Geskryf deur: Alex Pollock www.incontextinternational.org Artikelbron:
’n Groep van 1 000 Keniaanse polisie-offisiere het op Sondag, 20 Augustus, in Port-au-Prince, die hoofstad van Haïti, aangekom vir ’n jaarlange poging om dié land se owerhede behulpsaam te wees om beheer van die land uit die hande van gewapende bendes terug te neem.
Bykans 80% van Port-au-Prince en 50% van die land is onder beheer van bendes. Die geweld en onrus het in onlangse weke beduidend toegeneem onderwyl die beperkte vermoë van Haïti se wetstoepassing verder gekwyn het. Die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte, Ravina Shamdasani, het rapporteer dat daar in die tydperk van 1 Januarie tot 15 Augustus meer as 2 400 mense gedood, 950 ontvoer, 902 beseer en duisende ontheem is as gevolg van die bendegeweld en daaropvolgende humanitêre krisis. Met slegs 10 000 polisie-offisiere vir ’n bevolking van meer as 11 miljoen mense maak die Haïtiaanse regering op buitelandse hulp staat om bendebeheer teen te staan. Sedert die sluipmoord op voormalige president Jovenel Moise in 2021 het Haïti se sosiale, ekonomiese en politieke stabiliteit verkrummel.
Gedurende die week voor die aankoms van die Keniaanse afvaardiging het 5 000 Haïtiane uit die distrik Carrefour-Feuilles, rondom die hoofstad, gevlug ná die dood van 30 mense in bendeverwante geweld. Talle plaaslike en internasionale noodlenigingsorganisasies het Haïti weens die gebrek aan veiligheid verlaat. Die gebrek aan sigbare wetstoepassing in Haïti het daartoe gelei dat burgerlike vigilantegroeperings die reg in eie hande neem. Shamdasani het rapporteer dat 350 mense sedert April vanjaar deur vigilantegroepe tereggestel is, insluitende 310 vermeende bendelede en een polisie-offisier. Talle lande het dit oorweeg om Haïti te help om die bendeprobleem te bekamp, maar het, weens die gebrek aan beskerming en hulp van die Haïtiaanse regering, nie voortgegaan om veiligheids- of wetstoepasingspersoneel te stuur nie.
Die Keniaanse mag sal getaak word met die herstel van orde deur samewerking met die paar oorblywende gemeenskapsorganisasies en regeringskantore. Die ernstige magsvakuum sal egter uitdagings bied. Kenia het aangebied om die voorgestelde multinasionale mag, wat in die komende weke deur die VN oorweeg sal word, te lei. Hoewel Kenia een van weinig lande is wat bereid is om Haïti te hulp te kom, bestaan daar kommer oor die menseregterekord van hulle polisiemag. Kenia se polisie is in onlangse jare beskuldig van geweld teenoor hulle mense. Hulle moet egter erkenning kry en waardeer word omdat hulle bereid is om toe te tree tot ’n onstuimige situasie en te help waar ander nasies teruggestaan het. Kenia het ’n voordeel bo ander nasies, soos die VSA en Kanada, wat hulp aan Haïti betref, aangesien die twee lande ooreenkomste vertoon ten opsigte van kultuur, geskiedenis – ’n stryd om onafhanklikheid teen koloniale magte – en godsdienssamestelling. Een van die uitdagings wat Kenia egter in die gesig staar, is die geskatte koste van $200-$400 miljoen wat benodig word om hierdie ingryping vir ’n jaar te onderhou. Om volhoubaar te wees, is ’n groot belegging in Haïti se infrastruktuur, wat onder bendebeheer verkrummel het, nodig.
Weens die uitgerekte aard van die konflik in Haïti sal die pogings van die Keniaanse magte humanitêre hulp moet insluit – 97% van huishoudings in die hoofstad ly aan ernstige hongersnood – sowel as die herbou van skole, hospitale en godsdienstige instellings. Haïti is ’n diep godsdienstige land, maar het ook ’n uiters komplekse en verwarrende godsdienstige verlede. Die aanwesigheid en beoefening van toordery en animisme – die geloof dat alles in die natuur siele of geeste het – word dikwels met die Christendom verweef. Volgens die Joshua-projek beskou net minder as 95% van mense in Haïti hulself as Christene. Talle Christelike bedieninge werk in Haïti, terwyl verskeie gebedsbedieninge ook die eilandnasie in gebed dra. Die oënskynlik nimmereindigende rampsoed waarmee die land te kampe het, herinner die Kerk daaraan dat ons geveg nie teen aardse teenstanders is nie, maar in die geesteswêreld geveg word (Efesiërs 6:12). Haïti se geestelike oorlog is na bewering te wyte aan ’n toorkunsseremonie tydens Haïti se opstand teen Franse koloniale magte toe die land se leiers “Satan gesmeek het om hulle te help om die Franse te verslaan”. Die behoefte aan gebed vir Haïti, te midde van die vele uitdagings, is groot. Die Kerk kan egter hoop vind in die belofte dat, ten spyte van voortdurende probleme, Jesus die wêreld oorwin het (Johannes 16:33), sowel as die duisternis daarin (Johannes 1:5)
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die Keniaanse magte eerbaar saam met hul eweknieë in Haïti sal werk om stabiliteit te bring sodat die infrastruktuur herbou en die humanitêre krisis beëindig kan word;
- dat die Christelike gemeenskappe in Haïti bemoedig en versterk sal word en dat geestelike genesing dwarsoor die land sal plaasvind; en
- dat gelowiges in Haïti bakens van hoop sal wees vir elkeen wat ly en dat alle mense in Haïti die reddende genade van Jesus sal leer ken.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 31/08/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.