Geskryf deur: Michael Swain
Ons het die voorreg om in ’n demokratiese samelewing te leef waar ons allerhande regte en vryhede geniet. Het jy egter al ooit gedink waar hierdie regte en voorregte vandaan kom? Ons beskawing, met al sy seëninge en voordele, is hoofsaaklik op Bybelse norme en waardes geskoei. Die gesinseenheid, respek vir menswaardigheid en die reg om ons geloof vrylik te deel en ons kinders volgens ons eie oortuigings en waardes groot te maak, het gelei tot die mees vrye, suksesvolle en voorspoedige samelewings wat die wêreld nog ooit gesien het.
’n Aanslag op waardes
Daar is nou ’n ernstige aanslag op baie van hierdie “norme”. Deesdae het baie so-genaamde “Westerse nasies” wat voorheen stoere kampvegters vir geloof en vryheid was, dramaties van hierdie grondslag wegbeweeg. In die Verenigde Koninkryk word straatpredikers en selfs mense wat stil in die openbaar bid, in hegtenis geneem. In Finland word ’n parlementslid, wat Bybelverse getwiet het in kritiek teen haar Lutherse kerk vir hulle ondersteuning van Pride-week, vir “haatspraak” verhoor. In Amerika was meer as 240 Rooms-Katolieke kerke reeds die teiken van brandstigting en vandalisme. In ons skole word ons kinders radikale, liberale seksuele ideologie geleer.
Ons rol as Christene
Talle Christene besef nie hoe belangrik die regte is wat ons ontvang het nie. Hulle versuim om by die huidige noodsaaklike sosiale en burgerlike kwessies betrokke te raak. Die Groot Opdrag beveel ons egter “gaan en maak dissipels van al die nasies” (Matt 28:19), wat beide ’n geestelike en ’n burgerlike toepassing het. Te veel mense is so ingestel op die geestelike dimensie van hulle geloof dat hulle geneutraliseer is in hulle rol as Bybelse burgers. Hulle vergeet: Hoewel hulle nie “van hierdie wêreld” is nie, is hulle steeds “in” die wêreld en het ’n noodsaaklike rol om te speel as die “sout en die lig” in die vorming en behoud van ons samelewing.
Staan op, krygers!
In die mens se geskiedenis is die stryd deurlopend oor wie oor die mensdom sal heers. Dit is die stryd van twee koninkryke, die heerskappy van die duisternis of die Koninkryk van die Seun. God gebruik Bybelse burgers as die agente om hierdie transformasie te bewerkstellig. Hulle is die manne en vroue wat Hom vertrou, volg en gehoorsaam; dié wat bemagtig deur die krag van sy Heilige Gees lewe, in watter area van die lewe ook al of rol en invloedsfeer wat God uniek aan hulle geskenk het.
PAstoor MICHAEL SWAIN – Medestigter van His People/Every Nation-kerke en -bedienings in Suid-Afrika.
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 10/09/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.