Geskryf deur: Daniel Kolenda
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

In 2 Kronieke 16:1-3 lees ons: “In die ses en dertigste regeringsjaar van Asa het koning Baesa van Israel met ’n veldtog teen Juda begin. Hy het die stad Rama in ’n vesting omskep om te verhoed dat mense heen en weer beweeg na en van koning Asa van Juda. Asa het toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die paleis gevat en dit vir koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus gestuur met die boodskap: ‘Daar is ’n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons vaders. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.’”

’n Verdeelde koninkryk
Daar was ’n tyd in Israel se geskiedenis, ná Salomo se dood, toe die koninkryk in twee verdeel is – die noordelike deel het Israel geword en die suidelike deel Juda. Van daardie punt af, wanneer jy in die Ou Testament van Israel lees, verwys dit nie na die hele volk van God nie, maar net na die noordelike koninkryk. Hierdie noordelike deel het vinnig in afgodery en onsedelikheid verval en was dikwels onder God se oordeel. Die suidelike deel was Juda, met Jerusalem as hoofstad, en die koninklike lyn van Dawid het deur Juda voortgeduur. Hierdie gedeelte in 2 Kronieke verwys dus spesifiek na die noordelike koninkryk, Israel.

Asa word aangeval
In hierdie konteks is Israel die vyand en Juda die “goeie kant”. Asa was die koning van Juda, en Baesa die koning van Israel. Baesa, die bose koning, wou Asa oorwin. Hy versterk die stad Rama, wat strategies op die grens gelê het, om die mense van Juda te keer om uit of in te gaan. Daarna het hy selfs begin inval. Dit was ’n ernstige bedreiging. Asa het groot vrees beleef – hy was tereg bekommerd, want ’n magtige vyand het hom binnegeval.

Hy maak staat op sy eie wysheid
Asa se reaksie is fassinerend. In plaas daarvan om die Here te raadpleeg en te sê: “Here, help ons,” of “Here, wat moet ons doen?”, steun Asa op sy eie insig en strategie. Hy maak ’n plan wat menslik gesproke slim lyk, maar die Here was nie tevrede nie. Hy stuur ’n boodskap aan Ben-Hadad, die koning van die Arameërs, en bied vir hom silwer en goud aan in ruil vir sy hulp. Die Bybel sê Asa het die silwer en goud uit die skatkamers van die tempel en paleis gevat – die rykdom van Juda – en dit gebruik om ’n heidense koning om te koop om hom te help teen die noordelike koninkryk van Israel. Dis amper soos twee broers wat baklei en die een wat ’n
vreemdeling inroep – en so bring hy ’n nog groter vyand nader.

Skynbare sukses
Op kort termyn lyk dit of Asa se plan gewerk het. Op die oog af was dit suksesvol, en Juda was strategies beter geposisioneer. Maar dit het die Here nie behaag nie. Ganani, die siener, kom na Asa toe en sê: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God, het jy jou kans verspeel om hom te verslaan. Het jy vergeet hoe die Here die magtige leërs van die Kussiete en Libiërs met al hulle strydwaens aan jou oorgegee het toe jy op Hom vertrou het? Die oë van die Here deurgaan die hele aarde om dié te versterk wie se harte volkome op Hom gerig is. Jy was dwaas – van nou af sal jy oorlog hê.”

God soek dié wat op Hom steun
Asa het só kwaad geword vir die profeet dat hy hom in die tronk gegooi het en selfs sy eie mense begin verdruk het. Wat interessant is, is dat die vers wat ons almal ken – dat die oë van die Here deur die hele aarde gaan – nie net ’n algemene stelling is oor God wat sy mense wil help nie. Dit staan in die konteks van ’n koning wat homself in ’n moeilike situasie bevind het. In plaas daarvan om na die Here toe te draai, het hy op die arm van die vlees gesteun, en dit het die Here aanstoot gegee. Wat God soek, is mense wat volkome op Hom steun, en as hulle dit doen, sal Hy hulle help en sy Naam deur hulle lewens verheerlik.

’n Oop deur vir ’n wonderwerk
Wat as daardie beproewing wat jy beleef – daardie finansiële stryd, siekte of ander druk – eintlik ’n Goddelike geleentheid is? ’n Oop deur vir ’n wonderwerk wat God se Naam verheerlik en jou na die volgende vlak neem wat Hy vir jou beplan het? Wat as dit deel is van sy plan om jou en jou gesin te seën? Uiteindelik was dit presies wat dit vir Asa was. Maar uit vrees het hy op die vlees gesteun en die dinge wat hy gevrees het, oor homself gebring.

’n Dwaas genoem
Die profeet het vir Asa ’n dwaas genoem. Dis sterk taal. In Psalm 14:1 lees ons: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.” Ek het altyd gedink hierdie vers is vir ateïste – ateïste is dwaas, want hulle sê in hulle harte: “Daar is geen God nie.” Toe het die Here my tereggewys en gesê: “Nee, nee. Ateïste sê met hulle monde: ‘Daar is geen God nie.’”

