Artikelbron: JUIG! Tydskrif
Die parlement is in die finale stadium van oorweging van die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bekamping van Haatmisdade en Haatspraak. Die wetsontwerp sal sekere uitdrukkings as “haatspraak” kriminaliseer. As jy dan aan haatspraak skuldig bevind word, kan jy vir tot agt jaar tronk toe gestuur word.
Uiting van Christelike sienings in gedrang
Die wêreld raak toenemend vyandiggesind teenoor die sienings van Bybelgelowige Christene, veral op gebiede soos die huwelik, seksualiteit en gender. Om in privaatheid asook in die openbaar uitdrukking te gee aan jou godsdiens-oortuigings is egter ’n noodsaaklike deel van die Christelike geloof. Hoe anders sal Christen-ouers hulle kinders volgens God se Woord kan grootmaak of sendelinge dié wat verlore gaan, kan evangeliseer? Hoe sal kerkleiers Christelike raad en lering oor die tydlose waarhede van die Bybel kan gee?
’n Opsomming van die wetsontwerp
In ’n neutedop: Die Wetsontwerp op Haatspraak poog om enige uitdrukking te kriminaliseer wat (1) skadelik is of skade aanhits, en (2) haat bevorder of aanhelp teen (3) ’n groep mense wat spesifiek in die wetsontwerp gelys is. Die verspreiding van enige kommunikasie wat deur die wetsontwerp as haatspraak gedefinieer word, sal ook gekriminaliseer word. Hoewel dit aanvanklik billik mag klink, is die duiwel soos altyd in die besonderhede:
• Die definisie van skade is te wyd. Dit sluit emosionele skade (basies seergemaakte gevoelens) in, wat hoogs subjektief is. Dit sluit ook sosiale skade in – ’n onsinnige konsep.
• Haat – die essensiële element van die haatspraakmisdaad – word nie gedefinieer nie.
• Die gelyste groepe sluit nuwe en hoogs omstrede konsepte in met betrekking tot gender en seksualiteit, waarvan nie een duidelik gedefinieer is nie.
• Vrystellingsklousules (waarvan een konsuis sommige vorme van godsdiensuitdrukking beskerm) is selfverydelend.
Swak beskerming vir godsdienstige spraak
Ten tyde van ter perse gaan, geld vrystelling slegs vir mense wat hulle geloofsoortuigings op ’n respekvolle manier en met goeie bedoelings uitdruk – tensy dit binne die wetsontwerp se vae en te wye definisie van haatspraak val. Prakties gesproke is dit inderdaad baie swak beskerming, en word vererger deur die dreigement van ’n maksimum vonnis van agt jaar tronkstraf indien jy skuldig bevind word aan hierdie oortreding!
Vrae wat ons moet vra
Gaan Suid-Afrikaners deur strafregtelike vervolging in die gesig gestaar word omdat hulle ’n opgeneemde preek oor die tradisionele huwelik op Facebook gedeel het? Of as hulle op ’n WhatsApp-groep (of selfs as iemand meeluister na ’n private gesprek in die openbaar) hulle tradisionele sienings oor seks en gender huldig? Dit is belangrike vrae wat die parlement en die regering moet beantwoord voordat die Wetsontwerp op Haatspraak ’n wet word.
Freedom of Religion South Africa (FOR SA) veg vir jou regte
FOR SA volg die Wetsontwerp op Haatspraak noukeurig en werk hard om te verseker dat Suid-Afrikaners kan voortgaan om hulle geloofsoortuigings vrylik en sonder vrees uit te druk.
Bly op hoogte van belangrike verwikkelinge wat geloof en vryheid raak. Teken in op ons nuusbrief of volg ons op sosiale media – of ondersteun FOR SA deur ’n skenking te maak.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 27/05/2023
Foto slegs ter illustrasie.
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.