Geskryf deur Donnelly McCleland Artikelbron: incontextinternational.org 

Op 17 Julie gaan die Swartsee-graanooreenkoms verval tensy Rusland instem om dit te verleng. Die verlenging lyk egter hoogs onwaarskynlik, aangesien Rusland se voorwaardes nie nagekom is nie.

Op 3 Julie het Rusland se permanente verteenwoordiger by die Verenigde Nasies (VN), Gennadi Gatilof, gesê Rusland het geen grondige rede om tot die voortsetting van die status quo in te stem nie, want die ooreenkoms is al herhaaldelik verleng in die hoop op positiewe veranderings wat nie plaasgevind het nie. Russiese sleutelvoorwaardes omvat onder meer die hertoelating van die gespesialiseerde Russiese Landboubank tot die SWIFT-betaalstelsel, die hervatting van die gebruik van die Toljatti-Odessa-ammoniakpyplyn, en die mobilisering van die geblokkeerde bates van Russiese besighede.

Rusland beweer verder dat die ooreenkoms nie armer lande, soos oorspronklik belowe is, bevoordeel het nie. Farhan Haq, die VN-sekretaris-generaal se adjunkwoordvoerder, het aan Euronews gesê: “Rusland het ’n paar redelike versoeke gerig rakende wat moet gebeur om hom in staat te stel om sy uitvoere op wêreldmarkte te kan plaas. Sodanige uitvoere is nie aan sanksies onderhewig nie en behoort toegelaat te word om wêreldmarkte te bereik. Daar was egter verskillende struikelblokke: burokratiese rompslomp, wetlike aspekte en watter besluite besighede gewillig of onwillig is om te neem.” As die ooreenkoms verval, sal voedselpryse heel waarskynlik styg en die humanitêre krisis in sommige lande, soos Afganistan, Etiopië, Kenia, Somalië, Soedan en Jemen, vererger.

Rusland se aanspraak dat baie min van die graan wat ingevolge die graanooreenkoms verskeep word, wel die behoeftige lande bereik, is deur verskeie woordvoerders bevraagteken en weerlê. Hoe dit ook al sy, die statistieke skilder ’n droewige prentjie. Data van die VN toon dat voedseluitvoere van die Oekraïne – wat gars, mielies, raapsaad, sonneblomolie, meel en koring insluit – in feitlik gelyke hoeveelhede na ontwikkelde (45%) en ontwikkelende lande (49%) gegaan het, en slegs 6% na die minsontwikkelde lande. ’n Ontleding van vragbestemmings plaas China, Spanje, Turkye en Italië onder die top vragontvangers. ’n Senior Geneefse graanhandelaar, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het aan Geneva Solutions gesê dat kopers soos China en Spanje, wat die leeueaandeel van verskepings verteenwoordig, gewoonlik sekere Oekraïnse graansoorte, insluitende mielies en koring – afhangende van die kwaliteit – vir huishoudelike markte en meestal vir veevoer koop, terwyl ander lande, soos Turkye en Egipte, koring en mielies uit Oekraïne ingevoer het om vir brood en menslike gebruik verwerk te word.

Turkye is ’n sleutelbemiddelaar in die ooreenkoms. Die VN en Turkye het die Swartsee-graanooreenkoms tussen Rusland en Oekraïne in Julie 2022 beredder om ’n globale voedselkrisis op te los wat vererger is deur Rusland se aanval teen sy buurland en sy blokkering van Oekraïnse Swartsee-hawens. Teen die middel van Mei 2022 het uitvoerpryse vir koring en mielies tot ongekende hoogtes die lug ingeskiet. Dit het volgens die VN verreikende gevolge, veral in Afrika, die Midde-Ooste

en Asië gehad – lande waar die koronaviruspandemie en sy nadraai alreeds die voedselsituasie vererger het.

