Geskryf deur: Vivienne Myburgh Artikelbron: JUIG! Tydskrif 

Israel het sy 75ste verjaardag volgens die Joodse kalender op 26 April gevier en volgens ons Westerse kalender op die 14de Mei. Hierdie belangrike gebeurtenis het in die Hebreeuse jaar 5708 plaasgevind en verbasend genoeg is die 5 708ste vers in die Bybel, Deuteronomium 30:3 (OV): “…dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het.” Hierdie teksvers is slegs een van byna 150 profetiese geskrifte wat praat oor God se voornemens om sy volk ná bykans 2 000 jaar in ballingskap uit die nasies terug te bring.

’n Bybelse nasie
Die Bybel vertel die verhaal van Israel: vanaf die tyd toe God vir Abraham geroep het, ’n verbond met hom gesluit het met betrekking tot sy nageslag en ’n spesifieke stuk land belowe het wat Hy met ’n verbondsbelofte aan hulle as ’n ewige besitting gee. Israel is die enigste nasie op hierdie aarde vir wie God die grense bepaal het! Dit was letterlik die middelpunt van die antieke wêreld en was die plek waar God “voor die oë van die volke” met sy volk sou omgaan. 

Kort geskiedenis van die stigting van Israel
Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Joodse situasie gespanne gebly in die Britse Mandaat van Palestina. Vlugtelingskepe soos die Exodus, wat oorlewendes van die Holocaust na Palestina vervoer het, is deur die Britte weggewys. Daar was gewelddadige aanvalle deur Arabiere op die Joodse gemeenskappe, aangehits deur die Groot Mufti van Jerusalem. Die Britte het hulle tot die Verenigde Nasies (VN) gewend en op die historiese 29ste November 1947 is daar met 33 teen 13 stemme (10 onthoudings) gestem om die land tussen die Jode en Arabiere te verdeel. Die Arabiere het die aanbod geheel en al verwerp, maar die Jode het die verdelingsplan vir twee aparte, onafhanklike lande aanvaar. Dit was ’n fraksie van die oorspronklike Britse mandaat-gebied wat deur die Volkebond ooreengekom is om aan die Jode te gee ter erkenning van hulle antieke Bybelse tuisland. (Die Britte het hierdie ooreenkoms verbreek toe hulle 77% van die gebied afgesny en Transjordanië in 1921 gevorm het.) Ná bykans 2 000 jaar was daar weer ’n soewereine Joodse staat in die land van die profete en die aartsvaders!

75 jaar van vooruitgang en ontwikkeling
Ná 75 jaar is die klein nasie van Israel (die grootte van die Krugerwildtuin) van ’n verlate, onvrugbare land omskep in ’n florerende landbou- en ekonomiese mag wat met veel groter lande meeding wanneer dit kom by wetenskaplike prestasie, tegnologie en innovasie op alle vlakke. Israel seën ook die nasies. Danksy verskeie inisiatiewe het Israel opleiding aan sowat 36 000 kundiges van lande in Afrika suid van die Sahara in voedselsekerheid, landbou, onderwys, ens. verskaf en is talle projekte in Afrika van stapel gestuur. Israel is wêreldwyd dikwels eerste op die toneel ná ’n ramp en help om slagoffers op te spoor en hulle met topklas- mediese sorg te behandel.

’n Seën vir die nasies
Die grootste seën is egter dat die redding van die wêreld via Israel na die nasies gekom het. “…want die verlossing kom uit die Jode” (Joh 4:22). God het die Jode en Israel gekies om die voertuig van verlossing vir die wêreld te wees. Ons is verlos deur ’n Joodse Messias wat in Israel gebore is en na Jerusalem sal terugkeer om die vrede te bring waarna ons almal smag en om vanuit Jerusalem oor die nasies te regeer! Israel is waarlik ’n seën vir die nasies van die aarde, soos geprofeteer is in Genesis 12:2 (OV): “En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees.”

VIVIENNE MYBURGH – nasionale direkteur van ICEJ (Suid-Afrikaanse tak). vivienne@icej.org.za

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


Datum gepubliseer: 20/05/2023

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here