Drie Christen-mans wat vier maande lank in aanhouding was in Mosambiek en toe voorwaardelik vrygelaat is tot hulle verhoor, is uiteindelik op pad huis toe.
Die drie, Ryan Koher, Eric Dry en Willem du Plessis is op 4 November 2022 in hegtenis geneem terwyl hulle voorberei het om voorrade na weeshuise in die noorde van Mosambiek te neem.
Koher (31), ’n vlieënier vir Ambassador Aviation Ltd. (AAL) wat ’n vennoot van MAF is, is saam met Willem du Plessis (77) en Eric Dry (69) in Mosambiek aangehou omdat hulle daarvan verdink is dat hulle steun aan rebellemagte in die land bied.
Hulle is in Maart vanjaar voorwaardelik uit die tronk vrygelaat, maar moes in Mosambiek aanbly terwyl die saak voortgeduur het.

Foto geneem in Maart net nadat die sendelinge vrygelaat is. Van links na regs: MAF-vlieënier Ryan Koher, Andy (’n plaaslike sendeling wat die mans oor hierdie tyd in Maputo gehelp het), Willem en Eric.
Jazz Christie, MAF se skakelbeampte, het bevestig dat die sendingorganisasie verlede week berig ontvang het dat die mans nou vry is om huis toe te kom en dat hulle paspoorte teruggegee is. Die twee Suid-Afrikaners is op pad huis toe.
n Verdere lof-item is dat die weeshuisvoorrade wat destyds gekonfiskeer is, ook terugbesorg gaan word en daarna die kinderhuis in die noorde geneem sal kan word. Hulle kan en sal gebruik maak van die voorrade wat nog nie verval het nie. Ons vertrou God vir sy voorsiening van wat tussen die voorraad verlore gegaan het. Sy getrouheid was so duidelik, en ons is regtig verbaas dat die voorrade oorhandig gaan word,” het Christie gesê.
Die organisasie se Cessna 206 waarop daar ook beslag gelê is, is reeds vroeër tydens die saak aan hulle terugbesorg.
Besoek gerus www.mafsa.co.za en teken in vir hulle nuusbrief en/of ondersteun hierdie sendingorganisasie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 10/10/2023
Foto: www.mafsa.co.za
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








