Geskryf deur: Vivienne Myburgh
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Israel is die énigste nasie waarvoor God self die landsgrense opgestel het: “Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. Want die Here se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel” (Deut 32:8-9 OV).
God het gekies om sy naam en identiteit daar te plaas
In Genesis 17:8 bevestig God die ewige aard van die landverbond met Abram en sy nageslag: “En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.”
In Bybelse terme poog enigiemand wat ’n Palestynse staat in Judea en Samaria erken in wese om die ewige verbond tussen God en die Joodse volk te ontken. Sodoende kom hulle teen sy Woord en in wese eintlik teen God self te staan.
Is die Israel van die Bybel vandag steeds dieselfde Israel?
Dit moet dieselfde Israel wees aangesien die Skrif verwys na ’n tyd in die toekoms waar die volk in ballingskap sou wees, maar weer teruggebring sal word na dieselfde land toe. Hoe anders kan ons die woorde interpreteer wat die profete oor Israel geskryf het en wat slegs deur die huidige Israel vervul word?
“Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat die mense nie meer sal sê: ‘So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het nie…’ (Jer 23:7-8). Dit was die grootste wonderwerk van die antieke wêreld … hulle het daaroor geskryf en hulle het die God van Israel gevrees as gevolg daarvan! En tog het Jeremia geprofeteer oor ’n dag wat sou kom waar nog ’n wonderwerk selfs daardie een sou oortref… “…maar hulle sal sê: ’So seker as die Here leef wat die nageslag van Israel met sorg teruggebring het uit die land in die noorde en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.’ Dan sal hulle weer in hulle eie land woon.”
Moskou lê reg noord van Jerusalem. Tussen 1991 en 2000 het byna 1 miljoen Jode uit Rusland in Israel kom woon. Hierdie profesie is nog nooit voorheen vervul nie. Dit is duidelik dat Jeremia na die Israel van vandag verwys het. Die wonderwerk van die Joodse volk wat huis toe kom, is in vervulling van byna 100 Bybelse profesieë en het voor die oë van die nasies plaasgevind – tog het hulle nie as gevolg daarvan verklaar dat die Here lewe nie. Dit is een ding vir nasies om hulle hiervoor blind te hou, maar totaal onverklaarbaar wanneer dele van die Kerk hulle ook blind hou vir die Skrifte wat op so ’n duidelike manier vervul word!
Hoe kan ons Israel ondersteun wanneer onskuldige mense in Gasa sterf?
Eerstens is daar absoluut geen morele gelykwaardigheid tussen Hamas en Israel nie. Die Jode het nog nooit babas in oonde geplaas en lewendig verbrand terwyl hulle die moeders verkrag het nie. Hele gesinne is vasgebind en gemartel voordat hulle lewendig verbrand is – ek kan die een voorval na die ander aanhou opnoem…Die gruweldade wat op die 7de Oktober gepleeg is, was die ergste wat op een enkele dag gepleeg is sedert die Holocaust en is met ’n koelbloedige wreedheid gedoen wat nie eers in die Holocaust gesien is nie. In Hebreeus beteken Hamas “gewelddadige een” en in Arabies, “vurig en fanaties” – dit is ’n fanaties gewelddadige entiteit!
Hierdie oorlog het onbeteuelde haat in die wêreld ontketen, nie teen die moorddadige entiteit van Hamas nie, maar teen Israel omdat hy homself verdedig en gyselaars wil huis toe bring. Israel doen meer as enige ander weermag om burgerlikes te beskerm en het daarin geslaag om ’n histories laer persentasie burgerlike sterftes te behaal (twee burgerlikes tot een soldaat) as byna enige ander weermag in die moderne geskiedenis (Amerika se ratio in Irak was 3:1). Dit is in skrille kontras met die onlangse Siriese en Russies-Oekraïnse oorlog, waar die betrokke diktators geen ag geslaan het op burgerlike lewens nie. Israel het dit vermag, selfs terwyl Hamas van binne burgerlike gebiede veg en onskuldiges as menslike skilde gebruik. Tog word Israel steeds beskuldig en vir die duiwel uitgekryt.
Die 7de Oktober was nie net ’n misdaad teen Israel nie, maar ’n misdaad teen die mensdom! As jy omgee vir die Palestyne wat in Gasa woon, sal jy Israel ondersteun om hulle vry te maak van die tirannie van Hamas!
Wat moet Christene nou vir Israel doen, watter rol speel die ICEJ?
Ons is geroep om die Joodse volk te troos en ons doen dit op praktiese maniere. Dit is verblydend dat Christene vroeër deur die Internasionale Christen-ambassade Jerusalem (ICEJ) eerstereageerdertoerusting voorsien het aan die suidelike gemeenskappe wat aangeval is. Hulle het getuig dat die toerusting hulle in staat gestel het om binne sekondes met hulle veiligheidspanne te kommunikeer, wat tot 3 000 lewens gered het. ICEJ ondersteun steeds die gemeenskappe in die suide wat erg geraak is, en ondersteun en befonds Aliyah aangesien daar ’n toename is weens toenemende vlakke van anti-Semitisme.
Dit is belangrik om bewus te wees van die feite in die voortdurende mediastryd. Sluit aan by ons daaglikse Israel update-WhatsApp-groep – kontak 083 306 0009. Ons het ook uitstekende kursusmateriaal vir kerkgroepe.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 21/01/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.