Artikelbron: Faithwire
Kunsmatige intelligensie hou ʼn ware bedreiging vir die vervolgde kerk in, volgens Global Christian Relief se uitvoerende hoof en president, David Curry.
Volgens ’n berig van Faithwire word die opkoms van hierdie gevorderde tegnologie ’n geruime tyd lank al met agterdog deur die samelewing beskou, maar volgens Curry kan dit vervolgde Christene ook verdere probleme veroorsaak. Global Christian Relief streef om wêreldwye Christen-vervolging aan die kaak te stel en om broers en susters in die geloof te ondersteun. Curry het in gesprek met Faithwire ’n voorbeeld gebruik om te verduidelik hoe lande waar Christene vervolg en onderdruk word, kunsmatige intelligensie gebruik om hulle greep op gelowiges verder te versterk.
“China is ’n duidelike voorbeeld hiervan. Kunsmatige intelligensie word daar gebruik om die aktiwiteite van die bevolking te monitor. Daar is ook ’n sosiale puntestelsel wat mense se kerkbywoning aanteken en kinders onder die ouderdom van 18 kan verbied om kerk toe te gaan. As hulle in elk geval gaan, sal hulle deur die puntestelsel ‘gestraf’ word,’“ sê Curry.
Hy is bekommerd oor wat kan gebeur namate kunsmatige intelligensie in die nabye toekoms aanhou ontwikkel. Daarom maak hy alarm. Curry voer aan dat namate meer sulke tegnologieë aanlyn kom, die bewegingsvryheid van vervolgde en onderdrukte Christene verder beperk kan word.
“Met kunsmatige intelligensie kan Christene gevolg word, Christelike aktiwiteite kan gemonitor word en dienste kan gesensor word. Net soos video’s wat deur pastore aanlyn gedeel word,’ sê Curry.
Nog iets waaroor Curry besorgd is, is die gebruik van sogenaamde ‘deep fakes’. Dit is video’s wat aan die hand van kunsmatige intelligensie ontwikkel word waarin gebeure of oortredings gewys word wat nooit gebeur het nie. Curry vrees dat sulke vervalsings ’n werklike probleem vir die vervolgde kerk kan inhou. Volgens hom ervaar tallevervolgde Christene wêreldwyd reeds die negatiewe gevolge van kunsmatige intelligensie wanneer dit met kwaadwillige opset gebruik word.
Dit gebeur byvoorbeeld gereeld dat daar deep fakes “uitlek” waarin gesê word dat Christene negatief is oor die profeet Mohammed. “Dan kom ’n gepeupel en val die Christelike gemeenskap aan en brand die kerk af. Dit gebeur voordat die ware feite aan die lig kom,” verduidelik Curry. Terroristegroepe in Nigerië gebruik ook sulke gevorderde tegnologie om Christene op te spoor en dan aan te val.
’n Derde bekommernis is dat wapenstelsels met behulp van kunsmatige intelligensie outonoom gemaak kan word. “Hulle word dan so ontwikkel dat hulle self ‘bedreigings’ kan identifiseer en uitskakel.”
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 08/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.