Geskryf deur: Jeremiah Goddard incontextinternational.org Artikelbron:
Sedert Mei 2022 het 12 000 Bhoetanese na Australië geëmigreer. Dit verteenwoordig om en by 1,5% van die bevolking van die klein, landomringde Boeddhistiese land van slegs 777 000 (2021) mense wat strategies tussen Indië en China geleë is.
In 2022 was daar 30 000 Bhoetanese in Australië woonagtig en die tempo waarteen mense die land verlaat, is besig om eksponensieel toe te neem. Bhoetan is ’n nasie wat sy lewenskwaliteit aan “bruto binnelandse geluk” meet. Dit het ’n merendeels geslote ekonomie wat grootliks op toerisme en hidroëlektriese krag aangewese is. Toe die grense na COVID-19 in September 2022 heropen is, het nuwe toerismebelastings bo en behalwe ’n fooi per nag, ’n langsamer herstel as wat verwag is, in die land se toerisme sektor veroorsaak. Vir ’n land wat byna uitsluitlik van toerisme afhanklik is, het die stadige herstel van die toerismebedryf ’n 24% werkloosheidkoers, hoofsaaklik onder student, wat nou na Australië toe uitwyk, tot gevolg gehad.
Nie net is lewenskoste in Australië laer en werksvooruitsigte vir jong mense meer nie, maar emigrasie na Australië word ook as ’n kulturele tendens onder die Bhoetanese jeug beskou. Bhoetan is 40ste op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, ’n lys van lande waarin dit die moeilikste is om ’n Christen te wees. Statistiek verskil, maar na raming is daar sowat 18 000 Christene in Bhoetan wat ongeveer 2% van die totale bevolking uitmaak.
INcontext-kontakte in Bhoetan sê hierdie uittog van jong mense is hulle primêre bekommernis. Ondanks die feit dat hulle vervolging trotseer en ’n godsdiens aanhang wat nie in die land erken word nie, is die idee dat die jong mense die land verlaat, die grootste kwessie wat die kerk huidig die hoof moet bied. Vir baie is Christenskap en evangeliebediening ’n nalatenskap en hulle voel dat daardie nalatenskap bedreig word. Die Bhoetanese jeug beskou Australië as groener weivelde waar hulle beter en goedkoper onderrig en opvoeding kan bekom.
Daar is verskeie perspektiewe rakende hierdie massa-uittog om in gedagte te hou. Eerstens sal meer Bhoetanese die geleentheid kry om in Australië aan die Christendom blootgestel te word, aangesien ongeveer 43,9% van die bevolking Christene is. Die wêreldwye liggaam van Christus kan bid dat die Australiese Kerk hierdie geleentheid sal aangryp om diegene wat uit ’n nasie met so ’n groot “onbereikte” bevolking kom, te bedien en dat die Bhoetanese wat Christus in Australië teëkom ’n begeerte sal hê om terug te keer na hulle land en die evangelie met diegene binne hul invloedsfeer te deel.
Tweedens mag Bhoetan dalk tot meer openheid gedwing word om sodoende meer mense aan te moedig om in die land te bly. Ons kan God se vingerafdrukke in alle gevalle van migrasie sien. Dit is dus voor die hand liggend dat God ook in hierdie beweging van mense aan die werk is. Ons bid dat God jong kerkleiers sal oproep wat sal bly en die evangelie effektief aan hulle wat agterbly in Bhoetan sal bedien. Dit is onseker of die universiteitstudente wat weggaan, ooit weer terug sal kom, maar vir nou moet die Kerk saam met ons broers en susters wat hulleself in onseker tye bevind, staan. Die Kerk in Bhoetan is besig om uit te brei en dissipelskap is die sleutel tot hierdie groei. ’n Kontak van INcontext in Bhoetan skakel gereeld met kerke in afgeleë dorpies en merk op dat die evangelie besig is om vinniger as ooit te versprei. Daar is altyd hoop: hoop dat hulle wat na Australië getrek het, Christus sal vind; hoop dat hulle wat agterbly, soos die land ontwikkel, ’n blinker toekoms in Bhoetan sal beleef; hoop dat die Kerk sal voortgaan om teen ’n selfs groter tempo te groei; en hoop dat Bhoetan eendag ’n nasie met ’n Christen meerderheid op daardie strategiese plek in die wêreld sal wees.
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat God ’n nuwe generasie kerkleiers sal oprig;
- dat God Bhoetanese gelowiges vrymoedigheid en strategieë sal gee oor hoe om die evangelie te deel; en
- dat God dié in Australië waar daar meer godsdiensvryheid is, sal bereik.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 18/03/2023
Foto slegs ter illustrasie: unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.