Deur Geopende Deure SA
Artikelbron: JUIG! Tydskrif

Die gewelddadige vervolging van Christene in Indië bou aansienlike momentum op. Volgens Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys (WWL) vir 2024 is Indië tans die 11de gevaarlikste land ter wêreld vir volgelinge van Jesus.

Narendran* en Kavita*, ’n Christen-egpaar in hul veertigs, is onder die duisende gelowiges in Indië wat onmenslike vervolging moet trotseer weens hulle onwrikbare geloof in Christus. Tog hou hulle vas aan hul geloof en vertrou God om hul bediening te ondersteun.

’n Wonderbaarlike ingryping
Narendran, ’n voormalige Hindoe, verduidelik hoe hy ’n Christen geword het. “Ons gesin het van die Here gehoor nadat ons wonderbaarlike verlossing van ons probleme en siektes ervaar het. Ek het toe my lewe aan die Here oorgegee.”

Narendran het besluit om ’n bediening te begin en gevolglik het hy en Kavita begin werk om God se Koninkryk uit te bou en die Evangelie te verkondig. Hulle het ’n bamboesskuur vir kerkdienste gebou en gou het hulle getalle tot 40 gelowiges gegroei. Nie almal in die dorp het egter hulle dapper geloof verwelkom nie…


Narendran en Kavita het blywende nagevolge ervaar ná die gewelddadige aanval by hul kerk. Talle mense is nou te bang om dienste by te woon.

Skokkende voorvalle van vervolging
Die vervolging het tydens ’n Nuwejaarsdiens begin. Terwyl die gelowiges bymekaargekom het, het Narendran en Kavita ’n paar jongmense opgemerk wat die kerkterrein betree het, maar gedink hulle wou die diens bywoon. “Ná die diens was ons geskok om te sien dat die gelowiges se skoene wat buite gelaat is, almal stukkend gesny is deur die jongmense wat ons gesien het,” sê Narendran.

Ná hierdie vreemde gebeurtenis het die vervolging merkbaar toegeneem. Tydens ’n begrafnis is Narendran en ander gelowiges deur jong ekstremiste voorgekeer, wat vir hulle gesê het dat hulle nie ’n Christen-liggaam in die begraafplaas mag begrawe nie. Die ekstremiste het Narendran twee ure lank in die begraafplaas laat wag voordat hulle hom uiteindelik toegelaat het om met die begrafnis voort te gaan.

Gewelddadige aanval by gebedsbyeenkoms
Die ergste het egter nog voorgelê. Toe Narendran en Kavita saam met ander Christene vir ’n aand van gebed byeenkom, het ’n paar opgeskote seuns hulle by die kerkhek ingewag. “Ná die diens het hulle ons met skeltaal gedreig en my man begin aanrand,” sê Kavita.

Narendran onthou: “Hulle het my oë met die vuis geslaan, my hemp geskeur en my erg aangerand. Toe het hulle my vrou begin slaan totdat sy bewusteloos was.”

Ernstige beserings
Narendran het inwendige senuweeskade opgedoen en sy hele liggaam was vol beserings. Kavita is ook beseer. By die hospitaal is hulle aanvanklik behoorlike behandeling geweier omdat die ekstremiste die dokters beïnvloed het. Eers nadat ander pastore en ’n prokureur druk op die dokters uitgeoefen het, het die twee die nodige mediese sorg ontvang.

’n Helpende hand
Terwyl Narendran en Kavita in die hospitaal was, het plaaslike vennote van Geopende Deure besoek afgelê om saam met hulle te bid en hulle te bemoedig. Danksy die geskenke en gebede van ondersteuners regoor die wêreld kon hulle praktiese hulp en kruideniersware aan die egpaar verskaf. Hulle het ook vir hulle ’n naaldwerkmasjien gekoop, wat die egpaar in staat gestel het om ’n kleremaakwinkel te open vir ’n ekstra inkomste. Ondanks die voortdurende uitdagings, is Narendran en Kavita vasbeslote om naby aan die Here te bly en nie toe te laat dat enigiets hulle van hul roeping vervreem nie. “Ons het gedink dat ons nie met die bediening kan voortgaan nie, maar die Here het ons versterk deur sy Woord, wat sê: ‘Moenie bang wees nie, want Ek is met jou,’” sê Kavita.
Besoek opendoors.org.za om die vervolgde Kerk te help versterk sodat hulle die Koninkryk van God kan uitbrei.

Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.


> Ondersteun asseblief Christen-media en -joernalistiek in Suid-Afrika. Help ons om die Woord van God te verkondig en standpunt in te neem vir die waarheid deur ’n skenking aan ons bediening te maak. Ons waardeer jou ondersteuning. Klik hier om hande te vat met JUIG! Tydskrif.


Datum gepubliseer: 14/04/2024
Foto’s verskaf

VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here