Deur FEBA Suid-Afrika
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die Invloedrykste Christen-radiostasie. Die Beste Geselsprogram. Die Beste Uitsaaier. In November 2023 het Far East Broadcasting Association (FEBA) Indonesië (ook bekend as YASKI) sy 54ste bestaansjaar en Radio Heartline se 25ste gevier deur verskeie toekennings te wen. Die stasie het die toekennings vir die Beste Geselsprogram en Gunsteling-uitsaaier by die Streeksuitsaaikommissie van Indonesië se toekenningsaand ontvang. Dit is ook uit meer as 120 ander radiostasies aangewys as een van die beste vyf kindervriendelike stasies en is deur PEWARNA (die Vereniging van Christen-joernaliste) as die invloedrykste Christen-radiostasie gekies.

FEBA Indonesië werk onverpoosd om die Goeie Nuus in Indonesië te verkondig. Een van hulle luisteraars getuig: “Ek het gereeld na julle programme begin luister nadat ek ’n kortgolfradio van julle ontvang het. Julle boodskappe het my diep geroer en ek het besluit om die Here te volg.”
“In die oë van buitelanders is Indonesiërs regtig vriendelik en verdraagsaam,” sê FEBA Indonesië se direkteur, Yoke Pribadi. “Die meeste mense hier weet egter nie wie hul Verlosser is nie. Ek glo die Here gebruik my deur FEBA Indonesië om die Woord te verkondig en gee my ’n geleentheid om by sy werk betrokke te wees.”

Uitdagings lei tot geleenthede
Indonesië, ook bekend vir sy tropiese skoonheid, stel ’n groot uitdaging aan evangeliste betreffende die land se geografie, taal en godsdiens. Die land het 17 508 eilande en is die wêreld se grootste eilandgroep wat ’n enkele staat vorm. Die bevolking van meer as 277 miljoen mense is oor 922 eilande versprei. Ongeveer die helfte van die bevolking woon in Java, wat dit die digbevolkste eiland ter wêreld maak. Talle dorpies is in woude en berge geleë, en is uiters moeilik bereikbaar. Bahasa is Indonesië se amptelike taal en word deur feitlik almal gepraat. Die land is ook die wêreld se grootste Moslem-meerderheid-nasie – ongeveer 87% van die mense volg Islam. Amptelik handhaaf die regering godsdiensvryheid, maar in werklikheid is Indonesië onder die top-50-lande van Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene die meeste vervolg word. FEBA Indonesië gaan egter onverskrokke voort. “Daar is uitdagings” sê direkteur Pribadi, “maar die uitdagings is wat ons volwasse laat word.” Heelwat van die uitdagings bied die span juis geleenthede om God se Woord te verkondig.

‘Onthou die gevangenes’
Indonesië se ligging en geografie maak dit ’n gewilde smokkelroete vir onwettige dwelms, al het die land van die strengste antidwelmwette ter wêreld. Prison Insider reken dat ongeveer 70% van Indonesië se gevangenes tronkstraf uitdien vir dwelmverwante oortredings. Die tronke is berug omdat dit so oorvol is en gevangenes lewe in haglike omstandighede. FEBA bereik gevangenes waar radio’s ook al toegelaat word. In Thailand het duisende gevangenes selfs FEBA se Bybelkorrespondensiekursus voltooi! Die afgelope Kersfees het FEBA Indonesië sekergemaak dat daar na gevangenes uitgereik word – dié wat Christene geword het asook ander – om hulle te troos en te bemoedig in ’n tyd wanneer hulle hul gesinne die meeste sou mis. FEBA het gereël dat plaaslike kerke in meer as 500 liggings hul naaste gevangenis besoek en ’n Kersdiens hou, om die gevangenes te herinner aan God se liefde en genade vir hulle.

‘Dra mekaar se laste’
Soos in die meeste lande, is armoede ’n probleem in Indonesië. Die vinnig groeiende ekonomie laat baie mense agter. Hier help die YASKI-stigting, FEBA Indonesië se humanitêre span, om God se liefde aan die armes, hulpeloses en die gemarginaliseerdes te demonstreer. Die span bestuur ’n beradingshulplyn, telefonies en ook per WhatsApp, sodat luisteraars gebedsversoeke kan stuur. Wanneer die span hoor van ’n luisteraar wat op die een of ander manier behoeftig is, reis hulle soontoe om binne hulle vermoë hulp aan te bied – soos huis skoonmaak, kruideniersware koop, selfs met bystand om skoolgeld te betaal. Hulle help slagoffers van natuurrampe, bedien vlugtelinge deur kospakkies en radio’s te verskaf, hou dienste vir straatkinders en dienste in hospitale vir geestesiekes. Voorts ondersteun YASKI honderde leraars in landelike gebiede, waar die armoede groot is. Hulle stuur geld vir kos en ondersoek maniere om die kerkleiers te help boer – byvoorbeeld deur hoenders te verskaf – sodat die leraars selfonderhoudend kan word. In ruil daarvoor moedig die leraars hul gemeentes aan om na FEBA Indonesië se radioprogramme te luister. Dit is slegs een voorbeeld van die manier waarop FEBA sy reikwydte uitbrei.

M.O.R.E. – samewerking is beter
Volgens World Radio Map het Indonesië meer as 1 900 radiostasies landswyd. FEBA Indonesië bestuur sewe van sy eie stasies – Radio Heartline is die hoofstasie – maar daar word met sowat 125 ander Christelike radiostasies saamgewerk as deel van die Mission Outreach Radio Expansion-projek (M.O.R.E.). “Ons gebed is dat ons sal kan uitbrei en die Evangelie landswyd verkondig sodat ons meer luisteraars kan bereik, terwyl ons koste en tyd bespaar in plaas daarvan om ons eie nuwe radiostasies te ontwikkel,” sê ’n FEBA Indonesië-spanlid.

‘Gee leiding aan ’n kind oor hoe hy moet leef’
Indonesië ervaar ’n toename in digitale mediaverslawing, veral onder kinders. Oormatige skermtyd vererger aandagafleibaarheid, wat dit vir die kinders moeilik maak om te konsentreer tydens tradisionele Sondagskoollesse. FEBA het ’n program ontwikkel om hierdie probleem op te los: Adventures in God’s Kingdom. Die program word van aangesig tot aangesig aangebied, maar is ook as video’s op YouTube beskikbaar en leer kinders om daagliks die Bybel op ’n sistematiese manier te lees. Onderwysers leer ook hoe om kinders te help om te fokus en stiltetyd met God te geniet. Volgens ’n onderwyser in Makassar is die kinders “entoesiasties om oor God se Woord te mediteer met die nuwe metode”. Die Adventure in God’s Kingdom-program het gegroei van 40 video’s wat in 2022 in skaars tien skole gebruik is, tot 480 video’s wat in 2023 met kinders by 28 liggings gedeel is. Die FEBA Indonesië-span reis na hierdie plekke om die kinders te ontmoet en hulle te leer hoe belangrik dit is om elke dag die Bybel te lees. In Suid-Sulawesi het dit so gewild geword dat dit binnekort by die skoolkurrikulum geïnkorporeer sal word.

VAT HANDE MET FEBA
Indien jy ’n skenking vir hierdie lewensveranderende projek wil maak, besoek asseblief ons webtuiste febaradio.co.za of skakel 012 335 5708

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 13/04/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here