Geskryf deur: International Christian ConcernArtikelbron: www.persecution.org
“Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” – Markus 8:38
Vader Nikodemus Schnabel van Jerusalem se Benediktynse klooster is deur ’n werknemer van die Western Wall Heritage Foundation meegedeel dat sy kruis “werklik groot en onvanpas is vir daardie terrein.”
Sy het bygevoeg dat die terrein “’n Joodse plek is.” Die priester het geantwoord, “[Die kruis is] deel van my kleredrag […] Ek is ’n Rooms-Katolieke kloosterhoof. Wil jy hê ek moenie volgens die voorskrifte van my geloof aantrek nie?” Hy het later bygevoeg: “Jerusalem is groot genoeg vir almal.”
Die betrokke stigting het later vir vader Nikodemus om verskoning gevra. Die Jerusalem Post het egter berig dat dit nie ’n geïsoleerde voorval was nie, maar een van vele anti-Christelike dade en aanvalle wat die afgelope maande in die stad aangemeld is. Die Post het na voorvalle verwys waar Joodse inwoners op Christen-toeriste, -pelgrims en geestelikes spoeg. Die Rooms-Katolieke hiërarg van Jerusalem, Pierrebattista Pizzaballa, het gesê dat daar verskeie onlangse aanvalle op priesters in Jerusalem was en dat ’n aantal Christelike terreine gevandaliseer is. Die Latynse Patriarg het drie maande gelede verklaar dat onverdraagsaamheid teenoor Christene onder Netanyahu se regering toegeneem het, insluitend beweerde planne om die Olyfberg in ’n nasionale park te verander, wat kerkleiers bekommer.
Volgens Yusef Daher van die Jerusalem Inter-Church Centre, wat die belange van alle denominasies koördineer en verteenwoordig, is 2023 inderdaad tot dusver na die slegste jaar vir Christene die afgelope dekade. Die sentrum het beweer dat fisieke aanrandings en teistering van geestelikes dikwels nie aangemeld word nie en dit het ten minste sewe ernstige gevalle van vandalisme van kerkeiendomme vanaf Januarie tot middel Maart vanjaar gedokumenteer – ’n toename van die ses anti-Christelike sake wat in 2022 gedokumenteer is.
Tydens een so ’n geval in Maart het twee Israeli’s by die basiliek langs die tuin van Getsemane ingebars en ’n priester met ’n metaalstaaf aangeval. Die vorige maand het ’n Joods-Amerikaanse toeris ’n standbeeld van Jesus by die Church of the Flagellation gevandaliseer. Dit volg op die vandalisme van ongeveer 30 Anglikaanse grafte op die berg Sion in Januarie.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 04/09/2023
Foto: persecution.org
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.