Praktiese ateïsme in die Kerk
Diegene wat in hulle harte sê: “Daar is geen God nie,” is eintlik dié wat uiterlik bely dat hulle in God glo, maar deur hulle lewens en harte verklaar dat hulle nie glo nie. Hulle is, in ’n sekere sin, wat ek praktiese ateïste sou noem. Baie mense bely God met hulle monde, maar hulle lewens wys dat hulle Hom nie werklik vertrou nie. Hulle leef asof God nie bestaan nie, al sê hulle anders. As ons werklik glo wat ons bely, hoe anders sou ons lewe nie wees nie?

Dit is beter om die Here te vertrou
Dit is beter om op die Here te vertrou as om jou vertroue in mense te stel. Dit is beter om op die Here te vertrou as om jou vertroue in prinse te stel. Dit is beter om die Here te vertrou as om te vertrou op wie die volgende president gaan wees. Dit is beter om die Here te vertrou as om te vertrou op wat dalk in die behuisingsmark, die ekonomie of die aandelemark gaan gebeur of nie gaan gebeur nie. Dit is beter om die Here te vertrou. Ek gaan dalk hier op party tone trap, maar dit is beter om die Here te vertrou as om jou vertroue in die regering, jou dokter, jou prokureur, jou sielkundige, jou psigiater, jou berader, jou mentor of jou lewensafrigter te stel. Baie mense hardloop na hierdie selfaangestelde “kundiges”, terwyl die Here van die heelal daar staan – gereed en gewillig om jou te help. Hy word stil gehou, geïgnoreer en verwaarloos omdat jy op die arm van die vlees steun. Hy wat die heelal gemaak het en die sterre in die palm van sy hand hou, staan reg om jou te help. Tog steun jy op die arm van sterflike mense wat net so broos, swak en onbevoeg is soos jyself. Watter groot fout maak ons nie wanneer ons Jesus uit die middelpunt van ons lewens verwyder nie!

Onthou die Here
Ek onthou jare gelede toe ons ’n konferensie in Duitsland gehou het. Dit was ons bediening, Christ for All Nations. Ons het ’n groot arena gehuur en die byeenkoms daar aangebied. Ek het elke dag van die konferensie gepreek, en natuurlik, wanneer jy in sulke arenas preek, verskyn jou gesig op die groot skerm en almal daar weet wie jy is. Op pad na die laaste diens, op die laaste aand van die konferensie, het ek ’n bietjie laat weggekom. Toe ons daar aankom, het ek besef ek het my ID-pas vergeet – en dit was nodig om toegang tot die gebou te kry. Ek sê toe vir die persoon wat my gehelp het: “Ag nee, ek het my ID vergeet.” Hy antwoord: “Moenie bekommerd wees nie, jou gesig is jou ID. Almal het jou gesien; hulle weet jy hoort hier.” My assistent het agter die arena by die diensingang opgedaag, maar toe ons probeer ingaan, het ’n wag ons gestop. Hy het gesê: “Jy kan nie ingaan sonder ’n sekuriteitskaart nie.” Ons het verduidelik: “Dit is Daniel. Hy lei die bediening Christ for All Nations. Dit is hulle wat hierdie plek gehuur het. Hy is vanaand die hoofspreker.” Die wag het egter gesê: “Ek gee nie om wie jy is nie. As jy nie daardie ID het nie, kom jy nie deur hierdie deur nie.”

Kyk, Ek staan by die deur en klop
Stel jou hierdie amper snaakse toneel voor: Binne in die gebou sit ’n arena vol mense. Die aanbiddingspan het klaar gespeel en probeer vir tyd speel terwyl hulle wag dat ek moet uitkom. Ek sit vas buite die agterdeur en probeer om by my eie geleentheid in te kom – maar ek kan nie ingaan nie, want hulle laat my nie toe nie. Dít is die prentjie wat geskets word wanneer jy Openbaring lees, waar dit staan: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan” (Op 3:20). Maar het jy geweet dat dit oorspronklik nie verwys na Jesus wat by ’n ongelowige se hart klop nie? Dit was Jesus wat by die deur van die gemeente van Laodisea gestaan het en vir sy mense gesê het: “Ek weet nie wat daar binne aangaan nie, maar Ek is buite. Ek klop aan die deur. Laat My terug in my eie Kerk.”

Uitgesluit uit sy Kerk
Verstaan jy hoe dit moontlik is om ’n kerk sonder Jesus te hê? Hoe kan jy ’n Christen wees sonder Christus? Ja, ons is vinnig om vinger te wys na kerke en godsdienstige bewegings, maar wat van jou? Wat van jou lewe? Jy is die Kerk. Die gebou waarin jy bymekaarkom, is nie die tempel van die Heilige Gees nie – jy is die tempel van die Heilige Gees. En weet jy wat in die middel van die tempel behoort te wees? Die godheid, die God wat aanbid word. Is Jesus in die Allerheiligste van jou hart, of staan Hy buite en wens dat Hy weer kan inkom?

