Artikelbron verskaf deur eerw. J. John
George Verwer, die man wat Operasie Mobilisasie (OM) begin het en meer as 40 jaar lank aan die stuur daarvan was, is op 14 April 2023 op die ouderdom van 84 oorlede.
Hy het sy lewe gewy aan die wêreldwye verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus. OM het ’n verstommende uitwerking gehad in sy taak om Christene toe te rus om hulle geloof met selfvertroue en vrymoedigheid te deel.
Verwer, gebore in New Jersey in 1938, het as 16-jarige tot bekering gekom deur die invloed van ’n biddende buurman en ’n Evangelie-uitdaging van Billy Graham. Die jong Verwer se eerste sendingreis was na Meksiko waar hy ander van Christus vertel en Christelike lektuur versprei het.
Hy het by die Moody Bible Institute gaan studeer en sy lewenslange lewensmaat, Drena Knecht, daar ontmoet. Namate sy sendingondernemings na Spanje, die Kommunistiese Blok en die Moslem-wêreld uitgebrei het, het George, met sy verstommende vermoë om ander te motiveer en te lei, OM gestig. OM se evangelisasieprogramme het spoedig honderde en toe duisende getrek.
In 1964 het Verwer die idee gekry om skepe te gebruik om lande te besoek om “kennis, hulp en hoop” met ander te deel. Die resultaat was baie jare van vrugbare bediening met ’n reeks vaartuie wat mekaar opgevolg het. Die mees onlangse vaartuig is die Logos Hope.
Verwer se invloed het uitgebrei danksy die Here se seën op sy prediking, as gasspreker by konferensies, sy boeke wat reguit en op die man af is, en ’n teenwoordigheid op die internet.
Hoewel hy sy rol as die beeld van OM ernstig opgeneem het, het hy ’n dwingende en soms verregaande eerlikheid gehad. Ek het George op een van my “Facing the Canon”-onderhoude gehad (youtu.be/-7lRP3YnDVU) en ek kan eerlik sê dit was een van die mees onvoorspelbare onderhoude wat ek nog gehad het!
Kyk hier na die onderhoud
Bowenal was Verwer vurig oor sending en hy het Christene voorberei, gemotiveer en gemobiliseer vir sending. Hy het alles wat hy gehad het aan die taak gewy, was ‘n motiveerder vir sending en het dit so maklik moontlik gemaak vir mense om sendelinge te word.
In ’n tyd toe sending al hoe meer geprofessionaliseer geword het, het Verwer die deure vir gewone Christene oopgegooi om sendelinge te wees.
Daar sal baie lof aan George Verwer toegeswaai word, maar bowe al hoor ek George se eie stem wat dié van Paulus herhaal. “Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg.” – 1 Korintiërs 11:1:
George Verwer se invloed en uitwerking in die kerk wêreldwyd sal nie vergeet word nie.
Lees die volledige huldeblyk by joynews.co.za
Klik hier om OP HOOGTE van die nuus te bly deur op ons GRATIS weeklikse nuusbrief in te teken.
Datum gepubliseer: 18/04/2023
VRYWARING
JUIG! Nuus is ’n Christen-nuusportaal wat vooraf gepubliseerde artikels deur skrywers van oral in die wêreld beskikbaar stel. Die skakel en oorspronklike bron van elke artikel word verskaf en die skrywer van elke artikel word ook aangedui (waar moontlik). Hoewel ons ook baie van ons eie artikels publiseer wat deur JUIG! se eie joernaliste geskryf is, skep ons nie uitsluitlik ons eie inhoud nie. Enige sienings of menings wat op hierdie webtuiste verskyn, is uitsluitlik dié van die skrywer en verteenwoordig nie noodwendig dié van die maatskappy nie.