Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: incontextinternational.org
Die situasie op die grens van Moldowa as gevolg van die voortslepende Russiese inval van die Oekraïne is gespanne volgens Moldowa se minister van verdediging, Anatolie Nosatîi. Hy het dit in ’n onderhoud op Saterdag 25 Maart beklemtoon, maar bygevoeg dat daar tans geen risiko is van ’n direkte Russiese aanval op Moldowa nie. Sy versekering het enkele dae voor die gesamentlike militêre oefeninge van die spesiale magte van Amerika, Engeland, Roemenië en Moldowa gekom wat tot gister (7 April) sou voorduur. Dit vorm deel van die “Sea Shield 23”-oefeninge waarby 3 400 soldate van die Navo-alliansie betrokke is. Ondanks die minister se versekering, bly Moldowiërs gespanne.
Nadat president Maia Sandu die 2020-verkiesing gewen het, het sy begin met die lang proses om vir lidmaatskap van die Europese Unie (EU) aansoek te doen. Op 23 Junie 2022 het die EU kandidaat-status aan die land toegeken. Baie mense in hierdie Oos-Europese land, wat tussen die Oekraïne en Roemenië geleë is, is bekommerd dat hulle volgende deur Rusland ingeval kan word. Daar is berigte van Russiese missiele wat die lugruim van Moldowa kruis, met sommige wat selfs in die land se grondgebied val.
Burgerloorlog
Toe die Sowjet-unie in die vroeë 1990’s gedisintegreer het, het ’n burgeroorlog in die voormalige Sowjet-republiek van Moldowa tussen die Moldowiërs wat pro-onafhanklikheid was en die pro-Russiese minderheid, wat deur lede van Rusland se 14de weermagkorps ondersteun is, uitgebreek. In 1992 het die land verdeel, met die pro-Russiese kant wat ’n wegbreekstaat, algemeen bekend as Transnistrië aan die oostekant van die Dniester-rivier wat aan Oekraïne grens, aangekondig het. Die wegbreekstreek word nie amptelik as ’n staat erken nie, maar die de-facto regering van die self-aangekondigde staat word ekonomies, polities en militêr deur die hedendaagse Rusland ondersteun.
In 2006 het Transnistrië sy eis vir onafhanklikheid deur ’n referendum herbevestig en gestem vir ’n unie met Rusland. Volgens Operation World veroorsaak die streek onbestendigheid in die land en dit het ’n sentrum vir georganiseerde misdaad en smokkelary geword. Gebed vir ’n wonderbaarlike ingryping is nodig om die kwessies wat deur die onbestendigheid en die land se sukkelende ekonomie veroorsaak word, op te los. Moldowa word as die armste land in Europa beskou, met een uit vier Moldowiërs wat in die buiteland werk soek. Dit is hartseer dat dié land die grootste persentasie vroue het wat in ander lande by mensehandel ingelok word.
Die Oosters-Ortodokse godsdiens is die vernaamste godsdiens in Moldowa. Van die Oosters-Ortodokse Christene behoort 86% aan die Moldowiese Ortodokse Kerk, wat ’n outonome deel van die Russies-Ortodokse Kerk is, terwyl 13% lede is van die Bessarabies-Ortodokse Kerk, ’n selfregerende kerk onder die Roemeens-Ortodokse Kerk. Sommige lede van die Ortodokse Kerk mag godsdienstig wees sonder dat hulle ’n ware begrip van die Woord en ’n verhouding met God het. Die wêreldwye Kerk kan egter bid dat mense wat in hierdie tyd onseker voel, ’n ware begeerte sal hê om Christus as hulle Verlosser te leer ken en dat hulle hul lewens op die grondslag van Sy leringe sal bou wat nie deur enige storm geskud sal word nie (Matteus 7:24-27).
Vlugtelinge
Moldowa huisves tans ongeveer 100 000 vlugtelinge van Oekraïne. Daar is baie berigte van Moldowiërs wat saamstaan en mobiliseer om hulle bure by te staan, wat noemenswaardig is aangesien Moldowa nie ’n groot land is nie en boonop te kampe het met ’n swak ekonomie.
Mense het hulle huise vir Oekraïners oopgemaak en is betrokke by verskeie humanitêre projekte gemik op vlugtelinggesinne. Talle Oekraïners wat aangeraak is deur die goedheid van die Moldowiërs wil nou op hulle beurt weer ander help. Daar is ook duisende vlugtelinge met ’n Roma-etnisiteit – ’n groot staatlose etniese groep sonder die regte dokumentasie – wat beskerming in Moldowa geniet. Die Kerk in Moldowa het ’n spesiale geleentheid om uit te reik na die vlugtelinge van Oekraïne, veral in hierdie unieke weerlose vlugtelinggemeenskap wat al lank in Europa gemarginaliseer word. ’n Roma-man met wie Euronews ’n onderhoud gevoer het, het getuig dat die hartlike verwelkoming wat hulle in Moldowa ontvang het sommige Roma-mense gehelp het om die traumatiese ervarings wat hulle in Oekraïne gehad het, te bowe te kom – nie net die trauma van die oorlog nie, maar ook die trauma as gevolg van die vyandiggesindheid teenoor hulle as ’n bevolkingsgroep. Dit is ongelukkig nie die ervaring van al die Roma-mense in Moldowa nie, maar dit kan die getuienis van die Kerk wees indien gelowiges in liefde na die Roma-vlugtelinge uitreik en ’n diskriminasie teenoor hulle ontmoedig.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 08/04/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.