Geskryf deur: Ida Kleynhans
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Ek staan summier opsy toe sy wil verbykom. Die dapper vrou op OR Tambo. Ek voel sommer lus en salueer ook. ’n Trompetgeskal en dromrol sou ook nie onvanpas wees nie. Want sien, dis wat ’n ouma verdien wanneer sy haar nuwe oorsese kleinkind vir die eerste keer sien – al reeds nege maande oud en slegs “mamma” en “pappa” en “granny” (behoede my!) is deel van haar onvolledige woordeskat. “Ouma” sal sy in die volgende een en ’n half weke aanleer voordat dit tyd is om weer terug te gaan.

Leë kamers van verlange
Ouma gaan ook terug. Terug na leë kamers wat sy eerder toetrek om die verlange te stil. Terug na kinderfoto’s in die gekrulderugkantalbums, skoolfoto’s, universiteitsfoto’s, troufoto’s… en die foto’s op OR Tambo, toe jou enigste dogter en haar ewe opgewonde jong man Engeland toe is. “Net vir ’n paar jaar, Ma. Ons wil ’n bietjie toer – so ’n goeie geleent-heid.” Jy stem saam en glimlag en sê: “So ’n kans kan ’n mens darem nie laat verbygaan nie. ’n Nuwe wêreld maak oop vir julle, en ons kan darem gaan kuier.” Maar diep binne weet jy. Oor ses jaar is jy nie meer ses-en-vyftig nie.

Die kinders kom kuier
Die volgende tien dae word ’n kuier van epiese proporsies. Ons braai (met hout), eet vleis (elke aand), sonbaai (want hier skyn die son), swem in die see (want dit is warm) en koop by Woolies (want dit is eg). En ma vervorm in ouma. Sy koer en bad en voel en soen (skelm, want dit is mos nie meer toelaatbaar nie). En sy oefen saam: “Ouma, sê nou mooi: Ouma.” Maar die klein Ingelsie wil nie byt nie. Sy skud net haar krulle en skaterlag vir die moesiemondjie van die vreemde vrou.

Ouma se missie
Tien dae is kort, en ouma raak meer vasberade as ooit. Die braaiery word aan ander oorgelaat. Manlief begin brom oor die braaibroodjies (of die afwesigheid daarvan). Swemhanddoeke word nie meer buite gehang nie. Die volwasse geselsies droog op en die vakansie-legkaart word nie eers uitgehaal nie. Want as Ingelsie soggens “kwê” sê is ouma daar. Dan begin die oefen van voor af. Maar ouma bly ge-“granny”.

Laaste oomblikke van saamwees
Die laaste dag swem ons langer, kuier ons stiller, braai ons stadiger. Die kinders koop Suid Afrikaanse rooiwyn, Woolies-beskuit, blatjang en dik wit uiesop. Ek sit by die houtvuur met krullebol op my skoot en ruik Afrika se son aan haar sagte lyfie.

Die oomblik van triomf
Te gou is ons weer daar – OR Tambo. Waar ek tien dae tevore ’n ander dapper ouma wou salueer. Ek gee die krullebol teësinnig terug. Ons altwee huil ewe hard. Toe hoor ek dit: “Ouma, ouma! Wil ouma hê!” En ek kan sweer ek hoor die trompette en dromrol terwyl die hele vertreksaal op OR Tambo my salueer. Want ek is ook dapper.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 21/02/2025
Foto slegs ter illustrasie.

VRYWARING

JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here