleer het om ander slagoffers van die aardbewing te dien.

Sportbediening vir jongmense
Merry, wat vir verskeie nieregerings-organisasies werk en nog altyd ander mense graag help, neem sedert 2019 aan Geopende Deure se sportbedieningsopleiding deel.

Verlede Oktober het sy ’n kursus, “Ready, Set, Go Plus”, bygewoon, wat jeugwerkers help om kinders en tieners met sportaktiwiteite na die kerk te lok. Nadat sy die kursus voltooi het, het sy as personeellid by die opleiding betrokke geraak en was dit haar verantwoordelikheid om na die studente om te sien.

’n Skrikwekkende ervaring
Op 6 Februarie 2023 is Merry en haar gesin deur die skrikwekkende aardbewing wakker gemaak. Terwyl hulle uit hul gebou gevlug het, het Merry se sportopleiding in haar gedagtes opgekom.
“Die strate was vol mense wat in hulle papnat slaapklere gestrand was. Ek het die sportopleiding onthou en geweet ek moet my ouers bystaan – hulle was my spanmaats,” vertel sy.

’n Veilige hawe by ’n vlugtelingsentrum
Toe Merry en haar gesin na hul huis terugkeer, was hulle te bang om daar te bly. “Ons het dus van ons besittings opgepak en na ’n vlugtelingsentrum by die Presbiteriaanse Kerk gegaan.”

Meer as 7 000 mense in Aleppo is weens die aardbewing gedwing om hulle huise te verlaat en skuiling in kerke en kloosters te vind. Aangesien nie al die kerke op so ’n krisis voorbereid was nie, het Geopende Deure se plaaslike vennote hulle van noodleniging en verhitting teen die koue voorsien.

Help die aardbewingslagoffers
Merry het dadelik aangebied om die ander aardbewingslagoffers by die vlugtelingsentrum te help. “Ek het gevoel ek is terug in die sportbediening en op grond van daardie ervaring het ek maaltye vir die mense geskeduleer en met die verspreiding van kos en komberse gehelp.”

Die sin vir leierskap en verantwoordelikheid wat hulle by die sportopleiding geleer het, het Merry, haar broer en drie ander jongmense gemotiveer om ’n noodlenigingspan te skep om mense deur die ramp te help. Hulle het hulp ontvang van familie en vriende wat in die buiteland woon en het kos en higiëneprodukte begin koop om aan behoeftige mense uit te deel.

Die belangrikheid van liefde
Liefde was die motivering vir Merry en die ander. “Ons wou die boodskap van liefde versprei. In die 12 dae ná die aardbewing kon ons meer liefde betoon as wat ons tydens die 12 jaar van oorlog kon deel. Almal moet weet dat Christus liefde is en ons as sy kinders moet ’n goeie voorbeeld van daardie liefde wees.”

Versterking van die vervolgde Kerk
Danksy die geskenke en gebede van ondersteuners kan Geopende Deure en sy plaaslike vennote in Sirië en Irak voortgaan om kwesbare gelowiges soos Merry te versterk. Deur jou finansiële geskenk kan jy ook ons vervolgde geloofsfamilie ondersteun. Gebruik die bankbesonderhede hier onder om vandag ’n
geskenk te gee.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 05/08/2023
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here