Geskryf deur: Meg Kilgannon Artikelbron: prophecynewswatch.com 

Ek wou regtig nie na hierdie rolprent gaan kyk nie. Wie wil ’n fliek sien oor gruwelike misdade teen kinders en die stelsels wat kindersekshandel ondersteun of versuim om dit te stop? Maar ek het verplig gevoel om Sound of Freedom te ondersteun. En ek was bly om die gegons daaroor in die konserwatiewe mediasfeer te hoor. Sound of Freedom het op al die regte plekke geraas gemaak.

Ek het dus my kaartjies aanlyn gekoop en vir myself gesê dat ek ten minste my plig gedoen het om hierdie verdienstelike saak finansieel te ondersteun. My sitplek is verkoop en al sit ek nie daarin nie, sal die teater steeds geld maak. Ondanks my beste pogings om êrens anders te wees, was ek tog op 4 Julie in die sitplek.

Ek verstaan steeds nie hoe ek die teater met hoop in my hart verlaat het nie. Ek het verwag om wanhopig en gewalg te voel nadat ek ’n rolprent oor kindersekshandel gekyk het. En daar was beslis oomblikke met sulke gevoelens in die loop van die fliek, maar die krag van kuns om die jou hart te roer is ’n werklikheid, al is dit moeilik om te beskryf, selfs nadat jy dit ervaar het.

Dit is ook moeilik om ’n fliek te beskryf sonder om die storielyn vir ander te bederf. Hier is vyf indrukke wat hierdie fliek op my gelaat het: Ek hoop dit inspireer jou om daarna te gaan kyk.

1. ‘God se kinders is nie te koop nie.’

Dit is die motivering vir die hoofkarakter om voort te gaan, ondanks die sielsvenietigende werk om georganiseerde pedofielnetwerke op te spoor en hul slagoffers te red. Sound of Freedom het my weereens laat nadink oor die werk wat ons van ander verwag om namens ons te doen: polisiëring, soldate, bewaking. Dit is harde werk, meestal gedoen deur mans wat hul lewens aflê om ander te beskerm en te dien. Ons verwag van hulle om baie van die dinge te hanteer wat ons self liefs nie van wil weet nie. Baie van hulle doen hierdie werk omdat hulle dit as ‘n hoër roeping beskou, een wat ons ondersteuning in gebed nodig het.

2. ‘Ek voel asof sy my dogter is.’

Mev. Tim Ballard stuur hierdie boodskap aan haar man terwyl hy weg is op soek na ’n slagoffer. Haar liefde en ondersteuning vir hom en sy werk word pragtig in hierdie rolprent oorgedra. Sy word ook gevra om ’n deel van die las wat haar man dra, namens ons te dra. Sy verteenwoordig ’n baie groter groep mense wat ons dankbaarheid en ons gebede verdien.

3. ‘Ek was daardie duisternis.’

’n Man peins oor sy rol as ’n verbruiker in die volwasse seksbedryf. Sy verlossing van direkte betrokkenheid is slegs deur die genade van God. Hierdie karakter het my egter laat dink oor wat ek kan of moet doen om hierdie ernstige onreg teen vroue en mans, meisies en seuns te help stuit. Om die wettiging van “sekswerk” teen te staan, sal ten minste al ’n begin wees. Die verwydering van pornografie en pornografiese inhoud uit skoolbiblioteke en kurrikulums is ook noodsaaklik.

4. ‘Jy is op jou eie, Tim.’

Regeringsregstelling van onreg wat gepleeg is, is beperk. Tim Ballard, die hoofkarakter, moes op sy eie werk om die roeping te volg om God se kinders te beskerm. As Christene het ons ook ’n

verpligting om te bewys dat Tim nie alleen is nie. Elkeen van ons word geroep om die seksbedryf te bekamp, hetsy deur organisasies soos Covenant Eyes te bevorder wat teen pornografie waak, deur ons stem dik te maak teen pogings om pedofilie te normaliseer, of bloot deur ’n lewe te lei wat die waardigheid van elke man en elke vrou as ’n mens handhaaf – en nie as voorwerpe vir uitbuiting nie.

5. ‘Sou jy kon slaap as jou kind se bed leeg is?’

Dit is die pleidooi van ’n pa oor sy dogter wat deur menshandelaars ontvoer is. Hierdie tema was die hoofrede vir my aanvanklike onwilligheid om na die rolprent te gaan kyk. En dit was een van die redes hoekom, as ek dit dan moes sien, ek dit in ’n teater sou wou sien. Om so ’n vraag in ’n teater te hoor, is vir my baie anders as om dit in my sitkamer te hoor, met my eie kinders se beddens net met die trappe op.

Daar is ’n rolprente waarna ʼn mens bloot gaan kyk en dan agterlaat in die teater, maar hierdie rolprent is een om met ander te deel, by ’n teater of by jou kerk, of selfs in jou huis. Hoewel dit nie geskik is vir jong kinders is nie, is hierdie rolprent ’n merkwaardige kunswerk oor ’n aaklige onderwerp. Ek is dankbaar dat Angel Studios hierdie rolprent versprei en ek moedig jou ten sterkste aan om dit te gaan kyk. Ek is bly ek het dit gedoen.

Die fliek is te sien by Nu Metro-teaters. Klik hier om te sien waar die naaste een aan jou is. Ondersteun Angel Studios en ’n waardige saak. numetro.co.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 25/07/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here