Asa grawe sy eie graf
Terug by Kronieke, dit is ongelooflik dat Asa so ’n groot fout gemaak het. Aanvanklik het Asa geweier om die Here te vertrou. In plaas daarvan het hy gesteun op ’n vreemde mag en uiteindelik die probleem veroorsaak wat hy probeer oplos het. Hy was bang vir oorlog, en die profeet het gesê dat, omdat hy op die arm van die vlees vertrou het, hy van toe af oorlog sou hê. Hy het dieselfde fout weer gemaak. ’n Paar verse later lees ons dat Asa ’n ernstige voetkwaal ontwikkel het. Selfs met die erns van sy siekte het hy nie die Here se hulp gesoek nie, maar net op dokters gesteun. Hy is dood, en die volgende vers tref soos ’n hamer: Hy is begrawe in die graf wat hy vir homself laat uitkap het. Die Here het gereed gestaan om hom teen sy vyande te help, maar Asa het sy hoop op ’n vreemde koning gesit. Die Here was daar, gereed om sy siekte te genees, maar Asa het sy vertroue in dokters geplaas. Aan die einde van die dag was al die vrede wat hy verloor het en die onnodige pyn wat hy gedra het, sy eie skuld. Hy het sy eie graf gegrawe omdat hy geweier het om te vertrou op die Een wat gesê het: “Ek sal vir jou sorg.”

’n Roepstem om weer te vertrou
Die Here wys vir ons iets – nie net deur hierdie Skrifgedeelte nie, maar ook in hierdie seisoen van ons lewens. Daar is ’n oproep aan ons as gelowiges om nie net op ’n teoretiese manier die Here te vertrou nie. Ons praat dikwels daaroor om die Here te vertrou wanneer dit oor redding gaan. Natuurlik kan jy nie gered word sonder geloof nie, maar dikwels kom ons tot geloof deur geloof – en dan, eenmaal daar, hou ons op om die Here te vertrou. Ons hou op glo. Ons hou op om op die Here te steun.

Wees ywerig in jou bekering
Weer eens, in Openbaring, wanneer Jesus sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop” sê Hy ook: “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet.” Om deur die Here tereggewys te word, is nie iets negatiefs nie – dit is die beste ding wat met jou kan gebeur. Hy sê: “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.” Wees dus passievol oor jou bekering – moet jouself nie teensinnig bekeer nie. Hardloop na daardie altaar en werp jouself op die genade van God. Draai jou lewe om, want Hy het jou nog ’n kans gegee.

Is Jesus die Here van jou lewe?
Sit Jesus aan die hoof van jou tafel, of staan Hy nog by die deur en klop? Is Hy in die bestuurdersitplek, of in die kattebak? Jesus wil die Here van jou lewe wees – nie jou assistent of jou maatjie nie. Hy is óf jou Meester, jou Here, jou Koning – óf Hy beteken niks vir jou nie. Jy kan nie net ’n kruis om jou nek dra soos ’n gelukbringer om bose geeste af te weer nie. Dit werk nie so nie. Jy kan ook nie jouself ’n Christen noem en die voordele in Christus geniet terwyl jy leef soos die duiwel nie.

’n Diagnose vir jou lewe
Dit is ’n praktiese vraag – ’n diagnose vir jou lewe. Dit gaan nie net daaroor om Sondae in die kerk liedere oor Jesus te sing nie. Spandeer jy elke dag tyd saam met Hom? Is Hy die prioriteit, nie net in teorie nie, maar in tasbare dinge soos waar jy jou tyd en energie bestee? Bid jy? Ek weet dit klink eenvoudig: Lees jou Bybel, bid elke dag, en jy sal groei. Maar dit is die nommereensaak wat gelowiges verwaarloos. Lees jy jou Bybel? Is Jesus die middelpunt van jou gesin? Miskien moet jy jou gesinsaltaar weer herbou – sit saam om die tafel van die Here, bid saam, lees saam die Bybel en maak Jesus Koning in jou huis. Is Hy die Here van jou besigheid? Volgende keer as jy ’n groot besluit moet neem, moenie net staatmaak op dit wat jy op besigheidskool geleer het nie. Moenie net ’n YouTube-video kyk of ’n boek lees of ’n sakevriend vra nie. Sou dit nie beter wees om die mense in jou kantoor bymekaar te roep en te sê: “Kom ons vat hande en vra die Here wat Hy wil hê ons moet doen” nie? Eer Hom deur sy wysheid en leiding te soek.

Eer die Here in alles
As jy die wil van God in ’n spesifieke situasie oor jou toekoms soek en jy het ’n paar opsies – een wat finansieel beter lyk, ’n ander wat soos ’n beter loopbaanstap lyk, en een wat die Here eer – kies om die Here te eer. Eer die Here, en Hy sal vir jou sorg. Hy sal jou bevorder en jou seën meer as wat jy ooit kan dink. As jy Hom eer, Hom eerste stel en Hom in die middelpunt hou, sal alles anders in plek val.

DANIEL KOLENDA – president en HUB van Christ for all Nations en hoof-pastoor van Nations Church in Orlando, Florida (VSA).

…om die volle artikel te lees, skaf gerus vir jou hierdie JUIG Tydskrif aan! Koop eksemplare by toonaangewende supermarkte, of vind dit (druk of digitaal) aanlyn by joygifts.co.za.

> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.

Datum gepubliseer: 18/12/2025
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here