Geskryf deur: Katelin van Zyl
Artikelbron: incontextinternational.org
Op Maandag, 22 Mei, het ’n weeklange skietstilstand in Soedan in werking getree ná die ondertekening van ’n dokument (Agreement on a Short-Term Ceasefire and Humanitarian Arrangements) in Jeddah (Saoedi-Arabië) deur die Soedanse gewapende magte (SAF) en die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF) twee dae vantevore. Sedert dodelike gevegte tussen die twee partye op 15 April in die hoofstad Khartoem, uitgebreek het, is daar ongeveer 25,7 miljoen mense wat humanitêre bystand benodig. Baie mense wat vasgekeer is in gebiede wat deur die gevegte geraak word, vlug na ander gebiede en het nog geen toegang tot gesondheidsorg, water en ander noodsaaklikhede nie. Daar was ook talle aanvalle op humanitêre persele, gesondheidsfasiliteite en waterpunte.
Omdat die voortslepende gevegte reeds tweede maande lank duur en na ander gebiede in die land verprei het, is die skietstilstand om bystand te bied, ’n antwoord op gebed. Die wêreldwye Kerk kan bid dat hierdie skietstilstand eerbiedig sal word, aangesien ander aankondigings van ’n skietstilstand nie gerespekteer is nie, en die Jeddah-deklarasie nie behoorlik deur almal nagekom is nie. Die Jedda-deklarasie is op 11 Mei onderteken om hulle wedersydse verpligtinge onder die internasionale menseregte en humanitêre wet te erken. Hoewel daar nog nie op daardie punt op ’n skietstilstand ooreengekom is nie, het dit tog die weg na ’n skietstilstand gebaan, sodat die nodige aktiwiteite vir die voorsiening in die behoeftes van burgerlikes, moontlik gemaak kan word. ’n Bediening in Soedan het die begeerte uitgespreek om met barmhartigheidsdiens te begin, maar daar is nie genoeg voorrade in die winkels beskikbaar nie. Mag die Here volgens Sy wil voorsien, sodat Hy verheerlik mag word (Genesis 22:14).
Die regering se militêre strategie steun hoofsaaklik op lugmag en swaar artillerie. Aangesien die RSF wydverspreid is oor Soedan se hoofstad (’n metropool wat uit drie stede bestaan – Khartoem, Khartoem-Noord en Omdurman) veroorsaak die aanvalle ernstige skade in die metropool en gevolglike lewensverlies van burgerlikes. Op 20 Mei het die Verenigde Nasies se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge (VNHKV) aangekondig dat daar nou meer as een miljoen mense is wat intern verplaas is, of sedert 15 April na buurlande gevlug het.
Meer as 248 000 mense het die grense na Tsjad, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Ethiopië, Egipte en Suid-Soedan oorgesteek. Hoewel soortgelyke uitdagings wat aan ontworteling gekoppel is, by alle bestemmings voorkom, verskil sommige van hierdie uitdagings. Byvoorbeeld, mans tussen 16-49 jaar benodig visums om Egipte binne te gaan, en word dus van hulle families wat vrygestel is, geskei. Ten minste 40 000 Suid-Soedannese (van die 800 000 wat na raming volgens die International Organisation on Migration in Sudan is) en weens die konflik in hulle eie land gevlug het, moes weer eens die geweld ontvlug, en staar ernstige gevare in die gesig as hulle na Suid-Soedan sou terugkeer. Die wêreldwye Kerk kan bid vir die beskerming van mense, nie net diegene wat vasgekeer is in plekke wat deur die gevegte geraak word nie, maar ook vir die wat vlug.
’n Kontak van INcontext het laat weet dat daar ’n behoefte is aan kos en verblyf langs die pad, vir mense wat probeer om uit die land te kom. ’n Christen-huisgesin het onlangs ’n gesin gehuisves wat uit Khartoem gevlug het, maar nog nie ’n manier kon vind om by hulle verlangde bestemming uit te kom nie. Dit bied ’n geleentheid vir die Kerk in Soedan, sowel as die Kerk in buurlande wat kan help om vlugtelinge welkom te laat voel in hulle lande, en Christelike liefde aan hulle te betoon. Mag die Here hierdie geleentheid om skuiling te voorsien vir vlugtende mense, gebruik om deur Sy mense aan ander mense te wys wie Hy is – soos ook onlangs die geval was toe oorlog in die Oekraïene uitgebreek het.
’n Verdere bron van kommer is dat baie jongmense vermis raak, vermoedelik deurdat hulle deur die RSF opgekommandeer word om teen die SAF te veg. Die wêreldwye Kerk kan bid dat die jeug van Soedan beskerm word – nie net fisies nie, maar ook emosioneel, verstandelik en geestelik teen dit waaraan hulle blootgestel word. Verder, te midde van die chaos, voer gewapende bendes rooftogte uit op winkelsentra in Khartoem en daar was berigte van RSF-lede wat voertuie steel en hospitale plunder. Moskees en kerkeiendomme (tesame met lede) was ook al aangeval of in die kruisvuur vasgevang. Nietemin berig INcontext se kontak met dankbaarheid dat plaaslike kerke steeds bymekaarkom vir eredienste en om te bid. Die wêreldwye Liggaam van Christus kan ons broers en susters in Soedan oplig in gebed, sodat hulle bemoedig mag word in hierdie veeleisende tye, en sal volhard in geloof, liefde en eensgesindheid. Want inderdaad, “In die wêreld sal [ons] dit moeilik hê; maar hou moed: [Jesus] het die wêreld klaar oorwin.” (Johannes 16:33)
Bid asseblief saam met ons vir die volgende:
- Bid dat die skietstilstand ooreenkoms eerbiedig sal word om humanitêre hulp moontlik te maak vir dié wat dit die nodigste het, en dank God dat Hy die gebede vir ’n skietstilstand ooreenkoms verhoor het,
- vir die beskerming van burgerlikes wat vasgekeer is of besig is om te vlug, asook vir die jongmense wat opgekommandeer is om te veg, en
- dat die Kerk in Soedan bemoedig sal word, en dat die Liggaam van Christus in die streek die unieke geleenthede sal aangryp wat hierdie tyd van oproer bied om Christus se lig in die donker te laat skyn.
Vir meer agtergrondinligting m.b.t. die stryd, lees gerus ’n vorige INcontext-artikel:
incontextinternational.org
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 26/05/2023
Foto slegs ter illustrasie. Kunswerke aangepas uit unsplash.com
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.