Geskryf deur: Rudi Briel
Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Daar is by sommige Christene onsekerheid en verwarring oor die vraag of die Joodse feeste vandag nog deur die Kerk onderhou moet word. Levitikus 23:1-2 stel dit duidelik dat die sewe Joodse feeste aan die volk van Israel gegee is, en nie aan die Christelike Kerk nie.
Hierdie sewe feeste sluit die volgende in: Pesach (Pasga), Hag Hamatz (Fees van Ongesuurde Brode), Hag HaBikkurim (Fees van die Eerstelinge), Shavuot (Pinksterfees), Rosh Hashanah (Fees van die Trompette), Yom Kippur (Dag van Versoening) en Sukkot (Fees van die Tabernakels).
Die feeste as God se heilsplan
Hoewel Christene nie verplig is om hierdie feeste te onderhou nie, wys elkeen van hulle vooruit na God se heilsplan vir die mensdom. Hierdie feeste dra tog duidelike boodskappe van God se verlossende genade vir die mens. Die eerste vier feeste het reeds vervulling gevind met Christus se eerste koms, terwyl die laaste drie feeste betrekking het op sy wederkoms.
1 Die uittog uit Egipte (Pasga)
Egipte verteenwoordig die land van sondige slawerny onder die mag van satan, waaruit Jesus sondaars kom verlos sodat hulle die Kanaan van die ewige lewe kan betree. Soos die bloed van die Paaslam aan die deurkosyne God se oordeel afgeweer het net voor die uittog, so sal die bloed van die Lam van God die oordeel afweer van almal wat deur sy bloed gewas is op die oordeelsdag. “Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ‘n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan” (Eks 12:13). “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom 8:1).
2 Verlossing van sonde (Fees van Ongesuurde Brode)
Suurdeeg is simbolies van sonde, en die verwydering daarvan uit Joodse huise het vooruit gewys na die toekomstige verlossing van sonde. Christus is die Ongesuurde, die sondelose Brood van die lewe, deur wie se bloed die sonde en sondeskuld van die gelowige verwyder word. In Kolossense 2:13-14 word verduidelik dat God ons, wat dood was in sonde, saam met Christus lewend gemaak het deur al ons sondes te vergewe en ons skuld volledig aan die kruis weg te neem.
3 Opstanding uit die dood (Fees van Eerstelinge)
Die Jode het die eerste vrugte van hul oes aan die Here geoffer. Hierdie fees het vooruit gewys na Christus, die Eersteling van die opstanding uit die dood, wat die opstanding van alle wedergebore gelowiges waarborg. “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het” (1 Kor 15:20). Soos alle mense in Adam sterf, sal almal wat aan Christus behoort lewend gemaak word. Hierdie opstanding het ’n orde: Christus eerste, en daarna, by sy wederkoms, dié wat aan Hom behoort (1 Kor 15:22-23).
4 Uitstorting van die Heilige Gees (Pinksterfees)
Hierdie fees het reeds vervulling gevind. Die woord Pinkster beteken “vyftig” in Grieks en het vooruit gewys na die uitstorting van die Heilige Gees, vyftig dae ná die kruisiging. In Handelinge 2:1-4 lees ons hoe die Gees op die dissipels uitgestort is: ’n kragtige geluid het die vertrek gevul, tonge soos van vuur het op hulle gekom, en almal is met die Heilige Gees vervul en het in ander tale begin spreek.
5 Fees van die Trompette
Hierdie fees, wat Christus se wederkoms simboliseer, is ingelei deur die blaas van ramshorings en wys vooruit na oestyd en ’n nuwe lewe. “Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees” (1 Tess 4:16-17).
6 Dag van Versoening
Op hierdie dag gaan die Jode sinagoge toe om vir versoening te bid. Volgens tradisie word elke persoon se lot vir die komende jaar deur God in die Boek van die Lewe neergeskryf. Die volk se sondes is simbolies op ’n bok se kop gelê wat dan van ’n afgrond afgestuur is om te sterf en versoening te bring. Christus het dit egter reeds volkome vervul deur sy soendood vir almal wat hulle bekeer. Tog dui hierdie fees op die eindtyd, wanneer die hele Israel uit ’n groot beproewing gered sal word en Jesus uiteindelik sal erken as die Seun van God, Verlosser en enigste Messias (Sag 12:2-10; Matt 24:29-31; Rom 11:26).
7 Fees van die Tabernakels
Met hierdie laaste fees herdenk die Jode God se voorsiening en beskerming tydens hul veertig jaar se omswerwing in die woestyn. Gedurende die agt dae van die fees woon hulle in eenvoudige skermpies in die buitelug. Hierdie fees dui op die voleinding van Christus se werk, wanneer Hy by sy wederkoms al sy kinders in die ewige tabernakel van heerlikheid sal ontvang. Kyk na Openbaring 21:3-6.
Die Joodse feeste dra ’n ryk simboliek en betekenis wat die Kerk kan waardeer en verstaan, maar Christene is nie verplig om dit te onderhou soos die volk Israel moes nie (Lev 23:1-44). Kolossense 2:16 herinner ons dat niemand ons moet oordeel oor feesdae of Sabbatte nie, want dit was ’n skaduwee van dit wat sou kom – die werklikheid is in Christus alleen.
Rudi Briel – senior pastoor van die AGS Centurion-gemeente. Volg sy boodskappe op AGS Centurion se Facebook-blad. admin@agscenturion.co.za.

Foto slegs ter illustrasie.
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








