Geskryf deur: Geopende Deure SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Jemen is een van die gevaarlikste plekke in die wêreld om Jesus te volg. Islam is die nasionale godsdiens, en die Sharia-wette is die bron van alle wetgewing. Intussen het ʼn tienjarige burgeroorlog die land verder in ʼn gevaarlike toestand gedompel. Die helfte van die bevolking staar hongersnood in die gesig, 4,5 miljoen mense is ontwortel en sommige gebiede word deur ekstremistiese groepe soos die Houthis, al-Qaeda en Islamitiese Staat beheer.

Jemen het ʼn baie klein aantal Christene en is in die derde posisie op Geopende Deure Internasionaal se 2025 Wêreldwaarnemingslys, ʼn ranglys van die top 50 lande waar dit die gevaarlikste is om ʼn Christen te wees. Die land het die afgelope jaar twee posisies hoër op die lys gespring – vanaf nommer 5 in 2024 tot nommer 3 in 2025.

Stamverwante strawwe vir bekering
Die Jemenitiese samelewing is sterk Islamities, konserwatief en stamverwant, en die stamverwante strawwe vir diegene wat Islam verlaat kan die dood of verbanning wees. Die meeste gelowiges, wat weet dat dit uiters gevaarlik is om Jesus te volg, is vanuit ʼn Moslem-agtergrond afkomstig.

Aangesien Islam en die staatswette bekering vanaf Islam verbied, moet Christene hul geloof geheim hou of andersins die risiko loop vir ernstige nagevolge vanaf hul families, die owerhede en radikale Islamitiese groepe. Dit kan egskeiding, die verlies van toesig oor kinders, arrestasie, ondervraging en selfs die dood insluit.

Die humanitêre krisis wat deur die burgeroorlog veroorsaak is, het ook die druk op gelowiges laat vererger. Hoewel noodleniging beskikbaar is, word dit meestal deur plaaslike Moslem-groepe en moskees versprei, wat na bewering teen enigeen diskrimineer wat nie as ʼn toegewyde Moslem
gesien word nie.

Meedoënlose vervolging
Die lewe in hierdie vyandige omstandighede is onuithoudbaar moeilik vir Zahra*, ʼn Christen-vrou van Jemen. Sy het al enorme gevaar en tragedie weens haar geloof in die gesig gestaar. Aangesien sy in ʼn Christenfamilie grootgeword het, het sy sedert haar kinderjare meedoënlose vervolging deurgemaak. Haar lewensreis is egter gekenmerk deur haar moed om haar geloof in ʼn
vyandige omgewing uit te leef, terwyl sy ander mentor en op God se krag staatmaak.

As ʼn volwassene het Zahra voltyds in die bediening ingegaan. Sy en Anis* was sendingvennote in Jemen. Hy het sending onder die mans gedoen terwyl Zahra die vroue bedien het. Sy was versot op hulle werk – en dit was uiters suksesvol!

Doodgemaak weens sy geloof
Anis het egter eendag ʼn dreigende boodskap ontvang. Hy is ʼn week later in sy eie huis en voor sy kinders deur ekstremiste doodgeskiet.

Nadat Anis vermoor is, was Zahra oorweldig deur vrees en hartseer. “Die woorde wat op my foon verskyn het, het my tot in my wese geruk: ‘Anis is doodgemaak.’ Ek was erg geskok en het vir ʼn maand lank nie uitgegaan nie,” sê sy met trane in haar oë. “Sou ek volgende wees?”

Groeiende ondergrondse Kerk
Zahra het ondanks die dreigemente met haar bediening voortgegaan en aangehou om die Evangelie met vroue in Jemen te deel. “Ons bly tussen wolwe, en ons weet dit,” sê sy. “Ek het hierdie pad gekies, en ek weet dat dit tot beproewings lei. Jesus het my pyn, swaarkry en skuld op
Hom geneem. Nou is dit my beurt om die kruis te dra.”

Vandag is Zahra een van slegs ʼn handjievol mense wat dit waag om die Evangelie met Jemenitiese vroue te deel. Om te weet dat Geopende Deure en hul vennote saam met haar
staan, maak die verskil – en die ondergrondse Kerk groei.

“God het my op hierdie plek geplaas”
“Ek weet soms wanneer ek ʼn huis binnegaan om die Evangelie met ʼn vrou te deel, dat ek dalk nie weer sal uitkom nie,” sê sy. “Maar ek glo God het my op hierdie plek geplaas om ʼn impak op die vroue se lewens te maak, hoop te bring en die ware lig van Christus te weerspieël te midde
van die aaklige situasie waarin ons leef.”

Sy voeg by: “Ek is vasberade om ondanks die risiko’s hier te bly, want ek glo almal verdien om van God se liefde te hoor. Dit bemoedig my om te sien hoe die Kerk in Jemen groei, selfs in die geheim! Ons droom saam met God, en ons weet daar is Christene hier wat vir ons Here leef.”

Die geskenke en ondersteuning van Geopende Deure en hul vennote versterk Zahra om haar bediening onder die vroue voort te sit, en dit gee haar die moed om Jesus se boodskap aan te hou deel. Hulle verskaf ook leierskapopleiding aan Zahra – sy is besig met ʼn tweejarige kursus deur Geopende Deure – en verskaf voedsel, medisyne, skuilhuise, traumaberading en dissipelskapopleiding aan Jemenitiese gelowiges.

*Name verander weens die geweldige groot risiko

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 22/02/2025
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here