Artikelbron: opendoorsuk.org
Vier Christene is verlede Sondag dood in ’n bomaanval op ’n Filippynse kerk in die stad Marawi. Die Islamitiese terreurgroep IS het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Benewens die sterftes is 45 mense ook beseer.
Die bomaanval het plaasgevind terwyl Christene ’n kerkdiens bygwoon het. Islamitiese Staat (IS) het via Telegram verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. “Soldate van die Kalifaat het ’n bom laat ontplof by ’n groot byeenkoms van Christene in die stad Marawi,” het die terreurgroep geskryf.
Drie vroue en ’n man is in die aanval dood. Die dosyne beseerdes is hospitaal toe geneem en word daar behandel. Dit is nie bekend hoeveel van hulle in ’n kritieke toestand is nie. Die dodetal van die aanval kan dus nog verder styg.
Ferdinand Marcos Jr., die president van die Filippyne, het die aanval ten sterkste veroordeel en die aanvallers “vyande van die samelewing” genoem. Die Filippynse weermag het ’n dag voor die aanval 11 Islamitiese militante gedood. Sommige bronne sê dat Sondag se aanval uit weerwraak van die weermag se optrede is.
Plaaslike Christene is vasbeslote om sterk te staan. Precious*, ’n gelowige wat uit Islam tot geloof inJesus Christus gekom het en ’n Christen-leier in die streek is, het gesê: “Ons is nie bang nie, maar ons is versigtiger, veral gegewe die huidige situasie.”
In die Filippyne is die oorgrote meerderheid van die bevolking Rooms-Katoliek. Daar is ook ’n klein Moslem-minderheid, wat uit sowat 5% van die bevolking bestaan, skryf Geopende Deure. Daar is ook ’n radikale Islamitiese organisasie aktief in die suidelike eilande, genaamd MILF. Hierdie djihadistiese organisasie beoog om van die Filippyne af te skei om ’n eie Moslemstaat te stig. In 2017 het IS-militante Marawi beleër en meer as 1 200 mense, insluitend burgerlikes, doodgemaak.
*Skuilnaam
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 07/12/2023
Foto: Facebook
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.