Geskryf deur: Daniel Kolenda Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Ons onlangse 11 Evangelisasieveldtogte in Zambië het gevoel soos ’n warrelwindtoer van ’n hele nasie. Ek het elke dag op ’n nuwe plek gepreek en soms het dit die hele dag lank geneem net om by die plek uit te kom waar ek moes preek! Vir die talle genooide evangeliste wat elk vir die veldtog in ’n gegewe dorp verantwoordelik was, was dit ’n ander saak. Hulle het die vreugde – en die verantwoordelikheid – gehad om die Evangelie op vier van die vyf veldtog-aande te verkondig, en het baie nou saamgewerk met die plaaslike kerke en veldtogdirekteure.
Die Dekade van die Dubbele oes behels spanwerk
Hier volg wat ek dink die wonderlikste en opwindendste aspek is oor die Dekade van die Dubbele Oes … Wat dink jy – was daar meer wonderwerke op die aande toe ék gepreek het of toe die genooide evangeliste gepreek het? Is meer mense gered op die aande toe dit my beurt was? Het jy dalk verwag dat elke plek vier klein byeenkomste hou en dan een grote wanneer ek in die dorp aankom?
Jesus is die Een wat red
Ek vermoed dit is wat die meeste mense hulle in hierdie celebrity-era sou voorstel. Dit is egter nie Daniel Kolenda wat genees, red of verlos nie. Daar is net een Naam in die hemel en op aarde met die krag om te red – Jesus! Dit het dus nie saak gemaak watter aand ek by watter venue was nie. Dit het nie saak gemaak of dit aan die begin, die middel of die einde van die Evangelisasieveldtog was nie. Op elke plek was Jesus die middelpunt. Graag deel ek van die vele wonderwerkgetuienisse wat ingestroom het van die “ander” 50 aande wat deur die uitstekende spanne opgeleide evangeliste gelei is en wat alles gegee het.
“Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk.” – Sefanja 3:17
Dié tweejarige kleutertjie het ’n gewas so groot soos ’n appel op sy kop gehad. Tydens die gebed vir die siekes het die gewas sigbaar weggekrimp en net los vel agtergelaat.
Hierdie sewejarige seuntjie wat ’n gestremd-heid gehad het, kon vir die eerste keer in sy lewe opstaan en loop! Sy tante wat hom na die veldtog geneem het, het hom na die verhoog gebring en getuig van God se wonderwerkende krag.
Hierdie 23-jarige man, Humphrey Style, het konstante rugpyn gehad, kon nie behoorlik loop nie en beslis nie oefen nie. Die Here het hom op pad na die veldtog genees! Borrelend van vreugde het hy opstote op die verhoog gedoen om oor sy nuutgevonde krag en vryheid van beweging te getuig.
’n Jong meisie se sy was oortrek met letsels van mislukte operasies. Sy kon vir die eerste keer haar arm oplig en sal nou sonder hulp na haarself kan omsien.
Emanuel het ’n jaar lank pyn gehad en moes twee maande lank krukke gebruik. Tydens die gebed vir die siekes het hy egter “gevoel hoe iets deur sy voete gaan”. Skielik was alle pyn weg!
Direk ná afloop van die veldtog het eerw. Ephraim Kambanji (’n pastoor betrokke by die veldtog) getuig: “Ons het ’n tak in een van die plattelandse dorpe gaan oopmaak en die eerste dag het 126 mense hulle lewens aan Jesus oorgegee. Talle mense is daardie aand onmiddellik genees en selfs ’n toordokter het sy lewe aan Jesus oorgegee. Die getalle het aanhou toeneem met mense wat kom vir gebed. Teen die einde het die bywoningsgetalle verdriedubbel. Ons kon twee selgroepe begin met die nuwe bekeerlinge.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 06/08/2023
Foto’s verskaf
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.