Saamgestel deur: Gillian Fraser
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Elke maand ontvang JUIG! boodskappe van lesers wat vra of ons hulle kan help met inligting oor hoe om ’n boek in Suid-Afrika uit te gee. Miskien begin jy hierdie nuwe jaar geïnspireerd en opgewonde om jou eie boek te publiseer. Hier onder sal jy ’n paar wenke en raad vind om jou te help om hierdie reis na publikasie ’n suksesvolle een te maak.
Die harde waarheid
Laat ek met die harde waarheid begin: Jy moet die werklikheid van die publikasie en bemarking van jou eie boek versigtig oorweeg voordat jy begin. Daar is ongelukkig ’n uiters beperkte mark vir boeke in Suid-Afrika. Baie min boekwinkels (indien enige) sal plaaslike skrywers se boeke verkoop. Die grootste boekhandelaar in Suid-Afrika werk saam met sowat agt internasionale groothandelaars en jou kanse om ’n kleinhandelwinkel te kry wat jou boek sal verkoop, is amper nul. As jy ’n boek met Christelike inhoud wil publiseer, sal jy nog groter uitdagings teëkom. Tensy jy ’n groot aanhang het, is dit onwaarskynlik dat jy baie boeke sal verkoop.
Die belangrikste stappe
Alles in ag genome, beveel ons steeds aan dat jy jou storie skryf! Die eerste stap is om seker te maak dat jou boek behoorlik nagevors, goed geskryf en professioneel geredigeer is. Moenie hierdie proses afjaag nie! Jy benodig ook ’n professionele omslag met ’n opvallende titel. Omslae verkoop boeke!
Daar is ’n paar maniere om jou boek gepubliseer te kry
1 Vind ’n uitgewersmaatskappy en lê jou manuskrip voor: Die gemiddelde uitgewery ontvang elke dag groot getalle manuskripte. As joune suksesvol is, sal jy ’n klein tantieme van ongeveer 10% ontvang. Die uitgewer sal die aanvanklike bemarking behartig. As jou boek ná ongeveer drie maande nie verkoop nie, sal dit uit die boekwinkels verwyder word. Jy kan ’n uitgewersagent gebruik om jou aan ’n uitgewer bekend te stel en jou kanse om gepubliseer te word verhoog, maar dit kos ’n redelike bedrag geld.
2 Gebruik ’n skynuitgewer (vanity publisher): Dit is maatskappye wat jou laat betaal om jou boek voor te berei en uit te gee, maar hulle behou die regte op jou inhoud. Hierdie roete is duur. Jý doen weer eens die grootste deel van die bemarking vir min finansiële beloning.
3 Publiseer jou boek self deur ’n plaaslike drukkery. Print on Demand (POD) is ’n uitstekende Suid-Afrikaanse maatskappy wat óf net jou inhoud vir jou druk óf hulle kan jou bystaan met die skryf- en publikasiereis. Ons werk al jare lank saam met hulle en het baie Christen-skrywers gehelp om hulle eie boeke self deur POD uit te gee. Ons beveel hierdie opsie sterk aan. Hulle help ook met die verkope van jou boek deur herverkopers soos Takealot. JUIG!-lesers kwalifiseer vir ’n afslag wanneer hulle POD gebruik (kyk op die bladsy langsaan vir kontakbesonderhede).
4 Publiseer self jou boek aanlyn (e-boeke). Skrywers wat nie veel geld het om te spandeer nie, kan dit oorweeg om ’n e-boek uit te gee. Dit kos niks vooraf nie en jy behou beheer oor jou boek, die omslag, inhoud en prys. Vind ’n aanlyn boekwinkel, soos Amazon, en laai jou inhoud bloot op. Jy sal weer eens die meeste van die bemarking self moet doen.
Hoe om self e-boeke te publiseer
Amazon is die grootste verkoper van boeke in die wêreld. Hulle bied gratis publikasie van Kindle- en sagtebandboeke aan. Verspreiding word deur hulle behartig. Tantieme wissel van 35% tot 70%. Die enigste nadeel is dat jy self die boek moet formateer. Aanlyn digitale uitgewers soos Draft2Digital berei jou Word-dokument sonder enige koste voor.
Dit is tyd om jou boek te publiseer! Mag die Here jou seën!
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 20/01/2024
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.