Ingevolge die ooreenkoms is skepe toegelaat om op spesifieke roetes van Oekraïne na die Bosporus te vaar sonder om aangeval te word. Gevolglik is omtrent 30 miljoen ton voedselvoorrade die afgelope jaar verskeep. Rusland se nuusagentskap, RIA, het op Maandag, 10 Julie berig dat verwagte onderhandelings tussen Rusland se president Wladimir Poetin en die Turkse president Tayyip Erdogan die enigste hoop bly vir die verlenging van die Swartsee-graanooreenkoms.

Pres. Erdogan beweeg al lank op dun ys in sy onderhandelings tussen Rusland en Westerse lande. Onlangse interaksie met pres. Wolodimir Zelenski in Istanboel sou nie betrekkinge met Rusland bevorder het nie. Pres. Erdogan het pres. Zelenski op Saterdag 8 Julie in Istanboel ontvang en verklaar dat die Oekraïne NAVO-lidmaatskap “verdien”. Hierdie ontmoeting en die verklaring het net voor NAVO se spitsberaad in die Litause hoofstad, Vilnius, op 11-12 Julie gekom. Boonop het pres. Zelenski teruggekeer huis toe met vyf bevelvoerders van die Oekraïne se Azofbrigade van die voormalige garnisoen in Marioepol. Dit is ’n skuif wat volgens Rusland die voorwaardes van ’n ooreenkoms rakende die uitruiling van gevangenes wat verlede jaar gesluit is, verbreek het.

Die Kremlin-woordvoerder Dmitri Peskof het Saterdag gesê Turkye het die ooreenkoms verbreek deur hulle vrylating toe te laat, asook na te laat om Rusland vooraf in kennis te stel. Ankara het nie openbare kommentaar oor die besluit om hulle huis toe te stuur, gelewer nie. Hoewel Erdogan ook Saterdag gesê het dat hy Rusland druk om die Swartsee-graanooreenkoms met ten minste drie maande te verleng en ’n besoek van pres. Wladimir Poetin in Augustus aangekondig het, bly dit onseker aangesien die Kremlin dit nog nie bevestig het nie.

Hoewel die graanooreenkoms baie duidelik ’n impak op voedselvoorsiening en pryse regoor die wêreld gemaak het, het dit ook die armes die meeste geraak. Die Geneefse graanhandelaar het ’n ontnugterende stelling oor kosprodukte se primêre rol gemaak: “Dit is koring en groente-olies wat die kritieke pilare is, nie net om die wêreld te voed nie, maar om revolusie te vermy.” Die afgelope paar jaar het verskeie gewelddadige opstande in reaksie op stygende kospryse gesien en die mislukking van die graanooreenkoms kan verdere olie op die reeds smeulende vure in Afrika wees. Job 34:17-19 maak ook ’n stelling oor hoe die Here onregverdigheid beskou: “Iemand wat die reg haat, durf tog nie regeer nie. Kan jy vir God wat regverdig en magtig is, skuldig vind? Hy sê selfs vir ’n koning: ‘Jy is niks werd nie’ en vir vername mense: ‘Julle is sleg.’ Hy is nie partydig vir leiers nie, Hy bevoordeel die ryke nie bo die arme nie, want Hy het hulle almal gemaak.” Die Here sien die onreg; Hy sien wanneer goddelose mense kos as ’n wapen gebruik en Hy sal nie bespot word nie. Net soos die Here die geroep van die verdrukte Israeliete in Egipte gehoor en hulle uitgelei het (Deuteronomium 26:6-9), so hoor Hy ook die geroep van baie vandag wat nie oor die geopolitiese stryery begaan is nie, maar eenvoudig net probeer om hulle kinders aan die lewe te hou. Mag Hy genadig wees en hulle verlos.

Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
· Bid dat die Here die harte van diegene in magsposisies wat oor die armes en uitgeworpenes heers, vir Hom gevange sal neem,

· dat die Here se genade en deernis sal uitreik na hulle wat verdruk en basiese lewensmiddele ontsê word,

· dat die talle humanitêre organisasies wat poog om die armes en hongerlydendes te dien, van die nodige bronne voorsien sal word.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 15/07/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here