Artikelbron: timesofisrael.com
Duisende Israeli’s het Sondag by die Klaagmuur vergader om vir Israel se eenheid te bid. Tienduisende teenstanders van premier Benjamin Netanyahu se omstrede regstelselhervormingspakket het die vorige dag ná ’n vier dae lange protesoptog by die parlement in Jerusalem aangekom. Baie Israeli’s vrees dat die demokratiese waardes van die Joodse land bedreig word.
Die gebedsgeleentheid is onder meer deur rabbi’s en politici uit die hele politieke spektrum gereël, dit wil sê ondersteuners en teenstanders van die omstrede wetsontwerpe. Die massagebed het ’n paar dae voor Tisha Beav, Judaïsme se tradisionele roudag, plaasgevind. Jode treur op hierdie dag oor die vernietiging van die Joodse tempel en die verdrywing van die Joodse volk. Tisja Beav val vanjaar op 27 Julie.
“Met hierdie dag wat nader kom, bevind ons onsself in groot moeilikheid, op die randjie van ’n afgrond,” het rabbi David Stav aan The Times of Israel gesê. Stav het die massagebed beskryf as “’n pleidooi aan die Almagtige om wysheid en goeie raad aan ons leiers te gee sodat ons staat ongedeerd uit hierdie situasie kan kom.” Benewens die massagebed het betogers ’n menseketting gevorm wat tot by die Knesset (Israelse parlement) gestrek het, waar oor die omstrede wetsontwerp gestem is.
Netanyahu se verregse koalisie sou na verwagting die hervorming Maandag voor die aanvang van die somerreses goedkeur. Daar word beoog dat die hooggeregshof nie meer wetgewing wat deur die parlement aanvaar is of optrede deur die regering as onwettig sal kan verklaar en afmaak nie. Dit sou hoofregters ondergeskik aan die parlement stel.
Sedert die hervormings in Januarie aangekondig is, het honderdduisende mense elke week betoog, berig ANP. Teenstanders van die nuwe wetgewing sê Netanyahu en sy koalisievennote ondermyn die demokrasie en praat van ’n “staatsgreep”. Die planne veroorsaak groot verdeeldheid en weerstand in Israel.
Meer as 1 100 reserviste van die lugmag, waaronder honderde vegvlieëniers, het byvoorbeeld Vrydag in ’n ope brief aangekondig dat hulle sal bedank as die hervorming nie geskrap word nie. Volgens die koerant Haaretz is die brief ook deur ’n paar dosyn voormalige senior amptenare van die Israelse veiligheidsdienste onderteken, insluitend militêre stafhoofde en inligtingshoofde van Shin Bet en Mossad.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 25/07/2023
Foto skerskoot: youtube.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








