Geskryf deur: Graham Yoko Artikelbron: JUIG! Tydskrif
In ’n uitdagende en voortdurend veranderende opvoedkundige landskap kan Christen-ouers en -leerders dit moeilik vind om die verskeidenheid keuses wat tans beskikbaar is, te navigeer. Die vraag: “Wat sal die beste vir my kind wees?” kwel ouers voortdurend. Om hierdie vraag doeltreffend te beantwoord, moet ’n tweede vraag gevra word: “Wat is egte onderwys?”
Opregte Christelike onderwys
Opregte Christelike onderwys word die beste gedefinieer as die proses waardeur die volgende eienskappe in ’n leerder ontwikkel word:
• Geestelike en morele volwassenheid
• Kennis van waarhede en feite
• Vermoë om rasioneel te redeneer
• Praktiese vermoëns en vaardighede
• Produktiwiteit om doelwitte te bereik
• Toewyding tot tradisionele waardes
• Aanpasbaarheid by die uitdagings van die lewe
Meer as net ’n akademiese proses
Onderwys is meer as ’n akademiese proses. Dit behels die integrasie van geloof en waardes by die leerervaring. Dit berei die weg voor vir ’n sterker morele struktuur binne die samelewing. In teenstelling met konvensionele onderwys, neem outentieke Christelike onderwys Bybelse leringe en pas dit in alle vakke toe – wat ’n holistiese begrip van die lewe se doel en waardes bevorder. Die doelwit is om leerders intellektueel, liggaamlik en geestelik op te voed. Hierdie opvoeding begelei leerders sodat hulle God se doel vir hulle lewens ontdek, Christus as Verlosser aanneem en die toekomsplanne wat Hy vir hulle het (Ps 139:14-16) nastreef.
Geestelike leiding vir jou kinders
Opregte onderwys erken dat die Woord van God lewend en lewegewend is, dat dit individue deur die lewe se uitdagings en dilemmas lei. Die Bybel is die handleiding vir nie slegs insig in die wêreld om ons nie, maar ook in die aard van die mensdom en God se wonderlike plan van verlossing. Soos die psalmdigter in Psalm 119:11 verklaar: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” Die grootste geskenk wat ouers vir hulle kinders kan gee, is kennis van God se Woord en die wysheid om Bybelse beginsels in die alledaagse lewe toe te pas. Dít kan nie in ’n uur op Sondag of ’n paar minute voor slaaptyd gedoen word nie, dit moet doelbewus en konsekwent gekommunikeer word.
Om morele beginselvastheid te vestig
Een van die belangrikste resultate van opregte Christelike onderwys is om morele beginselvastheid in individue en in die samelewing te vorm. Opregte Christelike onderwys is die skans teen daardie agteruitgang en vestig waardes soos eerlikheid, deernis, nederigheid en respek vir ander. Deur die basis vir hierdie waardes en karaktereienskappe in leerders te lê, bou opregte Christlelike onderwys ’n grondslag vir etiese leierskap en verantwoordelike burgerskap.
Handleiding vir die lewe: Die Bybel
Net soos ’n handleiding instruksies verskaf vir die gebruik van ’n komplekse toestel, dien die Bybel as ’n handleiding vir die lewe. Opregte Christelike onderwys erken dat kinders met ’n handleiding kom – die Bybel – en hierdie handleiding behoort by elke faset van die lewe geïntegreer te word. Deur leerders ’n immersiewe ervaring in die Woord van God te gee, rus die opvoedingsproses die leerder met die wysheid toe om goeie besluite in die lewe te neem.
Akademiese uitnemendheid en integrasie van geloof
In teenstelling met wanopvattings, is opregte Christelike onderwys nié sinoniem met akademiese middelmatigheid nie. Dit handhaaf trouens akademiese dissipline terwyl dit terselfdertyd geloof integreer. Leerders presteer gewoonlik akademies, wat demonstreer dat geloof en om te leer mekaar nie uitsluit nie. Deur vakke aan Bybelse leringe te koppel, bekom leerders ’n dieper begrip van die wêreld en hulle plek daarin. Hierdie integrasie bevorder kritiese denke, kreatiwiteit en ’n omvattende benadering tot probleemoplossing.
Die rol van die kerk in onderwys: Neem standpunt in
Onderwys het in die kerk begin. Die pastoor was die onderwyser en die Bybel die handboek. Dit is die kerk en nie die staat nie wat die verantwoordelikheid het om die volgende geslag op te voed. Volgens Deuteronomium 6:4-9 berus hierdie verantwoordelikheid by die ouers en dien die kerk as fasiliteerder in samewerking met die ouer. Die kerk bied geestelike ondersteuning en leiding aan ouers en leerders.
Die tyd het aangebreek om op te staan
Opregte Christelike onderwys bied ’n geldige en transformerende vorm van onderwys, wat lewens en gemeenskappe beïnvloed. Daar is talle voorbeelde van skole wat suksesvol teen volle kapasiteit funksioneer met Christelike kurrikulums en wat erkende kwalifikasies bied, soos die Accelerated Christian Education- (ACE-)kurrikulum.
’n Oproep tot aksie
In die kompleksiteite van die moderne tyd, bly Christelike onderwys ’n baken van hoop wat ons herinner dat egte opvoeding nie net die verstand betrek nie, maar ook die hart en siel. Dit is ’n oproep tot aksie vir die kerk om op te tree en standpunt in te neem in onderwys, om te verseker dat toekomstige geslagte met ’n stewige fondament van geloof, waardes en akademiese uitnemendheid toegerus is. Met meer as 80% van Suid-Afrikaners wat beweer dat hulle Christene is, is daar geen rede waarom die volgende geslag aan onderwys waarin die waarheid van God se Woord ontbreek, blootgestel moet word nie. Dit is nou tyd om op te tree en iets daaromtrent te doen.
GRAHAM YOKO – HUB van Accelerated Education Enterprises (AEE). Hy is jare lank reeds in die wêreld van Christelike onderwys betrokke en het jare se ondervinding in die lewering van ’n verskeidenheid Bybelse en waardegebaseerde onderwysoplossings aan skole in Afrika.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 09/09/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.